Heerlike vakansiepret by Voortrekkermonument

Daar was toutrek by die eerste vakansieprogram by die Voortrekkermonument se Pioniersentrum. (Foto: Verskaf)

Die Pioniersentrum by die Voortrekkermonument het vroeër die week sy eerste vakansieprogram vir kinders aangebied.

Woensdag het 23 kinders aan die program deelgeneem en hulle kon nie uitgepraat raak oor die pret wat hulle gehad het nie. Die kinders het met die program meer geleer oor die geskiedenis van Suid-Afrika en die Voortrekkers.

Hulle het die monument self, die Pioniersentrum, die argief en museumargief besoek, en ook lekker boeresport gehou.

Daar was toutrek-, sakspring- en kettieskiet-kompetisies wat natuurlik die gunsteling van elke seun en meisie was.

“Die boeresport was die lekkerste en kettieskiet was die heel beste,” sê die 11-jarige Quan Nel.

Zania Vosloo (11) sê om van die geskiedenis te leer, was haar gunsteling-aktiwiteit. “Die argief was die lekkerste om te sien hoe die belangrike papiere opgepas word sodat mense kan sien wat in ons geskiedenis gebeur het.”

En Adalann Watkins (12) sê wat hulle geleer het op die dag, gaan baie help met hulle skoolwerk en sy sal haar maatjies sê om volgende keer te kom. “Jy kan leer en speel, en wat ons hier geleer het, leer ons nie noodwendig op skool nie, so dit gaan my baie help.”

Lizette Jansen, van die Pioniersentrum, sê dit is die eerste keer wat hulle so ’n program aanbied.

“Dit was ’n reusesukses. Ons het juis die program begin om skoliere en kinders meer by die terrein te kry.

“Ons wil graag ook die program ontwikkel as ’n hulpmiddel vir kinders, onderwysers en veral vir kinders wat tuisonderrig ontvang.”

Verskillende programme word vir verskillende ouderdomsgroepe aangebied.

Die volgende program word op Woensdag 21 Julie van 09:00 tot 14:00 by dié sentrum aangebied. Dit is ʼn kuns- en vlytprogram wat kinders meer oor kuns sal leer en hulle geleentheid sal bied om self die kuns te beoefen. Stuur ʼn e-pos na [email protected] om jou kind se plek te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.