Hele SA brei aan wêreld se grootste kombers

Suid-Afrika sal binnekort probeer om nie net een nie maar twéé Guinness-wêreldrekords op te stel en is reeds hard aan’t werk om dié droom te verwesenlik.

Dié projek is die geesteskind van en word bestuur deur Jaco Verwey, die ondervoorsitter van die Golden Triangle-sakekamer in die Vaaldriehoek.

Dié projek beoog om die wêreldrekords te laat spat vir die grootste gebreide kombers én die meeste komberse wat op een slag aan liefdadigheid geskenk word.

“Die hoofdoel agter die projek is maklik: Almal sien die Vaaldriehoek as so ʼn ou afgeleë plekkie, met die vuilste rivier in die land en ʼn swak munisipaliteit. So, ons wou ʼn bietjie goeie reklame vir die plek kry en daardeur ploeg ons ook terug in die gemeenskap,” het Verwey gesê.

Die kombers wat reeds sedert Oktober 2018 oor die hele land gebrei word, sal 19 602 m2 wees. Dit sal uit 9 075 komberse van 1,2 m x 1,8 m bestaan en soos die Suid-Afrikaanse vlag lyk wanneer dit aanmekaargewerk is.

Volgens Verwey is meer as 2 000 mense oor die hele land reeds in hulle onderskeie dorpe besig om aan die kombers te brei.

“As mense saamstaan, kan hulle ʼn verskil maak. Dit is nie die soort rekord wat gou oornag gereël kan word of waar geld die rekord kan koop nie. Dit gaan oor mense se handewerk en moeite, juis omdat dit ʼn handgebreide kombers moet wees,” het hy gesê.

“Ek het nie geweet daar bestaan nog soveel vrouelandbougroepe nie, maar hulle is almal aan’t brei vanaf Stellenbosch tot in Polokwane. Daar is amper oral in die land breigroepies of ouetehuise waar mense kan aansluit. Dit is ʼn lekker manier om te wys nie net die Vaaldriehoek nie, maar ook die hele Suid-Afrika, kan saamstaan vir een doel.”

Altesaam 14,5 ton wol word gebruik om die massiewe kombers te maak, en slegs die wol kos die organiseerders R1,4 miljoen. Verwey het gesê die samehorigheid kan reeds gesien word in skenkings van R1 miljoen wat hulle vir die wol ingesamel het – en dis bloot in die Vaaldriehoek.

Die wêreld se grootste gebreide kombers sal op 8 Junie by die DP de Villiers-stadion in Sasolburg uitgestal word by ʼn feestelike geleentheid met kosstalletjies, musiekkunstenaars en talle aktiwiteite vir kinders en volwassenes.

Op 9 Junie sal dié kombers weer in 9 075 komberse opgedeel word en dit sal dan aan honderde liefdadigheidsorganisasies oor die Vaaldriehoek en die res van die land versprei word.

Verwey het gesê daar is nog plek vir sowat 1 000 breiers, indien mense betrokke wil raak. Die wol word by jou afgelewer en ʼn patroon word verskaf. Al wat jy nodig het, is ʼn 4- of 5-breinaald. Verder kan mense ook steeds met geldskenkings betrokke raak, wat sal sorg vir die aankope en die vervoer van wol en komberse, asook die organisering van die onthullingsgeleentheid.

Vir meer inligting, besoek hul Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Eish ·

Al jul negatiewe mense, brei liewers in plaas daarvan om nonsens uit te dink! Verander julle gesindheid!

Die Leeu ·

Wel gedaan Jaco Verwey, deur sommer ‘n klompie vlieë met een klap raak te slaan. Dis eerstens vir ‘n goeie doel. Daar is baie mense wat nie ‘n warm kombers het vir die winter nie. Daarby voel 2000 mense dat hulle bydra tot iets goeds. Tussendeur al die negatiewe dinge in die land, is dit ‘n positiewe faktor. Ek ken ‘n paar dames wat saam aan die kombers brei. Daarby is dit goeie publisiteit vir die Vaaldriehoek. Laastens, gaan S.A ook moontlik sommer twee Guiness Wêreld Rekords opstel of laat spat.

Die Leeu ·

@Hasie … vir 9075 mense wie elk nie ‘n warm kombers vir die winter besit nie.

Dorothy ·

Waar is al die komberse van vorige Winters? Wys hulle eder om self te leer brei as net om te ontvang. Gewoond om alles net verniet te kry. Gee gee en nogmaals gee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.