Hawelose gholfjoggie kwalifiseer vir professionele toernooi

Llewellyn Barnes (Foto: Verskaf)

Tot vyf maande gelede was Llewellyn Barnes (59) ʼn hawelose man wat op die strate van Pretoria gewoon het, maar in Maart vanjaar sal hy in ʼn groot gholftoernooi teen ander professionele gholfspelers meeding.

Barnes is haweloos gelaat nadat hy sy pa op tienjarige ouderdom aan die dood afgestaan het en hy en sy sibbe afhanklik was van sy ma se inkomste. Sy ma, ʼn huishulp, kon hulle nie almal onderhou nie en hy is van sy gesin weggeneem.

Terwyl sy susters in pleegsorg geplaas is, het Barnes in ʼn hostel op Zwartkops-gholfbaan in Centurion gebly en dit was dáár waar sy liefde vir die sport begin het.

Hy het altyd ná skool op die gholfbaan vir joggiewerk rondgesoek.

“Ek het vir die eerste keer ʼn sak gedra toe ek net tien jaar oud was. In daardie dae het joggiewerk goed betaal. Ek is 30 sent vir ʼn dag se werk betaal, wat genoeg was om ʼn brood en ʼn koeldrank te koop,” vertel Barnes.

Llewellyn Barnes (Foto: Verskaf)

“Ek het toe al reeds daarvan begin droom om ʼn professionele gholfspeler te word.”

Barnes het op 13 weggehardloop van die hostel af nadat studente en onderwysers hom daar mishandel het. Hy het hom in Durban bevind waar hy in ʼn minibus geslaap het en koerante verkoop het om ʼn inkomste te maak.

Van daar af het ʼn mislukte hereniging met sy ma hom in Oos-Londen laat beland, waar hy gesukkel het om werk sonder ʼn matriekkwalifikasie te kry.

Hy is daarna terug Zwartkops-gholfbaan toe in die hoop om weer as joggie te werk.

“Jy hoef nie geleerd te wees om ʼn joggie te wees nie, jy moet net die spel ken,” sê Barnes.

Hy en van die ander joggies het ná ʼn werkdag op die gholfbaan onder ʼn boom geslaap en op koue wintersaande het hulle groot vure gemaak om warm te bly. “Dit was nie pret nie en ook nie maklik nie, maar ons het dit saam deurgemaak,” sê hy.

Vir ekstra geld het Barnes in die Hennopsrivier geduik op soek na gholfballe om te verkoop. “Op dae wat ek nie gholfballe kon kry nie, het ek niks gehad om te eet nie.”

Die Zwartkops-gholfbaan is later in ʼn gholflandgoed omskep, wat beteken het dat Barnes nie meer daar kon werk nie. Hy het op straat gewoon, maar het steeds geleenthede gesoek om joggiewerk te doen.

“Die lewe op straat was moeilik, maar ek moes dit net hanteer. Ek het niemand gehad om na op te kyk nie en niemand om by te kla nie. Ek het geen familie of huis gehad nie, ek was heeltemal alleen.

“In die aande het ek gebid dat ek nie vermoor word nie. Ek het met een oog oop geslaap en gewag vir die môrelig,” sê hy.

Llewellyn Barnes (Foto: Verskaf)

Verlede jaar het ʼn gholfklub vir wie hy eens ʼn joggie was, gehoor dat Barnes op straat slaap. Hulle het vir hom ʼn skeepsvraghouer aangebied om in te slaap. Kort daarna het Barnes bevriend geraak met Gareth Frost (45), ʼn lid van dié gholfklub, wat ook ʼn soort ontbytklub vir die haweloses by Wierdabrug op Saterdae aanbied.

Frost en Barnes het ʼn sterk vriendskap gevorm en Barnes het vir Frost genader om hom te help om professioneel gholf te begin speel.

“Toe Llewellyn sê hy wil professioneel gholf speel, het ek nie gedink hy is ernstig nie. Maar ek kon nie van die gevoel ontslae raak dat daar iets spesiaals aan hom is en dat God met my praat nie,” sê Frost.

Frost het reëlings getref, tweedehandse gholfstokke gekoop en betaal vir Barnes om te kwalifiseer vir die senior toernooi van die Sunshine Golf Tour. Barnes het almal verras met ʼn voorgee van +2 nadat hy langer as ʼn jaar nie gholf gespeel het nie. Hy het dus gekwalifiseer om deel te neem.

Om deel te neem aan dié toernooi wat in Maart vanjaar begin, het Barnes nuwe klere en gholfstokke nodig, aangesien dit wat hy tans het nie aanvaar sal word by ʼn professionele toernooi nie. Sy reis- en verblyfkoste moet ook gedek word.

Llewellyn Barnes en Gareth Frost (Foto: Verskaf)

Frost het vir Barnes ʼn rekening by die skarefinansieringswebwerf, Back a Buddy, opgestel, waar die publiek hom kan help om geld in te samel.

Dié rekening het reeds R6 211 van hul R45 000-teiken ingesamel.

“Terwyl Llewellyn se drome stadig begin waar word, woon hy steeds in die skeepsvraghouer en het hy ondersteuning nodig om dit ten volle te bewaarheid,” sê Frost.

“Ek is verwonderd oor sy natuurlike talent, maar veral geïnspireer deur sy vriendelike gees. Ek weet hy het wat dit verg vir die publiek om hul harte oop te maak teenoor hom.”

Barnes sê hy is opgewonde om sy talente by die toernooi ten toon te stel. “Dit was nog altyd my droom om in ʼn behoorlike toernooi deel te neem teen professionele spelers,” sê hy.

“Dit is ʼn geleentheid vir my om die las van my verlede agter te laat en vorentoe te kyk vir ʼn blink toekoms. My enigste fokus is nou my spel en ek oefen om die beste te wees wat ek kan.”

Vir meer inligting, besoek Barnes se Back a Buddy-rekening hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Leonie

Mooi storie, dankie Maroela. Baie sterkte met die toernooi Llewellyn. Trots op jou wat so sukses van jou lewe probeer maak en nie gaan lê nie. Mag God jou ryklik seen!

EO

Mooi so Llewellyn. ‘n Man met murg in sy pype. Mag dit sommer BAIE goed met jou gaan!! Waar daar ‘n wil is, is ‘n weg. Jy is iemand wat nie sommer gaan lê nie. Hoop jy ma en die familie gaan trots wees op jou

Frieda

FABULOUS!!!!!!!

RS

Wonderlike geleentheid! Baie sterkte!

Lorayne

Is dit nie ‘n pragtige storie om jou dag mee te begin nie? Gareth Frost, jy is die Engel in hierdie verhaal! Baie danklie vir jou omgee, vir jou doen en vir jou Geloof! Mag God jou ryklik seen vir hierdie pragtige gebaar . . .
Liewellyn Barnes, pak hierdie geleentheid met hande en voete Ouboet! Mag dit net goedgaan met jou!