Help om ʼn wêreldrekord-Kersboom te bou

Kerksondermure tydens 'n vorige projek vir behoeftiges. Foto: Verskaf

Kerksondermure tydens ‘n vorige projek vir behoeftiges. Foto: Verskaf

Kerke in Centurion het vanjaar ʼn Goeienuus-Kersboom met ʼn wêreldrekordpoging van stapel gestuur wat 29 November van 12:00 tot 16:00 in die Amfi van die Centurion winkelsentrum plaasvind.

Dié projek, wat ʼn inisiatief van Kerksondermure is, het ten doel om behoeftige mense in die Centurion-omgewing te help met niebederfbare kos.

Francois Schoombee, bemarkingsbeampte van Kerksondermure, sê die projek word vanjaar uitgebrei sodat kerke in die Centurion-omgewing aan ʼn groter uitreikprojek na behoeftige mense kan deelneem. “Die projek was oorspronklik gerig op die 30 projekte waarby die kerk betrokke is. Vanjaar vat ons hande saam met al die ander kerke in die omgewing sodat ons meer mense kan bereik.”

Die Goeienuus-Kersboom hou ʼn Bybelse verwysing na Lukas 4 in waar klem daarop gelê word dat die goeie nuus van God se genade en die mens se verlossing betrekking het op alle mense op aarde.

“Om dié rede wil ons ook iets goeds vir behoeftige mense beteken. Ons wil almal maan om nie net te ontvang nie, maar ook iets te gee en vir iemand iets te beteken,” sê Schoombee.

Lede van die publiek kan Vrydag (27 November) tussen 14:00 en 20:00, Saterdag (28 November) tussen 10:00 en 18:00 en Sondag (29 November) tussen 11:00 en 13:00 skenkings van niebederfbare kosprodukte na die Amfi in die Centurion-winkelsentrum neem waar iemand aan diens sal wees om dit te ontvang.

Met dié niebederfbare kosprodukte gaan ʼn poging aangewend word om die wêreld se grootste en hoogste Kersboom op te rig. “ʼn Ingenieur het vir ons die beplanning van die Kersboom gedoen om te verseker dat alles glad verloop. Ons nooi baie graag mense om hieraan deel te neem,” sê Schoombee.

Die Kersboom word Sondag (29 November) tussen 12:00 en 16:00 opgerig en almal is welkom om die geleentheid met hul kameras by te woon. Daarna sal die boom afgebreek word en die niebederfbare kosprodukte deur aangewese persone na die spesifieke projekterreine en behoeftige mense geneem word.

Alle lede van die publiek is ook welkom om ná die geleentheid die Kerssangloffees om 18:30 saam met Louis Brittz by Kerksondermure by te woon.

Vir meer inligting oor hoe om bydraes te maak skakel 012 663 2003.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.