Helpende Hand maak 1 000 studiedrome waar

Akademia_studente_studeer_pixabay.jpg

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Die Helpende Hand Studietrust (HHS) het in 2021 meer as R50 miljoen ingesamel, waarmee ongeveer 1 000 hulpbehoewende Afrikaanse studente se studiedrome in 2022 bewaarheid sal word.

Stefan Pieterse, hoof van die HHS, het Maandag tydens ʼn mediakonferensie in Pretoria gesê die fonds is ʼn produk van lede van die publiek se oop harte en hande, asook die vertroue wat meer as 200 onafhanklike donateurs in die HHS het.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het opnuut die belangrikheid van opleiding benadruk. Hy meen finansies moenie in die pad van ʼn student wat wil studeer, staan nie.

“Opleiding is ʼn belegging met ʼn lewenslange opbrengs vir ʼn land. Dit is die veiligste belegging met die hoogste opbrengs wat daar is,” het hy gesê.

Volgens Hannes Noëth, Solidariteit Helpende Hand se uitvoerende direkteur, is die werkloosheidsyfer in Suid-Afrika die hoogste nog en dié statistieke skets allermins ʼn rooskleurige prentjie.

“Een van die kragtigste maniere om werkloosheid hok te slaan, is deur middel van opleiding. Daarom is Helpende Hand baie dankbaar dat ons die R50 miljoen-kerf in 2021 verby kon steek.

“Dit is die eerste keer in ons geskiedenis. Ons gaan van krag tot krag met die studietrust wat stukkie vir stukkie en student vir student ʼn volhoubare verskil maak.”

Noëth sê verder om ʼn student te bemagtig om te studeer, is baie meer as om net geld te verskaf.

“Dit is om ʼn toekoms te verseker. Dit is om te verseker dat daar ʼn pad uit armoede is. Dit is om te verseker daar is ʼn gesin, gesinne én geslagte wat deur so ʼn besluit geraak word. So, daarom is die bestuur van die Studietrust en hierdie mylpaal wat bereik is vir ons werklik kosbaar.”

Hannes Noëth, Flip Buys en Stefan Pieterse. (Foto: Verskaf)

Die HHS is ʼn platform van Solidariteit Helpende Hand waardeur donateurs hulpbehoewende studente se studie deur middel van rentevrye studielenings kan finansier, in ruil vir ʼn belastingvoordeel, en die nalaat van ʼn nalatenskap.

Rentevrye studielenings word toegestaan met die ooreenkoms dat studente wat afstudeer slegs die bedrag wat hulle geleen het, terugbetaal, sonder dat enige rente of administratiewe fooie gehef word. Geld wat teruggevorder word, word heraangewend om die volgende studente se studie moontlik te maak.

Die bedrag van R50,3 miljoen word saamgestel uit skenkings van R28,98 miljoen, en R21,3 miljoen van afgestudeerde studente wat hul rentevrye studielenings terugbetaal het. Die HHS het R232 miljoen oor die afgelope 10 jaar in ongeveer 6 000 studente se studie belê.

Pieters sê HHS se doelwit is om dié platform se waarde teen 2030 tot R1 miljard uit te brei. “Ons is dankbaar vir die groot vordering wat ons vanjaar kon maak. Skielik lyk die miljardkerf wat ons vir ons volgende mylpaal van10 jaar wil bereik, nie meer so vergesog nie.”

Skenkers wat wil bydra tot die Studietrust kan Solidariteit Helpende Hand se webwerf besoek by https://helpendehand.co.za/studiefondssentrum/.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

Waar gaan dié studente, wat seker meestal wit is eendag werk kry? Weet hulle en Helpende Hande van regstellende aksie en BEE en radikale ekonomiese transformasie en onteiening sonder vergoeding? Dis ALLES goed wat net teen wit mense gemik is. Moenie sê hulle kan in die buiteland werk kry nie. Dis ‘n BAIE duur proses, so dis die “oplossing” vir ‘n baie klein persentasie afgestudeeres.

casper

Pragtig — Sal hulle ondersteun voluit !!!

Johanna

Dankie Helpende Hand!!
Ons oudste kleinseun wou graag Landboukunde studeer.
Sy ma is n enkel ouer en ons pensioenarisse. Daar was geen manier dat ons Finansieel kan help nie.
Dankie HERE vir Helpende Hand wat gehelp het met n BEURS.
En ja, met n kwalifikasie kan ons Suid Afrikaners enige plek in die wereld werk. Ons is bekend vir hardwerkendheid.
Waar n wil is, is daar n weg.
DANKIE HERE
DANKIE HELPENDE HAND