Hekelmarathon hoop om 42 000 wolblomme op te lewer

Go Purple se gehekelde blomme. (Foto: Verskaf)

Sowat 272 bolle wol het sedert 18 November tydens ʼn hekelmarathon deur 20 vroue se hekelpenne gehaak om 6 000 saronsrose te lewer. Dié marathon van 120 uur wat deur die Go Purple stigting gereël is en op 23 November geëindig het, is daarop gerig om bewusmaking te skep rondom geslagsgeweld en om hoop aan die slagoffers van hierdie misdade te bring.

Annari du Plessis, stigter van Go Purple, vertel aan Maroela Media  op die dag waarop 16 dae van aktivisme teen geslagsgeweld afgeskop het, dat daar onophoudelik vir vyf dae lank gehekel is om die blomme te maak en dat die vroue sowat twee uur se slaap per nag ingekry het.

Selfs met die min slaap het Du Plessis terug by die huis verder gehekel. “Ek kon nie slaap nie, ek was te opgewonde. My doel is nou om 20 blomme per dag te hekel en ek is nou sommer 20 blomme voor.”

Die hekelmarathon vorm deel van ʼn groter projek wat op 1 November van stapel gestuur is en die hoop is om teen 10 Desember sowat 42 000 blommetjies op te lewer. “Ons is baie opgewonde vir dié dag; ons kan nie wag om te sien hoeveel blomme ons werklik gehekel het nie,” sê Du Plessis, wat byvoeg dat daar in totaal sowat 50 vroue is wat sedert die begin van die maand deelneem aan die projek.

Elke blommetjie verteenwoordig ʼn slagoffer van dié soort geweld. “Sowat 80 000 gevalle van seksuele misdaad is die afgelope twee jaar gerapporteer,” sê sy.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie word een uit elke drie vroue elke dag wêreldwyd deur fisieke of seksuele geweld geraak. In meeste gevalle word die misdaad deur ʼn eggenoot, ʼn kêrel of iemand na aan die slagoffer gepleeg.

Die blomme het vyf blomblare elk, wat hoop, oorwinning, vergifnis, nuwe lewe en genesing verteenwoordig. “Ons wil aan die slagoffers van geslagsgeweld, meestal vroue en kinders, sê dat daar lewe is nadat só ʼn onreg aan hulle gedoen is. Ons hele boodskap hiermee is #ChooseLife,” sê sy.

Dié blommetjies is egter nie net vir slagoffers bedoel nie, meen Du Plessis. “Ons wil ook hê dat oortreders hierdie blomme sal dra as ʼn besef dat hulle iemand ʼn onreg aangedoen het en as ʼn belofte dat hulle nooit weer iemand sal seer maak nie.”

Die stigting hoop om nou die gehekelde blommetjies, van alle kleure en wat as borspeldjies gemonteer word, te verkoop teen R20 elk om geld in te samel vir die stigting se doelwitte. Die blommetjies sal by winkelsentrums in Gauteng en omgewing verkoop word. “Behalwe vir ʼn muur wat rondom ons sentrum in Vanderbijlpark gebou moet word, wil ons die geld gebruik om slagoffers te help om weer op hul voete te kom.”

Go Purple se gehekelde blomme. (Foto: Verskaf)

Du Plessis vertel dat hulle reeds ʼn ander geldinsamelingsinisiatief van stapel gestuur het om die muur om hul sentrum te bou, omdat daar in die laaste tien maande 12 keer by die sentrum ingebreek is. “Ons wil eintlik die blommetjie-projek se geld slegs gebruik om berading en bystand aan slagoffers te bied. Daar is bitter min hulpbronne en geld beskikbaar vir slagoffers. Ons hoop om vir slagoffers ten minste vier beradingsessies elk aan te bied en ook forensiese bystand in die ondersoeke en howe te bied.”

Sy verduidelik dat trauma mense verander, maar dat die stigting daarop gemik is om die gesig van trauma te verander. “Ons besef dat nie een van ons kan sê dat ons nooit deur geslagsmisdaad geraak gaan word nie en ná tien jaar by die sentrum besef ʼn mens watter effek dié dade op mense het. “Ons wil vir die mense sê dat hulle nie moet opgee nie, dat hulle seerkry verby is en dat hulle weer kan opstaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae