Helpende Hand maak onderwysers bly met ‘skatkis’

Helpende Hand deel hulpmiddels aan onderwysers van Laerskool Kameeldrift-Wes uit. Foto: Helpende Hand

Helpende Hand deel hulpmiddels aan onderwysers van Laerskool Kameeldrift-Wes uit.
Foto: Helpende Hand

“Sal ons kyk wat in hierdie pakkie is, maatjies,” vra ʼn onderwyser by Laerskool Kameeldrift-Wes Donderdagoggend vir haar leerders, wat afwagtend rondom die tafel staan. Solidariteit Helpende Hand se personeel het hierdie geskenkpak vir die onderwysers gebring met hulpmiddels ter waarde van R4 000.

Helpende Hand se nuwe projek, ‘Juffrou se skatkis,’ het 30 kratte vol hulpmiddels wat landwyd aan onderwysers uitgedeel word. Marianda Schlebusch, die projekorganiseerder, vertel dit het tydens die Tassieprojek, waar skoolbenodighede vir gr. 1’s geskenk word,  aan die lig gekom dat onderwysers self ook ʼn gebrek aan  hulpbronne het.  “Die onderwysers het ʼn tekort aan fondse en Helpende Hand het besluit om in te gryp en ʼn nuwe projek van stapel te stuur.”

“In die geskenkpak is ʼn springtou, wat leerders veral kan help met die ontwikkeling van hul groot motoriese vaardighede,” sê Schlebusch. “Die WriteRight-reeks help vir die ontwikkeling van fyn motoriese vaardighede en die Skillie-reeks bevorder leerders se ouditiewe vaardigheidsontwikkeling.” Nog hulpmiddels soos legkaarte, blokkies en skryfbehoeftes word ook in die krat ingesluit.

Dié skool, in Pretoria-Wes, met 430 leerders, het hul dankbaarheid teenoor Helpende Hand uitgespreek. “Ons is baie bevoorreg,” het Santie Steyn, departementshoof van die grondslagfase, gesê.  Steyn het verduidelik die skenking maak dit baie makliker vir hulle as onderwysers. “Daarsonder sou ons self plastiekdoppies moes versamel of hulpmiddels uit ons eie sakke koop.”

Sy noem die kinders kan nou geleer word om besittings op te pas en die skenking is ook voordelig vir hul akademiese vordering.

Jy kan die kinders in jou omgewing ondersteun deur die woord “Tassie” te SMS na 38969 en betrokke te raak by die projek. ’n SMS kos R10.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.