Harmoniepark: Jy kan help hoop bring

Harmoniepark se inwoners ontvang broodjies vir ontbyt. (Foto: Verskaf.)

Met slegs ʼn Sassa-pensioen om van te lewe, of selfs minder, is bejaardes en die tehuise waar hulle woon besonder hard getref deur die Covid-19-pandemie en gepaardgaande afsonderingtyd. Dit is die geval by Harmoniepark in Sunnyside in Pretoria waar meer as 300 ouer persone in selfsorg-, semi-sorg- en volsorgfasiliteite woon.

Marié Pienaar is ʼn dekade lank al die bestuurder van Harmoniepark. Sy vertel dat die inwoners tans net die perseel vir noodsaaklike doktersafsprake en vir noodsaaklike aankope verlaat. Slegs noodinstandhouding word gedoen en voedselverskaffers moet buite die geboue aflewer.

“Ons wagte werk hulle gedaan met die indra van pakkies vir inwoners omdat besoekers nie toegelaat word nie. Ons gee ook tans vir die sekuriteitspersoneel, versorgers en skoonmakers etes op die perseel om beweging buite die perseel te beperk,” sê Pienaar.

Die etes wat bedien word, is hoofsaaklik te danke aan donasies. Die inwoners kry ʼn basiese ontbyt en ʼn ekonomiese middagete. As daar ekstra voedselskenkings is, kry hulle kospakkies vir aandete, anders moet die inwoners self sorg.

Solidariteit se krisisfonds help om kos op Harmoniepark se tafels te hou, sodat die inwoners tans ook ʼn aandete van sop en brood kan kry. Die fonds het ook ontsmettingsmiddels geskenk, sodat die botteltjies by sleutelpunte op die perseel gereeld volgemaak kan word en almal sodoende veilig gehou word.

Benette Rautenbach is die projekorganiseerder vir bejaardeprojekte by Helpende Hand en stap al sedert 2018 ʼn pad met Harmoniepark. “Tydens die grendeltyd kon ons met ʼn bakkery reël om weekliks 70 brode te skenk, en ons het ook van tyd tot tyd vars produkte soos avokado’s en naartjies daar gaan aflewer,” sê sy.

Hoewel die toename in voedselpryse ʼn bekommernis vir Harmoniepark se bestuur is, is hul grootste bekommernis tans die drastiese verhogings in hul elektrisiteitsrekening. Pienaar vertel dat hul kragrekening skielik sommer meer as R200 000 vir hierdie maand is, byna dubbel wat dit ander maande is. Bowendien het handskoene se pryse verdubbel, iets wat die personeel nou meer as gewoonlik gebruik om ekstra versigtig te wees. Die klere wat benodig word sou iemand geïsoleer moet word, is ook ongelooflik duur.

Harmoniepark se inwoners en personeel hou hulle eie prettige maskerdag. (Foto: Verskaf.)

Tog is daar ligpunte in hierdie donker tyd. “Ons het ʼn 96-jarige inwoner gehad wat na ʼn tuiste in ʼn ander provinsie, nader aan haar kinders, moes skuif. Sy moes vir Covid-19 getoets word en het positief getoets, hoewel sy geen simptome gehad het nie en ook nie gekry nie. Dit was ʼn ongelooflike spanningsvolle tydperk vir ons almal op die perseel. Maar dit was net so ongelooflik spesiaal toe ons vir haar onder in die portaal kon sing toe sy verlede week vertrek het. Dit het almal se gemoed gelig om te sien dat, danksy die Here se genade en goeie sorg, niemand in dié tydperk siek geword het nie en sy dit ook oorleef het.”

Die ondersteuning wat Harmoniepark van donateurs, sy bestuursraad en families in die grendeltyd ontvang help so baie, voeg sy by.

“Ons het ʼn donateur wat reël dat iemand ʼn verjaardagkoek bring vir inwoners wat 90 jaar en ouer word. In dié tyd het tannie Essie Grobler 101 jaar oud geword en tannie Linka Bisschoff 102 jaar. Dit is so spesiaal as inwoners ná so ʼn funksie kom dankie sê, en sommer ook net om te sien hoe lekker hulle nog kan lag.”

Om die gemoedere hoog te hou het die tehuis ʼn maskerkompetisie geloods, asook ʼn skryf- en tekenkompetisie, waaraan die inwoners entoesiasties deelgeneem het. “Ons maatskaplike werker het nou weer met die weeklikse oefengroepie begin. Die mense lag en gesels so lekker tussen die aktiwiteite deur. Dit is inspirerend om te sien dat tannie Essie ook nog ʼn bal met ʼn noedel kan raakslaan. Dit alles maak dit vir ons die moeite werd om op te staan en werk toe te kom.”

Met hul wonderlike personeelkorps hou Harmoniepark se mense hul koppe omhoog, ten spyte van al die uitdagings en onsekerhede. “Dit gee ʼn mens hoendervleis om te hoor as ons versorgingspersoneel elke oggend saam sing en bid vir ons inwoners en vir die fasiliteit. Ons is almal saam bang oor die onbekende, maar werk ook saam om dit wat binne ons vermoë is te doen om almal op die perseel veilig te hou.”

Vir Rautenbach is dit wonderlik wanneer ʼn mens netwerkvennote bymekaar kan kry om ʼn groter verskil te maak. “Dis lekker om die toutjies te trek en op so manier ook in die bejaardes se behoeftes te kan voldoen. Hulle is dankbaar vir elke gaatjie wat gestop kan word, of dit nou ʼn honger maag, ʼn handreiniger of net ʼn bemoedigende woord is – wat weer ʼn emosionele leemte vul. Dis lekker om ʼn hoopdraer te wees, veral in onsekere tye soos hierdie,” sê sy.

  • As jy ook ʼn hoopdraer wil wees, maak ʼn skenking aan Solidariteit se krisisfonds. Die publiek kan skenkings maak aan die Solidariteit Beweging se noodfonds om hierdie projek te ondersteun by helpendehand.co.za of by www.krisisfonds.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elize ·

Dit is altyd so hartseer om die ou mense so te sien. My vraag is altyd – is dit te veel gevra van hulle kinders om vir hulle op hierdie rype ouderdom te sorg eerder as om hulle in ‘n ouetehuis te prop. Ek weet dit is nie altyd moontlik nie maar is daar tog kinders wat na hulle kan omsien. Dit is waar wat gesê word – een ouer kan na 5 kinders kyk maar 5 kinders kan nie na een ouer kyk nie. Ek vra die Vader gereeld om my asseblief dit te spaar en my eerder te kom haal. Nie vêr van hierdie ouderdom af nie en is dit vir my ‘n geweldige vrees dat ek ook so in ‘n ouetehuis geprop sal word :(

koos10 ·

Elize, daar is baie ouer mense wat nie kinders het nie, dan is daar ook kinders wat niks het nie.
Verander asb jou siening oor in ‘n ouetehuis ingeprop word. My ma is 81 en bly in ‘n staats oord. My pa het ons so 4 jaar terug ontval, maar hy het vas geskop soos min om daar in te trek, hy het egter na so 6 maande gesê dit was een van die beste besluite waarin sy kinders hom “ingedwing” het. Hulle het elke dag mense om hulle van hulle ouderdom, so geselsies en skinder is baie volop. DIe geld is nie daar waar hulle bly nie, maar almal is baie gelukkig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.