Help ons om behoeftige kinders te laat blom

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, Hannes Noëth, direkteur van Helpende Hand, en Chandré Oosthuizen, ʼn maatskaplike werker, by die bekendstelling van die Bemagtig-ʼn-kind-projek. (Foto: Verskaf)

Maroela Media en Helpende Hand het kragte saamgesnoer om deur hul Bemagtig-ʼn-kind-projek “brugbouers” vir behoeftige Afrikaanse kinders te word.

Die projek is Dinsdag amptelik by Maroela Media se kantoor in Centurion bekend gestel.

Chandré Oosthuizen, ʼn maatskaplike werker van Solidariteit Helpende Hand en die projekorganiseerder, het by die geleentheid gesê kinders is ʼn kwesbare deel van die samelewing wat nie kan kies in watter huis of in watter omstandighede hulle wil grootword nie.

“Bemagtig-ʼn-kind se doel is om geleenthede vir behoeftige kinders te skep om vir hulle ʼn brug na ʼn beter toekoms te bou. Ons glo onderrig is die sleutel om die kringloop van armoede te verbreek en met die inisiatief poog ons om die kinders op verskeie maniere by te staan om hul lewe in ʼn nuwe rigting in te stuur,” het sy gesê.

Die projek voorsien in ʼn wye spektrum behoeftes van kleuterskool-, laerskool- en hoërskoolleerders met bystand vir die koste van onder meer skoolklere, ekstra klasse, naskoolgeld, terapie (spel-, spraak- en arbeidsterapie), koshuisgeld of vervoer na en vanaf skole.

Elke aansoek wat by Helpende Hand ingedien word, word deur ʼn paneel bespreek en op meriete beoordeel, en elke kind se individuele behoeftes word in ag geneem wanneer hierdie aansoeke oorweeg word.

“Die projek is baie meer persoonlik as Helpende Hand se groter projekte. Ek het ʼn sagte plekkie daarvoor van die begin af, want elke kind kan ʼn verskil maak en verdien ʼn kans en ʼn voorspoedige toekoms,” het Hannes Noëth, direkteur van Helpende Hand, gesê.

“Met strukture en volhoubaarheid bou ons ʼn bruggie vir elke kind wat ons enigsins kan help. Koshuisgeld is een van die beste voorbeelde van hoe ons ʼn brug vir daai kind kan bou, want om hom of haar daardeur te help, beteken daai kind kry verblyf, kos en opvoeding. Ongelukkig kos so iets baie geld en is die behoefte aan hulp tans meer as waarin ons kan voorsien. ʼn Vennootskap saam met Maroela Media is dus vir ons van onskatbare waarde,” het hy bygevoeg.

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, het gesê hulle is opgewonde om nouer saam met Helpende Hand te werk en deur Bemagtig-ʼn-kind ʼn verskil te maak.

“Maroela Media word vanjaar 10 jaar oud en het oor die afgelope dekade lekker saam met Helpende Hand gewerk.

“Dit is lekker om tussen al die slegte nuus ook oor die goeie nuus te berig wat Helpende Hand verrig. Ons wil egter nie net die goeie nuus skryf nie, maar self ook op grondvlak daarby betrokke raak. Ons kan duidelik sien dat kinders Maroela Media se lesers na aan die hart lê en hoop ons lesers maak ons hande sterk. Dít is vir ons ʼn deurtjie om meer te doen as om net te skryf,” het Lombaard gesê.

Hou Maroela Media dop vir stories van die kinders wat deur die projek bygestaan word.

Dra só by tot die Bemagtig-ʼn-kind-inisiatief en help ons om ander te help groei:

Neem met ons hande om kinders se drome ʼn werklikheid te maak. Jou geringe bydrae kan ʼn groot verskil maak.

Helpende Hand is by magte om artikel 18A-belastingsertifikate uit te reik.

Meer oor Bemagtig-ʼn-kind

Die geld wat vir die Bemagtig-ʼn-kind-projek aangewend word, vorm deel van Helpende Hand se JD Kestell-gedenkfonds. Dié fonds is vernoem na dr. John Daniel Kestell, oftewel Vader Kestell, soos hy bekend was – een van die merkwaardigste figure in Afrikaanse geledere. Vader Kestell is in sy eerste bedieningsjare as predikant só geraak deur die verarming van die Afrikaner dat hy besluit het om sy lewe daaraan te wy om verarmde Afrikaners geestelik, kultureel en maatskaplik op te hef. Vir Vader Kestell was onderrig die sleutel om die kringloop van armoede te verbreek. Solidariteit Helpende Hand volg ook, soos Kestell, ʼn benadering van opheffing deur opleiding om die armoedesiklus te verbreek. Ons nooi jou om ʼn bydrae tot die JD Kestell-gedenkfonds te maak sodat meer kinders deur die Bemagtig-ʼn-kind-projek bygestaan kan word.

Die administrasie en finansies van suksesvolle aansoeke word deur Helpende Hand se maatskaplike en finansiële afdelings behartig en geen betalings word direk aan ouers gemaak nie – dit word slegs aan die betrokke instansie self oorbetaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

‘n Wonderlike plan! Daar is ‘n groot behoefte, veral ook tov mediese dienste want talle ouers skeep deesdae die gesin noodwendig af weens finansièle druk. Baie kinders besoek nie eens meer ‘n tandarts nie; wat nog estetiese ortodontiese behandeling vir ‘n goeie selfbeeld. Solidariteit of AfriForum kan dalk ‘n mediese fonds stig wat ook Afrikaners in nood kan bystaan. Armoede sal erg toeneem weens die ANC se bloeddorsige onteiening van ons burgerregte. Saamstaan is ‘n mòèt.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.