Harte geroer met projek ná Spar afbrand

Personeel help Albert Lithuli School se vensters was. (Foto: Facebook via Superspar Bela-Bela)

Die Superspar in Bela-Bela in Limpopo moes in September sy deure sluit ná ʼn erge brand die winkel binne byna heeltemal verwoes het. Die eienaar van die Spar, Carel Coetzee, het egter besluit om die tragedie in iets positiefs te omskep.

Eerder as om die 178 werknemers, van wie sommige al 17 jaar lank vir dié winkel werk, werkloos te laat, het Coetzee besluit om aan te hou om sy werknemers te betaal in ruil vir gemeenskapswerk wat hulle doen.

Volgens inligting op die Superspar se amptelike Facebook-blad het Coetzee die I am Spar-projek begin wat daarop fokus om die gemeenskap te dien terwyl die Spar herbou word. Volgens mediaberigte het werknemers op 2 Oktober begin om dienste in Bela-Bela en die omliggende nedersettings te verrig.

Personeel help by D.J. Thema Nyaope Rehabilitasiesentrum. (Foto: Facebook via Superspar Bela-Bela)

“Sedertdien het werknemers meer as 30 000 uur gemeenskapsdiens gedoen,” het die Spar op Facebook laat hoor.

Coetzee het vroeër aan Die Pos gesê dat die groep vir die volgende paar maande 30 uur per week diens in die Bela-Bela-gemeenskap sal verrig. Hulle het tot dusver al skole geverf, kerke gebou, skoolkinders met huiswerk gehelp, ʼn hand bygesit by ʼn rehabilitasiesentrum, groentetuine vir behoeftige gemeenskappe aangelê en nog baie meer.

Verskeie sosialemediagebruikers het die Spar-span geloof vir die goeie werk wat hulle doen. Een sosiale gebruiker het op Facebook gesê: “Julle doen ʼn fantastiese werk met nederigheid. Ons waardeer julle as ʼn gemeenskap.” ʼn Ander een het gesê: “Aan die Spar-eienaar, jy is die tipe mens en leier wat in ons gemeenskap nodig is. In plaas daarvan om mense te laat gaan, het jy ʼn manier gekry om hulle op ʼn behulpsame wyse in te span. Jy is ʼn mens wat ons ondersteuning verdien.”

Bela-Bela Superspar het gesê hulle het nog ʼn lang pad van herstel voordat hulle weer hul deure kan oopmaak, maar dat hulle hulself “toewy aan gemeenskapsdiens” tot dan.

Coetzee wou nie aan Maroela Media kommentaar lewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Gerda Erasmus ·

Dit is nou ‘n goeie werkgewer wat omgee vir sy personeel.

Gatvol ·

“Give that man a Bell’s”, sommer ‘n drie dubbelle een. Fantastiese gebaar!!

Penellope Jones ·

Dis nou iets goed doen as gevolg van moeilike omstandighede.

Ms Zee ·

Een van Spar Bela Bela se wernemers, n pragtige mensie Corne, help die bejaardes by Warmbad Rusoord. Sy glimlag altyd en het diep in almal se harte gekruip. Welgedaan, Carel Coetzee, jy is n voorbeeld vir ander. Mag jou besigheid geseend wees in die toekoms!

Luister ·

Pragtige en goeie nuus. Dit is mos nou hoe mens ‘n land, en volk bou!
Piet Snollie, loop lees jy maar die slegte nuus, terwyl jy bolle rol.

Muffin ·

Pragtige idee. Nou get almal nog kos op die tadel wat punte tel. Ek hou baie van Spar en Tops wat gepaard gaan. Ongelukkig het Spar in ons dorp sy deure gesluit en verkoop aan n ander winkelgroep wat onbelostgbaar is.

Pop ·

Hierdie man gaan soveel seën ontvang dat hy nie gaan weet wat om met dit alles te doen nie. Sy hande is oop om ander te help. Mnr coetzee jy is wat mens n man noem.

martin cilliers ·

supernuus hierdie coetzee man vir ons land se negatiewe media mooi so!!!!!!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.