‘Hedendaagse held’ knap Bloem-begraafplaas self op

Dirk Venter. Foto: FAK

Hy het die bewaring van die nalatenskap van oudpresidente Blackie Swart en Jim Fouché op sy skouers geneem, want as hý nie gaan nie, wie sal dan?

So sê Dirk Venter, ʼn 23-jarige boorling van Bloemfontein, wat glo jy kan net op die toekoms bou as jy uit die verlede leer. Daarom het hy inisiatief geneem vir die instandhouding van die President Brand-begraafplaas en -heldeakker in die Rosestad.

Venter sê hy het gereeld by die begraafplaas verbygery en die stelselmatige verwaarlosing opgemerk. Baie grafstene het omgeval, is beskadig of het weens ouderdom verweer. Die begraafplaas was ook oortrek met onkruid en vullis en het ʼn slaapplek vir haweloses geword.

Hy het by die munisipaliteit navraag gedoen oor wie die instandhouding van die perseel behartig, waarna daar glo vir hom gesê is hy is “welkom” om verantwoordelikheid daarvoor te neem.

“Ek het die projek aangeneem en betaal elke maand die koste van die instandhouding uit my eie sak. Elke tweede Saterdag het ons werkers wat ons help.”

Die oudleerder van die Hoërskool Sand du Plessis in Bloemfontein was ʼn ywerige Voortrekker op skool en werk nou gedurende die week by ʼn motorbandmaatskappy. Elke naweek werskaf hy egter in die begraafplaas saam met sy gesin en twee werkers, Freddie Dasheka en Mpho Tsomo.

Foto: FAK

Hulle plant onder meer bome en struike, maak die grafte en die terrein skoon, lê nuwe seile op die grafte en gooi gruis om die grafte weer te verstewig. Daar is ook begin om die veiligheid op te skerp deur onder meer ʼn heining om die perseel op te rig.

Volgens Venter kos die instandhouding hom tans van R600 tot R1 000 per maand en is meer geld nodig om van die indrukwekkende grafstene weer netjies te restoureer.

Afgesien van Swart en Fouché, is oudpresidente Brand en Steyn en sy familie ook in dié begraafplaas ter ruste gelê.

Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, beskryf Venter as ’n held en het sy inisiatief geprys.

“Ek haal my hoed af vir die dikwels ongesiene, ongewaardeerde en ongewilde uithou en aanhou werk van ons diensbare helde. Te midde van al die vernietiging en afbrekery bied dit hoop en inspireer mense,” het Langner gesê.

Venter sê hy leer elke naweek nog ʼn stukkie geskiedenis by en meen erfenis “het vir ons geen doel” as dit nie behoue bly nie.

Die Mangaung-munisipaliteit in Bloemfontein kon nie vir navrae bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Charles ·

Joe, ek is sprakeloos gelaat hierdeur!

Mnr Venter, jy is OOK MY HELD, en ‘n voorbeeld vir ons ander, dit is ONS erfenis, EN ONS is verantwoordelik daarvoor. Welgedaan!

Haan ·

Wat n yster!
“om af te breek is geen kuns nie. n Klein baba kan n blommetjie verniel wat dit n God gekos het om te maak” – Langenhoven

Carlien ·

Ek is sprakeloos trots op jou Dirk, welgedaan jong man!!!!!Mag jou goeie dade aansteeklik raak vir elkeen wat hierdie artikel gelees het.. Kom ons begin ons ledige uurtjies ook omsit in iets goed.. Ek stap gereeld en gaan volgende keer n sak saamvat en al die rommel begin optel. Verandering begin by jouself, ons moenie heeltyd op ander mense wag om n verskil te maak nie, elke bietjie goed wat jy doen help en die Here sien als raak..

Eish ·

Dit, dit is n man!
Dit is hoe dit lyk om jouself te gee vir n saak.
Dit is doen.
Bulperd van Magalie,
struikel, maar wil nie val nie!
Een man in die hele land wat nog kan voorvat, raakvat en vasvat, sonder n streep vergaderings.
Boerseun in murg en been!
Verander die wêreld, een spitsooi op n slag.

Ledegeld? ·

FAK ..mnr. Langner nié te prys, maar te betale.
R1000pm behoort twee persone se ledegeld te
dek, of hoe? Dankie mnr. Venter, geseënd is jou
handewerk.

JSG ·

Bedankings is slegs erkenning. Mense is vinnig om fondse te stig vir vele ander sake. Hoekom nie hiervoor? Agri of FAK, help ‘n bietjie.

Oop oge ·

`n Jong Man so na aan my hart …
…wag nie en baklei ook nie vir `n beter “job met perks” nie….maar neem verantwoordelikheid voor die aangesig van die God, deur homself op te offer voor Sy aangesig – bereid om homself te verneder en die minste te wees, net en soos wat Jesus, bereid is om die dissipels se voete te was (by wyse van spreke).
Dit gaan nie so seer oor die “erfenis bewaring” nie, maar `n manifestering van `n self-opoffering -mentaliteit.
Dit is hierdie tipe mentaliteit wat eendag van aangesig tot aangesig met die Here in aanraking sal kom en aangeraak sal word….en sewe-voudig vergoed sal word.

JdV ·

Goeie dag Maroela.

Wil julle nie asseblief die FAK of die Erfenisstigting vra om verantwoordelikheid vir die President Brand-begraafplaas en -heldeakker (Bloemfontein) en die Heldeakker (Pretoria) te neem nie? Hierdie twee plekke huisves die oorskot van die room van Afrikaners se volkshelde. Terwyl ek geweldige respek en waardering vir die jongman, Dirk Venter, se ywer en werk het, is hierdie twee terreine werklik net té belangrik om nie onder die FAK en die Erfenisstigting se oorsig in te bring nie.

Groete,
JdV

Sarel ·

Ek wil die Afrikaner gemeenskap van Bloemfontein, Afriforum en FAK uitdaag om die man vsn hulp te wees om kostes te dek. Waar is die ouens wat altyd kla oor die agteruitgang van ons erfenis.

Jannie ·

Ek kan nie sien hoekom enige iemand enige iets moet bydra nie ons betaal genoeg aan munsipale kostes.
Ek sou sê stig ń fonds en hou die munsipaliteite verantwoordelik vir die dienste wat hulle verondrrstel is om te verrig.
Hoe meer ons van hulle dienste oorneem hoe meer gaan hulle van ons verwag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.