Halfmiljoenrand se gehoorapparate verander lewens

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

ʼn Plaaslike maatskappy, Hearing Systems, het in samewerking met die vakbond, Solidariteit, verskeie gehoorgestremdes se lewe verander met nuwe gehoorapparate.

Die projek is vandag geloods en behels die verspreiding van ʼn halfmiljoenrand se gehoorapparate.

Inge Strydom, woordvoerder van Solidariteit, verduidelik dat die projek Solidariteit om verskeie redes na aan die hart lê. “Eerstens is die welstand en gesondheid van ons lede vir ons van kardinale belang. Tweedens stel die apparate ons lede in staat om weer tot die arbeidsmark toe te tree. Die meeste van die lede is weens hul gehoorgestremdheid werkloos en het ook geen mediese fonds nie.  As werknemersorganisasie is dit dus vir ons ʼn voorreg om hulle in staat te stel om weer ekonomies aktief te raak,” het Strydom gesê.

Die eerste groep behoeftiges het reeds hul gehoorapparate ontvang en ʼn gratis opvolgondersoek deur ʼn oudioloog van Hearing Impact, is ingesluit. Strydom verduidelik dat kanidate deur middel van behoeftebepaling geidentifiseer is. “Om iets soos ʼn gehoorapparaat te ontvang, behels ʼn proses van onder meer gehoortoetse en passings om te verseker dat elke persoon ʼn apparaat wat aan sy of haar unieke behoeftes voldoen, ontvang,” het sy gesê.

Pieter Coetzee, hoofbeampte van Impact Hearing Systems, sê dit is vir die maatskappy ʼn voorreg om aan iemand wat dit nie finansieel kan bekostig nie, ʼn gehoorapparaat te gee. “ʼn Mens besef nie aldag hoe afhanklik jy van jou gehoor is nie. By Impact Hearing Systems sien ons daagliks hoe ingrypend gehoorgestremdheid ʼn persoon se lewe kan verander en daarom is ons bly om hierdie mense te kan help,” het hy gesê.

Elfrieda Weitsz (50) het sedert die ouderdom van 15 gehoorprobleme ondervind, maar sy het eers sowat 10 jaar gelede agtergekom dat daar iets met haar gehoor skort. Sy vertel dat sy oorstelp van vreugde was toe sy uitgevind het dat Solidariteit en Impact Hearing ʼn gehoorstuk aan haar wil skenk. “Hierdie gehoorapparaat gaan my hele lewe verander. Ek sien die meeste daarna uit om weer aan gesprekke te kan deelneem,” verduidelik sy.

Annatjie Buys (56) is al vir meer as 30 jaar gehoorgestremd. Sy sê sy het die Here gevra om haar gehoor te herstel en meen haar gebede is nou verhoor. “Ek werk elke dag met gestremde mense en sien daarna uit om nou beter te kan hoor as hulle met my praat of my iets vra. Daarby leer ek ook om ʼn pastoor te word. Goeie gehoor is dus noodsaaklik in my beroep en dit sal my beter in staat stel om ander mense te help,” het sy gesê.

Strydom het namens Solidariteit haar dankbaarheid teenoor Impact Hearing Systems uitgespreek. “Hierdie gehoorapparate is werklik ʼn belegging in mense se lewensgehalte en toekoms. Al die lede is geweldig opgewonde oor die vooruitsig om ná jare van gehoorgestremdheid weer te kan hoor,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

suna ·

Goeie dag, wil net uitvind waar ons kan aansoek doen vir my man vir a gehoorapperaat, het nie medies nie en dis onbekstigbaar duur. Sal jul hulp so wardeer, baie dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.