‘Hartsprojek’ wil verskil in jong mense se lewens maak

Sonja Doyle en Mariska Ford (Foto: Lees en skryf Afrikaans: vir almal/Facebook)

ʼn Inisiatief is onlangs van stapel gestuur om tieners se kritiese denkwyse in ʼn veilige omgewing te ontwikkel.

“In ons prestasie- en uitkomsgedrewe samelewing het ons gevind dat tieners oor kennis beskik, maar opinieloos is,” sê Mariska Ford en Sonja Doyle, stigters van die CC Council.

“So in die laaste uur van die jaar het ons projek die lig gesien en is ons droom bewaarheid,” sê hulle.

Ford is ʼn vryskutjoernalis en kinderboekskrywer. Sy skryf vir Anna Emm Boeke en is ʼn reisjoernalis by 4travellers. Sy is ook die stigter van Lees en skryf Afrikaans: vir almal, ʼn inisiatief wat kreatiewe skryfklasse vir kinders van alle ouderdomme aanbied.

“Ek het hande gevat met Sonja Doyle, ʼn ervare dramaonderwyseres,” vertel Ford. Sy voeg by dat die totstandkoming van CC Council beslis spanwerk was.

“Ons het lank aan hierdie hartsprojek beplan en op 30 November is ons eerste werksessie met groot sukses aangebied.”

Doyle is ʼn deurwinterde taalonderwyseres met ʼn passie vir drama. Sy wil graag ʼn verskil maak in die lewens van die kinders met wie sy werk.

Die projek fokus primêr daarop om tieners te help om hul eie stem deur middel van kreatiewe en kritiese denke te ontdek en te gebruik.

“Ons help hulle om sin te maak van die dinge in hulle leefwêreld. Dit word dan prakties van toepassing gemaak deur skryf- en dramaoefeninge,” sê Ford en Doyle in ʼn verklaring.

Ander doelwitte behels onder meer dat tieners leer om slimmer vrae te vra, die dinamika van die kreatiewe proses te verstaan en dit vir vooruitgang te gebruik, blootstelling aan die helende en bevrydende kuns van skryf, en om uitdrukking aan emosies te gee deur sorgvuldige en briljante kombinasie van taal, musiek, rolspel en beweegkunde.

“Ons eintlike doel is om die wêreld ʼn beter plek te maak deur tieners te help om hul unieke stemme met selfvertroue te gebruik.”

Vir meer inligting oor dié inisiatief stuur ʼn e-pos na [email protected] of bel Mariska by 0836255048.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.