Helpende Hand open 100ste liefdadigheidswinkel

1) Die sanger Jak de Priester vier die opening van die 100ste Ons Winkel. (Foto: Verskaf)

Solidariteit Helpende Hand het Woensdag sy 100ste Ons Winkel-liefdadigheidswinkel oopgemaak en daarmee sy 100ste baken van hoop gevier.

Die 100ste Ons Winkel is op Hermanus geopen, en die sanger Jak de Priester het die geleentheid saam met Helpende Hand gevier. Deel van dié vieringe was om 100 dankie-sê-pakkies aan Mediclinic Hermanus se personeel uit te deel. Dit is as deel van Helpende Hand se #WitStrik-gebaar gedoen, wat ʼn simbool is van dankbaarheid vir die onbaatsugtige werk wat die Covid-19-voorgrondwerkers gedurende die pandemie lewer.

Van die Ons Winkels neem ook vandeesmaand deel aan die 100 Dade van Hoop-projek om, bo en behalwe hul normale opbouingswerk, ook iets besonders in hul gemeenskappe te doen.

Johan Nel, uitvoerende direkteur van Helpende Hand Sake, sê dit is vir hom ʼn groot voorreg en mylpaal om gedurende sy tyd by Solidariteit Helpende Hand by die stigting van ál 100 winkels betrokke te kon wees.

“Helpende Hand Sake verseker dat ons die Ons Winkel-handelsmerk laat groei tot ʼn huishoudelike naam wat sinoniem is met besighede wat produkte van ʼn goeie gehalte teen bekostigbare pryse aanbied, en wat ʼn volhoubare verskil in hul onderskeie gemeenskappe op ʼn gestruktureerde wyse maak,” sê Nel.

2) Johan Nel, uitvoerende direkteur van Helpende Hand Sake, Lampies Lötter, eienaar van Ons Winkel Hermanus, en Hannes Noëth, Helpende Hand se uitvoerende direkteur, open die 100ste Ons Winkel. (Foto: Verskaf)

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, verduidelik die eerste skenkingswinkel het in 2010 in Centurion oopgemaak. Dit het as plek gedien waar die publiek klere en huisware vir liefdadigheid kon skenk. Die skenkings en verkope daarvan is weer direk in die gemeenskap ingeploeg.

Die inisiatief was so gewild en skenkingswinkels het daarna in stede en dorpe landwyd oopgemaak. In 2016 het die verskillende skenkingswinkels ʼn eenheid gevorm en onder die vaandel van Ons Winkel begin handel dryf.

“Ons Winkels is ʼn wen-wen-inisiatief wat na vyf belangegroepe toe gedraai is: Die skenker, koper, verkoper, begunstigde en dan natuurlik Helpende Hand. Skenkers skenk dit wat oortollig in hul huishouding is, maar weet ook dat dit in kapitaal omgesit word vir verskillende geoormerkte produkte,” sê Noëth.

“Ons kopers is wenners, want hulle kry gehalteprodukte teen baie bekostigbare pryse en is gerus dat dit wat hulle koop, ʼn verskil in iemand anders se lewe maak.

“Ons winkelkontrakteurs ontvang die skenkings, verwerk dit en verkoop dit. Ons doen dit gestruktureerd, georganiseerd en met baie fyn kontrole en beplanning. Tans verskaf die winkels werkgeleenthede aan nagenoeg 317 mense.

3) Helpende Hand-personeel vier die opening van Ons Winkel Hermanus. (Foto: Verskaf)

“Die begunstigdes is natuurlik die grootste wenners van Ons Winkels. Dit is óns streke wat tans 22 maatskaplike werkers kan aanstel, óns studente wat studielenings daaruit kry, sentrums wat kinders in die middae versorg en takke wat verskeie Helpende Hand-projekte kan aanpak,” sê hy.

Noëth meen dat Ons Winkels die geleentheid skep vir almal om by te dra tot die hantering van die nood onder mense, die voorsiening in behoeftes, en om ʼn sinvolle bydrae in die hantering van armoede te maak.

“Sáám kan ons almal ʼn groot verskil maak – stap bloot net by jou naaste winkel in, en koop of skenk iets. Dit is die ideale manier om van oorbodige items ontslae te raak, en boonop weet jy dit gaan aangewend word om ’n verskil te maak,” het Noëth bygevoeg.

Enigiets kan by die Ons Winkels afgegee word – van meubels, gereedskap, oudhede, kombuisware, klere, beddegoed, gordyne, speelgoed, skoene, sporttoerusting en tegnologiese ware.

Besoek Helpendehand.co.za/ons-winkel om die naaste Ons Winkel aan jou op te spoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Alette

Goeie werk