Helpende Hand begin eerste kleuterskool

Ons Kleuterskool (Foto: Verskaf)

Solidariteit Helpende Hand se tak in Volksrust in Mpumalanga het dié organisasie se eerste kleuterskool begin.

Die kleuterskool, genaamd Ons Kleuterskool, is aan die begin van die 2018-skooljaar in Volksrust geopen. Volgens Helpende Hand is Ons Kleuterskool spesifiek daarop gefokus om kleuters skoolgereed te kry voordat hulle met hul formele skoolopleiding begin.

Robert Jacobs, die plaaslike Helpende Hand-takvoorsitter, het gesê daar is ʼn dringende nood om behoeftige Afrikaner-kleuters vir skool voor te berei. Om aan hierdie behoefte te voldoen, het die organisasie besluit om ’n kleuterskool te stig vir kleuters wie se ouers dit nie kan bekostig om hulle na ʼn kleuterskool te stuur nie.

Dié kleuterskool het ʼn tuiste gevind by die Nederduitse Gereformeerde Kerk op Volksrust en het tans twee voltydse personeellede in diens.

“Daar is nog baie ruimte vir ons om uit te brei,” het Karen le Roux, Ons Kleuterskool se skoolhoof, gesê. “Ons kan tans 20 kinders akkommodeer, maar ons weet dat die nood veel groter as dit is.”

“Ons Kleuterskool is die eindproduk van ʼn jaar se beplanning en voorbereiding om ʼn kleuterskool vir behoeftige of milieu-geremde kinders te stig. Danksy die skool het die kleuters nou ook ʼn geleentheid om leergereedheid te bereik voordat hulle formele onderrig in gr. 1 betree. Ons doel met hierdie skool is om die kleuters ʼn beter kans te bied op ʼn suksesvolle skoolloopbaan,” het sy gesê.

Vir meer inligting oor die skool, kontak Robert Jacobs by 082 907 4917, of stuur ʼn e-pos aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Willie Els ·

Wat van julle gee vir ons die details van wat die kind moet doen om ‘skool gereed’ te wees. Nie almal kan hulle kinders soontoe stuur nie.

Robert Jacobs ·

“Skool gereedheid” is ‘n term wat ons breedweg gebruik om te bepaal of ‘n kind ‘n redelike kans het om ‘n suksesvolle skool loopbaan te hê. Daar is heelwat faktore maar onder andere is dit fisiese ontwikkeling, goeie maniere, spraak vermoë, routiene, goeie voeding ens. Ons probeer die kleuters ‘n kans gee om skool deur te kom en die siklus van armoede te probeer breuk. Hulle het nie hulle omstandighede gekies nie.

Kaster ·

Dis n goeie idee. Skryf gerus artikels oor hoe om klein kinders voor te berei vir die toekoms, intellektueel te stimmuleer, groot en klein motoriese ontwikkeling ens. Hoe kleiner goeie opvoeding begin, hoe beter vir die kind se toekoms.

Yolandi ·

Wat is die onkoste per kind per maand? Kan ek selfde rekening nommer gebruik waar ek elke maand geld oor betaal vir die kosblikkie en helphanna projek? Wat gebruik ek as verwysing?

Nicolien Mentz ·

Ek dink dit is wonderlik. Al 4 my meisiekinders is deur Volksrust Hoerskool en ek weet julle gaan wonderlike werk doen. Baie dankie vir julle wonderlike geleenthede wat julle vir ons mense bied.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.