Helpende Hand-opname gee Afrikaners ’n stem

Argieffoto (Verskaf deur Helpende Hand)

Solidariteit Helpende Hand is besig met ʼn behoeftebepaling onder Afrikaanse gemeenskappe om vas te stel wat hul behoeftes is om sterk, selfversorgende gemeenskappe te bou.

“Daar was ’n tyd wat die regering meer suksesvol was met navorsing in gemeenskappe,” sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand. “Gemeenskapsontwikkelingsplanne en -programme was daargestel vir ’n georganiseerde, gestruktureerde volhoubare samelewingsplan. Dit gebeur nie meer nie. Ons kan nie na die regering kyk vir hulp en programme oor hoe ons gemeenskap opgehef moet word nie. Gemeenskappe gaan dit self moet doen. Vir gemeenskappe om dit self te doen, moet ons weet wat die nood en die dringendste behoefte in daardie spesifieke gemeenskap is, want die kapitale voordeel van ’n regering het gemeenskappe ook nie.”

Noëth sê Helpende Hand glo dat gemeenskappe die vermoë het om self verantwoordelikheid te aanvaar vir hulle kinders, gesinne, persone met gestremdhede en ouer persone. “Helpende Hand wil deur middel van hierdie vraelys die uiteenlopende behoeftes en uitdagings van elke gemeenskap bepaal sodat doeltreffende oplossings vir maatskaplike kwessies in die gemeenskappe gevind kan word.”

Volgens hom toon navorsing wêreldwyd dat lukrake projekte sonder behoorlike navorsing oor die behoeftes van die spesifieke gemeenskap, uiters onproduktief, niksseggend en ʼn vermorsing van hulpbronne is.

Die anonieme vraelys is pas van stapel gestuur om ’n holistiese profiel van die gemeenskappe te verkry, sodat doeltreffende oplossings vir maatskaplike kwessies in die gemeenskappe gevind kan word. ’n Belangrike deel van hierdie gemeenskapsopname is om die sterkpunte van ons gemeenskappe te bepaal.

Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werkers gaan na aanleiding van die behoeftes en uitdagings vanuit die navorsingopname, maatskaplike ondersteuningsprogramme ontwikkel om motiverende denkwyse te bevorder; vaardighede wat nodig is, te ontwikkel; behoeftes/uitdagings aan te pak sodat die mense binne hul gemeenskappe kan floreer; en gemeenskappe daardeur versterk kan word.

“Dit is ons gemeenskap, ons groei, ons ontwikkeling, ons oplossings, ons talente, ons gawes, ons besigheid, ons veiligheid, ons holistiese welstand, ons kultuur, ons huis, ons entrepreneuriese vermoëns, ons denke, ons kerk, ons werk, ons kinders, ons omgewing, ons geleenthede, ons nalatenskap – wat nou ’n verskil gaan maak,” voeg Noëth by.

Die publiek word uitgenooi om die vraelys anoniem by www.onsgemeenskap.co.za in te vul. Laat só jou stem tel vir ’n beter, hoopvolle toekoms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.