Handwerk en kunswerk uitgestal

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Sowat tagtig vroue met vlytige vingers het verlede naweek in Lyttelton bymekaar gekom om hul werk van die afgelope jaar uit te stal en die jaar op ʼn hoë noot af te sluit.

Vier plaaslike kerke in Centurion bied weekliks vir die vroue hulp en onderrig aan, met die hulp van vrywilligers, by die NG Kerk Doornkloof, Lyttelton Moedergemeente se Lebonè-groep, Monumentpark-Wes, kerksondermure se Tabitha Handwerkprojek en vir vroue wat van Ebony Park en Ivory Park se Borkas-groep kom.

CMR Lyttelton se kantoor ondersteun jaarliks hierdie projekte en die vroue van alle kultuurgroepe kuier saam terwyl hulle sommer ook nog ʼn nuwe vaardigheid aanleer, wat dié keer gebaseer was op die dag se tema van “vroue is kosbaarder”. Elkeen het met naald en gare en stukkies lap, klippies en albasters, haar eie kunstige halssnoer gemaak.

Om na die handsakke, klere en selfs skilderye te kyk wat trots uitgestal is, gee ʼn mens ʼn warm gevoel om die hart, omdat daar baie mense is wat nie ydel sit en wag vir ander om te voorsien nie. Hierdie vroue gebruik die geleenthede wat deur die kerke aangebied word, om te leer om artikels te maak wat hulle kan verkoop. Sommiges maak hul eie klere – en nie sommer alledaagse klere nie, ook treffende mode-uitrustings wat die koppe laat draai.

Een van die Tabitha-vroue vertel: “Ek het alles wat ek van naaldwerk weet, by Tabitha geleer. Die vroue help ons by die kerk, waar ons elke week klas bywoon. Ons maak handsakke, onderbaadjies en rompies vir dogtertjies. En vandag leer ons om halssnoere te maak. Dit maak mens sommer met die hand en enigeen kan dit doen. Ek kan sommer kersgeskenke so maak.”

Nog ʼn vlytige vrou van Doornkloof, Sylvia, se hande staan letterlik vir niks verkeerd nie. Sy vertel trots dat sy handsakke, klere en kussings maak – en dan nog skilder ook!

Die kore van die onderskeie groepe het die oggend gesing  en almal het heerlik saamgesing en later saam middagete geniet.

CMR Lyttelton se Ronette Cloete verduidelik dat ondersteuning aan die projekte al jare lank geskied, aangesien dit vroue bemagtig en maatskaplik ondersteun. “Ons lewer diens met deernis en om vroue te bemagtig is deel hiervan. Dit gaan lankal al nie meer net daaroor om iemand iets in die hand te stop en weg te stap nie. Vroue van alle kultuurgroepe vat hande en werk saam om mekaar op te help en te ondersteun. En gemoedelikheid en saamkuier… wel, die oggend was getuienis dat daar altyd hoop is en dat die liefde vir mekaar wat Jesus vir ons kom leer het, aktief aan die werk is.”

CMR, wat hierdie jaar 35 jaar oud is, lewer dienste aan individue, groepe en gemeenskappe.  Die organisasie fokus op kinder- en gesinsorgdienste, middelafhanklikheid en ekonomiese bemagtiging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Annetjie Schooling ·

Ek dink dit is n wonderlike projek.
Ek wens net daar was kontak persone vir elke groep, sodat n mens donasies van materiaal en nogwat kon doen.

Eliza-beth ·

Annetjie ek stem – as mens dalk die plekke google vir tel nos kan mens by dit uitkom of hoe dink jy? Ek gaan bietjie kyk, mens het altyd stukkies lap en wol en dinge wat net stof vergader. Wat vir my treffend is, is die 4e paragraaf se eerste sin. Hulle sit nie en wag maar DOEN iets! Baie mense kan daaruit leer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.