Hartontvanger al 25 jaar lank ‘dankbaar vir elke ekstra dag’

Deur Annelu le Roux

Albertus Scholtz. Foto: Verskaf

“Die foon lui en dan wonder jy of dít die oproep is.”

Ná twee maande se angstige wag, kry hy die lewensveranderende oproep dat hy uiteindelik ʼn nuwe hart gaan kry. Dis 22 Junie 1993 en in die vroeë oggendure word Albertus Scholtz opgeneem in die teater in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad, reg vir sy tweede kans.

Vandag, 25 jaar later, vertel Scholtz (73) hy is “elke dag dankbaar vir die ekstra dag” wat hy bykry.

Scholtz was ʼn sieklike kind met ʼn eindelose stryd teen hoë bloeddruk en sy gesondheid het radikaal afgeneem van die ouderdom van 14 toe hy gediagnoseer is met rumatiekkoors. Sedertdien het hy vyf hartaanvalle oorleef, waarna hy in 1991 ʼn driedubbele hartomleidingsoperasie ondergaan het. Ná nóg twee hartaanvalle het dokters besluit – nou’s dit tyd vir ʼn hartoorplanting.

Scholtz het alleen van Johannesburg na Kaapstad gereis om naby die hospitaal te wees en daar het hy by Kosie en Freda Jordaan, vreemdelinge wat hom in hulle huis verwelkom het, vir twee maande gebly. “Ons kon nie Kaap toe verhuis nie, want my vrou het gewerk en my seun was in daardie stadium in die destydse standerd 9. Dit was ʼn spanningsvolle tyd,” vertel hy.

Terwyl hy gewag het om ʼn nuwe hart en tweede lewe te ontvang, het Scholtz positief gebly en elke dag rustig gevat. “Die onsekerheid is ongetwyfeld iets wat aan jou knaag. Jy weet nie wat gaan gebeur nie. Die foon lui en dan wonder jy of dit dié oproep is.”

In die Sondagoggenddiens op 20 Junie 1993 het past. Nico Botha die gemeente gevra om vir Scholtz te bid. Die Maandagaand kry hy die oproep – daar is ʼn skenker. Scholtz sê hy onthou sy ekstase en geesdrif met hierdie lewensveranderende oproep en beskryf dit as om so opgewonde te wees soos “vir ʼn Sondagskoolpiekniek”.

Albertus en Jeannie Scholtz. Foto: Verskaf

“Ek kon nie wag om in te gaan nie. Ek het geen vrees gehad nie, net ʼn geweldige vertroue in die Here. Ek het sommer geweet dit sal goed gaan.”

En daardie Dinsdag om 23:00 word hy wakker, splinternuut en min wetend dat sy nuwe hart vir meer as 25 jaar sal klop. Maar dit is nie net die hart wat al die harde werk moes doen nie. Scholtz het die volgende oggend opgestaan en dadelik begin beweeg. Ondanks die uitdaging van die skokterapie vir sy nuwe hart wat geweldig sterk was en gesukkel het om by die swak liggaam aan te pas, het Scholtz sy oefeninge gedoen en positief gebly. “Dit is ʼn verskil soos dag en nag. Ek kon my dit moeilik indink om in ʼn gesonde liggaam te lewe. Maar ek het baie goeie gesondheid gehad daarna.”

Scholtz het nooit probeer kontak maak met sy skenker se familie nie omdat dokters aanbeveel dat dit nie ideaal is nie. Albei partye ervaar geweldige spanning in só ʼn tyd en daarom word daar meestal in sulke gevalle anonimiteit gehandhaaf.

Scholtz sê hy is net dankbaar dat een mens sy lewe kon red met ʼn nuwe hart. Al die pyn, kragteloosheid en tamheid het verdwyn, en dít maak die wêreld se verskil.

Jeannie, sy vrou, en Ignatius, sy seun, is Scholtz se steunpilare wat hom al jare lank regdeur sy verswakkende gesondheid ondersteun. “Wanneer mense siek is, dan is al die aandag op die siek persoon. Maar diegene wat aan die ander kant staan, soos my vrou en my seun, het dit geweldig moeilik gehad. Hulle sien jou, en eintlik kan hulle niks doen nie.” Scholtz en Jeannie stap al hierdie pad vir meer as 43 geesdriftige jare saam en ná die operasie het hulle “aangepas en vorentoe gegaan”.

Albertus Scholtz saam met sy vrou, Jeannie, sy seun, Ignatius, en sy skoondogter, Anastasia. Foto: Verskaf

Nadat sy gesondheid drasties verbeter het ná die hartoorplanting is hy die lewende toonbeeld van iemand wat die lewe voluit leef. Hy is ook ʼn ambassadeur vir die wonderdaad van orgaanskenking en moedig enigiemand aan om ʼn orgaanskenker te wees. “Ek dink net, mense besef dit nie. Orgaanskenking is so belangrik. Jy maak so ʼn hengse verskil in mense se lewe. Ek het ʼn gehaltelewe selfs 25 jaar ná die oorplanting.”

Scholtz beklemtoon een mens kan talle ander se lewe red deur ʼn orgaanskenker te wees.

Sedert die oorplanting is daar niks wat hom keer nie.

Die Scholtz-egpaar woon nou in Stilbaai in die Wes-Kaap en ondanks Scholtz se onderdrukte immuunstelsel word elke dag met oorgawe aangegryp. Scholtz se lewensfilosofie is om voluit in die hede te leef. Tydens die proses van die hartoorplanting en selfs ook daarna het hy besluit: “Ek leef nét vir vandag. Gister is verby, vergeet daarvan. Ek kyk ook nie vorentoe, na môre nie, want ek weet daar wag die Here reeds vir my.”

*Om meer van orgaanskenking te wete te kom, besoek gerus die Stigting vir Orgaanskenking se webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Gert en A3 Keuler ·

Dankie v pragtige uiteensetting van Albertus en Jeannie se geskiedenis n wonderlike getuienis en al die eer aan die Here Bid daagliks vir jille en geluk met 25ste verjaardag Julle bly spesiaal waardeer julle is vir ons n insperasie Blessings

GM ·

Wat ‘n wonderlike getuienis!
Hoe spreuk mens die skoondogter se naam uit? Of moes dit Anastasia gewees het? My tong knoop bietjie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.