Hawe vir die haweloses

Christo Swanepoel wys waar hulle stoffering doen by Huis Hebron Foto: Jaco-Mari Futcher

Christo Swanepoel wys waar hulle stoffering doen by Huis Hebron Foto: Jaco-Mari Futcher

Hy sê hy vertrou op die Here. Selfs al is die “opheffingseenheid” wat hy bestuur se uitgawes dikwels dubbel soveel as die inkomste.

“Moet my nie vra hoe dit werk nie. As ek kyk, dan stop hier ’n voertuig en laai ’n bees of brood af. Of ek ontvang ’n oproep om groente in die dorp te gaan haal.” Christo Swanepoel sit effens vorentoe in die stoel terwyl hy praat. Pen my met sy oë vas.

Greta le Roux, die stigter, het Huis Hebron in 2001 op haar plaas ongeveer 15 km buite Potchefstroom begin. “Ons doel is om mense deur huislike omstandighede weer terug in die gemeenskap te kry,” sê Christo.

Christo vertel dat hy eers sakeman was voordat die Here hom vier jaar gelede na Huis Hebron gestuur het. “Ek het die Here geken, as jy ’n baas is, ken jy die Here.” Hy bly ’n oomblik stil. “Maar ek moes geleer het om volkome op hom te vertrou.”

Ek en die fotograaf sit oorkant Christo in die ruim sitkamer op die plaas waar Huis Hebron is, vroeg op ’n Vrydagoggend. Die huishoudster bring vir ons koffie.

Hy vertel dat mense hulle visie verloor het. “Vir baie mense was hulle baas die god gewees. Hulle het op hom vertrou. Tot die dag wat hulle afbetaal is.”

Christo en die span mense spits hulle daarop toe om diegene wat alles in die lewe verloor het en dikwels in sak en as by Huis Hebron opdaag, weer terug in die gemeenskap te kry. “Hier kom mense uit alle vlakke van die samelewing hier aan, van rekenmeesters en sielkundiges, tot ketelmakers.”

Waar kry hulle werk vir die mense? Daar is nie werk daar buite nie. Kort stilte. Lyk of Christo sy woorde weeg. “Daar is orals werk. Ons moet net ons kreatiewe doel ontdek.”

Christo vertel dat alles op die plaas “gedoen en onderhou word deur die mense”. “Elke sloot wat gegrawe moet word. Alles.”

Betaal die mense niks om hier te bly nie? “Ons vat die helfte van die mense se pensioene. Ons kan maar sê, in ruil daarvoor, kry hulle drie etes op ’n dag, warm water, slaapplek en klere,” vertel Christo.

Dit neem volgens Christo vir mense dikwels enigiets tussen ses maande en twee jaar om voldoende te herstel en weer terug in die gemeenskap geplaas te word. “Ons het ’n predikant en berader wat op die perseel bly en ’n maatskaplike werker wat drie keer per week kom.”

Christo gaan wys ons van die projekte waarmee die mense op die plaas besig is. Dit sluit die stoffering van stoele en die regmaak van “amper enigiets wat mense weggooi” in.

Ons loop deur die kombuis, terwyl Christo vertel van al die mae wat daagliks hier gevoed word.

Daar is ook verskeie tonnels waarin groente gekweek word. In een van hierdie tonnels loop ek vir Francois Roets (42) raak. Hy is geklee in ’n rooi oorpakbaadjie en swart waterstewels en lyk vol selfvertroue terwyl hy die plantjies natlei.

Francois vertel van die dag wat hy sy lewe vir die Here gegee het. “Ek het gebid en net so groot kol gehuil op my bed.” Hy trek ’n denkbeeldige sirkel met sy hande.

Hy sê hy het ’n besigheid gehad het wat lapas opgerig het in ’n dorp in Noordwes. “Ek het in ’n stadium elke dag van my lewe gedrink.”

“Ná my bekering het ek gebid vir ’n wit Toyota-bakkie vir my besigheid.” Hy kyk my reguit in die oë, sê dan effens sagter: “Ek wou altyd só ’n bakkie gehad het.” Francois vertel hy het aan iemand vertel hy het vir ’n nuwe bakkie gebid. “Die persoon het gesê ek moet bid en vra vir die Here se wil.”

Hy sê dit is die Here se wil dat hy hier is. Op die vraag waar hy homself oor vyf jaar sien, sê Francois hy wil “evangeliewerk doen”.

Ons groet vir Francois, en begin loop in die rigting van die varkhokke. Skielik hoor ek ’n stem agter ons. Skrik effens. Dis Francois. Hy lyk uitasem. Van sy groentetonnel af, agter ons aangehardloop. “Wat jy ook al skryf, skryf net onderaan: Al die eer kom God toe.” Hy verdwyn amper net soos vinnig soos wat hy verskyn het. Terug na sy plantjies toe. Terug na sy roeping toe.

* Hebron Huis vir haweloses is sowat 14 km buite Potchefstroom geleë. Die deure is in Junie 2003 geopen. Besoek die Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

johann cb ·

Ai, hoe kry ek nou ‘n knop in my keel. Ons vergeet so maklik dat ons in gerief leef, terwyl andere baie swaarkry beleef. Baie dankie aan almal wat hulle so ontferm. Sterkte vorentoe.

Lady ·

Mense,mense die is niks nie!Die mense lewe in weelde buite Potch.Gaan kyk by Sonskynhoekie daar verby Die Ark vendusie op ou Warmbad pad.Sonskyn se mense het groter smarte met minder weelde!

Retha ·

Vir hierdie mense sal ek met graagte help. Net omdat hulle niks het nie beteken dit nie hulle moet vuil en armoedig lewe nie. Hierdie is ‘n voorbeeld dat ‘n mens nie net die hele tyd kan ontvang nie maar ook ‘n bietjie moet teruggee. Dit maak ‘n mens weer menswaardig. Soveel keer sien ons die wit plakkerskampe waar mense net die hele tyd sit en wag. Tonne klere word afgelaai en steeds het die kinders nie klere aan nie. Om alles te verloor maak nie van ons mense slegte mens nie maar omstandighede dwing mense om jou omstandighede aan te pas. Ek gee eerder graag vir hulle wat nog probeer om weer uit so ‘n situasie te kom as vir mense wat net sit en wag

neelsie ·

Het ook ondervinding van die bakhand-houding van mense.
Goedbedoelde dade word later misbruik .
Skep omstandighede waar mense waardig voel en nie net heeldag sit en wag vir aalmoese nie.
Dankie aan Hebron wat die voorbeeld stel.

Gesiggie ·

As n mens na so n verhaal luister, dan dwing dit n mens net weer neer na aanbidding, en dan besef n mens… wees dankbaar… Gee en vir jou sal gegee word. Ons wens altyd dat ons nog meer kon gehad het, meer rykdom, meer weelde… maar as n mens kyk na mense soos by Huis Hebron, dan besef ons, Ons het meer as wat ons toekom… en om te kan getuig soos Francois is.. amazing.. Herken dat als wat aan jou gegee is… n wonder van God is… aan elkeen by huis Hebron… May God Bless you… with more and more…

Ruby ·

Of dit nou die Sonskynhoekie of Huis Hebron is, die nood is ‘n roeping na elkeen om ons harte en gawes oop te maak en te gebruik tot hierdie mense se voordeel.

Huis Hebron, julle spinasie lyk fantasties, Francois se handewerk? Ek kan beslis by julle leer.

SkarrelKind ·

Ek ondersteun ook sulke inisiatiewe. The Haven in Kaapstad vra R12 per dag vir 3 maaltye en ‘n bed, warm stort en toegang tot die sosiale werker. Ek dink Kaapstad se mense het omtrent 60 000 mense geborg die winter, in samewerking met Smile FM. Dis is vir my so verblydend regtig ! Dis hoe mens op die regte wyse hulp aanbied, deur ‘n organisasie by te staan wat goed doen en nie deur geld by die verkeerslig te gee nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.