Gys Pitzer se bloed is poublou

Gys Pitzer se handelsmerk pryk op die Griekwas-rugbytruie se krae en onder die spelers se nommers. (Foto: Carling Currie Cup Twitter)

Dit is ʼn uitdaging vir die kleiner rugby-unies om borgskappe te kry, maar Arni van Rooyen, uitvoerende hoof van Windhoek Draught Griekwas, het syne vir die volgende paar jaar stewig vasgemaak.

Een van sy borge is Gys Pitzer Motors, wat die spasie op die rugbytruie se krae en onder die spelers se nommers gekoop het, maar Van Rooyen sê by sy unie verwys hulle eerder na ʼn vennootskap in plaas van ʼn borgskap, “want beide partye moet iets hieruit wen”, het hy aan Maroela Media gesê.

Hoewel Griekwas ʼn “kleinpaviljoenspan” is, kos dit steeds ʼn astronomiese hoeveelheid geld om die boeke te laat klop. “Die reis en verblyf is maklik R2,5 miljoen tot R3 miljoen per jaar en die begroting vir die spelers se kontrakte was rondom R15 miljoen,” sê hy.

“Die meeste spelers se kontrakte is darem vir die volgende drie jaar vas, want ons beplan om die Curriebeker te wen en weer te wen.”

Griekwas se administrasiespan bestaan uit vyf mense wat voltyds werk en dan is daar drie afrigters, een fisioterapeut, een biokinetikus, een spanbestuurder en een videograaf. Van Rooyen sê dit is omtrent ʼn derde van die groter unies se korps, wat maklik 20 personeellede het om dieselfde werk te doen.

Hy sê gelukkig tel die verkope van Griekwas-handelswaarde darem nou mooi op ná die pandemie.

 

Arni van Rooyen is die uitvoerende hoof van die Windhoek Draught Griekwaland-Wes Rugby-unie (Foto: Griekwas Facebook)

 

 Rugbygeskiedenis is gemaak

Verlede Saterdag is Suid-Afrikaanse rugby op sy kop gekeer toe die Carling Curriebeker se twee kleinste unies vir twee van die grootstes in die halfeindstryde op hul tuisvelde pakslae gegee het. Die Airlink Pumas het die Toyota Cheetahs in Bloemfontein met 38-35 gewen en die Vodacom Bulls het op Loftus met 30-19 teen Windhoek Draught Griekwas verloor.

Wat hierdie prestasie nog meer besonders maak is dat die Pumas nog nooit in die eindstryd was nie en die laaste keer wat Griekwas die Curriebeker kon wen, of selfs na die eindstryd kon deurdring, was 52 jaar gelede.

Van Rooyen is nou al 12 jaar aan die stuur van sake en hoewel die uitslag verlede Saterdag vir baie mense ʼn groot verrassing was het hy dit verwag, omdat hy vanjaar ʼn baie sterk span en ʼn goeie afrigtingstruktuur het. Daarbenewens het Griekwas die afgelope aantal jare ʼn paar goeie lopies gehad.

Op ʼn vraag waarom hy Gys Pitzer Motors, wat met drie takke in Pretoria baie ver van Kimberley af is, vir ʼn vennootskap gekontak het, sê Van Rooyen buiten dat hy Pitzer jr. al jare ken en saam en teen hom rugby gespeel het (Van Rooyen het ook vir die Blou Bulle en Pumas uitgedraf), is Gys Pitzer Motors inderwaarheid ʼn landwye handelsmerk.

“Almal met wie ek al gepraat het, het nog net goeie goed van Gys Pitzer Motors te sê gehad en omdat hy voertuie regoor die land koop en verkoop, is dit eintlik ʼn nasionale maatskappy.”

 

Jammer pa!

Pitzer was hoorbaar opgewonde oor Saterdag se wedstryd toe Maroela Media met hom op die foon gesels het.

“Ek het glad nie verwag dat Griekwas na die eindstryd sou deurdring nie. Hierdie is nou ʼn geval waar die kleiner outjies, wat min geld kry, hul harte uitgespeel het, maar aan die anderkant, as jou bestuur en afrigters nie reg is nie, gebeur sulke dinge nie. Jy kan die beste borge hê, maar as dit nie goed gaan nie is dit die bestuur se skuld.”

Soos sy pa wat destyds ʼn Springbok was en vir Noord-Transvaal uitgedraf het, het Pitzer jr, ook op sy dag vir die Valke en Blou Bulle uitgedraf.

Daar is egter ʼn snaakse ironie tussen pa en seun rondom hierdie borgkontrak met die Griekwas.

“My pa het in 1970, toe Griekwas vir die eerste keer die Curriebeker gewen het, saam met groot manne soos Frik du Preez en Mof Myburgh teen hulle verloor en vanjaar het ek die voorreg om hulle in die eindstryd te borg.”

Dit was drie jaar voor sy geboorte.

 

Gys Pitzer en sy vrou Anneh. (Foto: Facebook)

 

Baie myle se blootstelling

Pitzer sê dit was egter een van die beste dinge wat hy kon doen om hierdie vennootskap met Griekwas aan te gaan.

“Ons het vir Griekwas ʼn bus gegee waarmee hulle toer en ons kry verskriklik baie myle hieruit. Ek is regtig opgewonde om deel te wees van hierdie gebeurtenis.”

Hy sê hy gaan Saterdag self deurry Kimberley toe om met die manne blad te skud.

“Ons het 500 pette en 300 T-hemde gedruk wat ons gaan uitdeel en dan wil ons ook 200 rugbyballe vir die toeskouers uitskop. Vir die meisies het ons 100 netbalballe wat ons gaan uitdeel.”

Pitzer se boodskap aan Griekwas is kort en kragtig: Geniet dit en wen!

Die kaartjieverkope vir Saterdag lyk uitstekend en net soos die res van die rugbyliefhebbers wat graag die wedstryd regstreeks wil sien, hoop Van Rooyen inniglik dat die laaste Covid-19-inperkingsreëls gelig sal word voordat die groot dag aanbreek.

 

Hoëgehalte motors

Gys Pitzer-motors is nie ʼn gewone handelaar nie. “Ons het ʼn streng beleid en by elkeen van ons drie takke in Pretoria het ons ʼn eie werkswinkel en doen Dekra- voor- en na-inspeksies. Elke voertuig kom met ʼn ses maande waarborg en ons lewer landwyd af. Ons koop ook motors oor ʼn wye gebied aan en is bereid om enige handelsmerk te verhandel.”

Maroela Media se span is bevoorreg om met twee Gys Pitzer-gemerkte Toyota Etios-motors die wêreld agter stories aan plat te ry. Lesers kan gerus op die uitkyk vir ons wees.

 

Andries Joubert, Gys Pitzer-motors se verkoopsbestuurder van die Silver Lakes-tak; Colette Schultz, digitale bemarker van Maroela Media; Gys Pitzer, eienaar van Gys Pitzer-motors en Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, is baie opgewonde oor die voertuie waarmee Maroela Media kan rondry (Foto: Gys Pitzer-motors)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.