Help haweloses oor die feesseisoen

Die FillaPot-veldtog

Die liefdadigheidsorganisasie Ladles of Love het vanjaar ʼn teiken om een miljoen nutriëntryke maaltye aan haweloses te bedien oor die feesseisoen.

Dié organisasie het reeds meer as 9 miljoen maaltye aan minder bevoorregtes bedien sedert die eerste staat van inperking die land getref het.

Danny Diliberto, die stigter van Ladles of Love, sê hulle wil poog om die stroom van goedhartigheid te laat aanhou loop deur die feesseisoen.

“Ons wil aanhou streef na ons missie om gemeenskappe in nood te ondersteun en te voed. Die pandemie het ons gewys wat ons as ʼn gemeenskap kan doen om mense in nood te help.

“Dit het ons die goedhartigheid van mense gewys, maar ook dat goedhartigheid nie eenmalig kan wees nie – dit moet ʼn aanhoudende poging wees deur mense wat het, om vir mense te gee wat nie het nie,” sê hy.

Een van Ladles of Love se groot projekte is die FillaPot-veldtog. Dit moedig mense aan om geld te skenk sodat hulle 10 000 potte sop kan maak, wat dan een miljoen maaltye sal verskaf vir 35 000 mense per dag.

Ladles of Love maak staat op vrywilligers en donasies (Foto: Facebook)

“Met die FillaPot-veldtog mik ons daarna om ʼn kultuur van vrygewigheid en mededeelsaamheid te kweek tydens die feesseisoen omdat die nood van duisende honger, kwesbare mense so groot is,” sê Diliberto.

Elke pot wat vir R150 gekoop word deur die publiek, sal 100 mense bedien. Donasies vir die FillaPot-veldtog kan hier gemaak word.

Ladles of Love het ook hande gevat met The Hope Exchange om nóg meer mense te help. Saam bestuur hulle die projek Feed5000 om mense te help wat honger en alleen is oor die feesseisoen.

Feed5000 wil meer as 18 000 maaltye aan hawelose verskaf (Foto: Facebook)

Feed5000 sal van 12 Desember tot 17 Januarie noodsaaklike dienste lewer en kos verskaf sodat haweloses in Vredehoek en Seepunt nie honger ly oor hierdie tyd nie.

In 2019 het Feed5000 meer as 10 000 maaltye bedien en vanjaar beoog hulle om hul teiken van 18 500 maaltye te bereik omdat die getal hawelose mense in die gebied toegeneem het en die situasie vererger is deur die Covid-19-pandemie.

Feed5000 vra die publiek vir hulp in die vorm van donasies, vrywilligers wat bereid is om te kook en bedien, en besighede wat betrokke wil raak om moontlik ʼn dag te borg. Vir meer inligting besoek hul webtuiste hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.