Help kinders, volwassenes met kanker in nood

(Foto: Hannah Busing/Unsplash)

Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) het jou ondersteuning nodig om kinders en volwassenes met kanker in nood te help.

Kansa vra mense om ʼn sorg- en kospakkie vir kankerpasiënte te borg, wie se ouers óf hulleself nie kan aanhou werk terwyl hulle behandeling vir kanker ontvang nie. Dit beteken doodgewone items word dan dikwels luukse items.

“Ons het oor die afgelope 90 jaar ondersteuningsdienste aan kankerpasiënte op alle lewensvlakke en oor die hele land gelewer. Baie van ons pasiënte kom uit lae-inkomste-huishoudings en met die bykomende finansiële las van ʼn kankerdiagnose sukkel hulle om met die stygende lewenskoste by te hou.

“Die pandemie dra ook tans tot hierdie finansiële swaarkry by,” het Gerda Strauss, Kansa se hoof van dienslewering, gesê.

Volgens Strauss probeer Kansa om die las van pasiënte wat in hulle sorgsentrums en TLC-tuistes woon ligter te maak deur kos- en sorgpakkies met basiese items te verskaf, benewens die dienste wat die vereniging reeds lewer. Hier ontvang kankerpasiënte verblyf tydens hulle behandeling, etes en vervoer tot by hulle behandelingsplekke.

“Hierdie Internasionale Mandeladag vra ons almal om hulle plaaslike Kansa-sorgsentrum te nader en om by te dra tot die kos- en sorgpakkies, sodat ons meer families wat deur kanker geraak word, kan help.”

(Grafika: Kansa)

Strauss het gesê items vir skenkings kan by die sorgsentrum afgelaai word waar die vereniging streng veiligheidsmaatreëls ingestel het om die pakkies en items te ontsmet terwyl maskers gedra word en fisieke distansiëring deurentyd gehandhaaf word.

“Aangesien inperkingsvlakke mense se beweging kan beperk en mense dalk nie gemaklik voel om items by ʼn sentrum af te lewer nie, verwelkom ons ook enige finansiële bydraes tot kos- en sorgpakkies. Mense kan byvoorbeeld R90 skenk om Kansa se 90ste bestaansjaar te vier en ook hul familie, vriende en kollegas aanmoedig om dieselfde te doen.”

Geldskenkings kan aanlyn gedoen word of besoek Kansa se webwerf om nog maniere te vind om aan die vereniging en sy pasiënte terug te gee.

Strauss meen Mandeladag is ʼn wonderlike geleentheid vir Suid-Afrikaners om ander te help. “By Kansa kan ʼn mens betrokke raak deur jou tyd en dienste as ʼn vrywilliger aan te bied en so kan jy help om die wêreld ʼn beter plek te maak vir kinders, vroue en mans wat deur kanker geraak word.”

Besoek Kansa se webwerf hier om as ʼn vrywilliger by die vereniging aan te sluit of kry ʼn lys van Kansa-sorgsentrums hier.

Kansa se dienste aan kankerpasiënte sluit in stoma-klinieke wat ondersteuning aanbied in term van produkte, emosionele bystand en raad, asook ʼn gratis Tele-Stoma-ondersteuningsdiens. Kansa het ook ʼn gratis teleberadingsdiens, wat berading oor kanker in sewe tale aanbied. Kansa het ook inligtingsmateriaal vir kankerpasiënte en mense met nie-oordraagbare siektes om hulleself teen Covid-19 te beskerm, asook aanlyn ondersteuningsgroepe en hulpbronne vir pasiënte, versorgers en geliefdes.

(Grafika: Kansa)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.