Help laerskool in hongersnood só tydens inperking

We^Can help Laerskool Kameeldrift (Foto: Verskaf)

Laerskool Kameeldrift, noordoos van Pretoria, is in ʼn gemeenskap wat diep geraak word deur die afsonderingmaatreëls. Die meerderheid van die skool se 700 leerders is afhanklik is van een ete per dag wat hulle by die skool ontvang.

Die afgelope paar weke het die lewe van die plaaslike gemeenskap nog moeiliker geword weens die inperkingstydperk en is meer as 400 gesinne in en om die skool afhanklik van versorging op ʼn daaglikse basis.

Die liefdadigheidsorganisasie We^Can het nood by Laerskool Kameeldrift raakgesien en het ʼn projek van stapel gestuur waarmee ʼn sak vars groente asook ʼn pak meel vir elkeen van die behoeftige gesinne voorsien word om hul voedselnood te verlig.

We^Can is ’n organisasie wat ’n dag voor die aanvang van die Covid-19-grendelstaat in Suid-Afrika met sy werk begin het. Die organisasie maak dit moontlik vir passievolle Suid-Afrikaners om binne hul finansiële vermoë en op ʼn maklike manier met die uitdagings van behoeftige gemeenskappe op die lang duur te help.

We^Can help Laerskool Kameeldrift en die omliggende gemeenskap (Foto: Verskaf)

Sedert die aanlyn platform agt weke gelede geskep is, het die We^Can-gemeenskap reeds 45 667 kg se kos ingesamel deur 31 afsonderlike projekte wat suksesvol afgehandel is.

Dié kos kon ongeveer 170 000 etes aan die onderskeie We^Can-begunstigdes in Gauteng en Limpopo voorsien. Die verlengde grendelstaat het egter tot gevolg dat die getal hulpbehoewendes by die dag steeds bly toeneem.

Laerskool Kameeldrift is ’n begunstigde van die Atterbury Trust, wat nou kragte saam met Power of Co en We^Can snoer om die weerloses in ons land te beskerm.

Volgens Zahn Hulme, uitvoerende trustee van die Atterbury Trust, is hulle baie opgewonde om deel te wees van We^Can en glo die trust dat dié organisasie individue en maatskappye in staat stel om op ʼn eenvoudige manier ʼn verskil te maak, ongeag hoe groot of klein die bydrae.

Laerskool Kameeldrift (Foto: Verskaf)

“We^Can is ʼn deursigtige platform wat op ʼn verantwoordelike manier donateurs se geld direk aanwend om gemeenskappe in nood by te staan.”

We^Can verkry voedsame voedselitems vir projekte teen die beste moontlike pryse van voedselprodusente en verskaffers regoor Suid-Afrika.

“Hierdie model werk baie goed omdat ons aandag gee aan elke begunstigde se spesifieke behoefte teen pryse wat meer waarde vir elke sent bied” sê Francois Mouton, stigter en direkteur van We^Can.

Die inisiatief het sy eie aanlynwinkel, SHOP4 Heroes. Hierdie winkel bied aan die publiek die geleentheid om enige tyd van die maand namens ’n We^Can-begunstigde inkopies te doen volgens ’n spesifieke lys van behoeftes en hoeveelhede wat die begunstigdes benodig.

We^Can moedig nou die publiek aan om van 1 tot 7 Junie groente en meel aanlyn aan te koop teen slegs R49, waarna We^Can dit aan die Laerskool Kameeldrift sal verskaf vir verspreiding onder die gemeenskap.

Besoek die We^Can-webblad hier om betrokke te raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.