Helpende Hand reik uit ná storm laerskool tref

HH-lsprotearif-01

Helpende Hand se personeel neem die kratte vol skryfbehoeftes na die Laerskool Protearif nadat die skool tydens ʼn erge donderstorm verlede week verwoes is. Foto: Verskaf.

Laerskool Protearif in Krugersdorp het ʼn skenking van R52 000 van Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum ontvang.

Die skool is een van talle instansies in die Wes-Rand en Gauteng-omgewing wat deurgeloop het onder haelskade ná ʼn erge donderstorm die omgewing verlede Maandag getref het.

Shaun Strydom, adjunkhoof van Laerskool Protearif, het gesê die strukturele skade aan die skool is so erg dat daar moontlik nie vanjaar weer op die terrein skoolgegaan sal word nie. “Ons hele skool sal in groepe verdeel word en na lokale by ander skole en kerke gestuur word waar die leerders tydelik sal kan skoolgaan.”

hh-lsprotearif-02

Die personeel van Laerskool Protearif en Helpende Hand by die kratte en skryfbehoeftes ter waarde van R52 000 wat Vrydag aan die skool geskenk is. Foto: Verskaf.

Volgens Strydom is skryfbehoeftes vir die leerders in die grondslagfase een van die skool se grootste behoeftes tans.

Die skoleondersteuningsentrum het die daad by die woord gevoeg en Vrydag reeds 13 van die organisasie se gesogte skatkiste aan onderwysers van die skool geskenk. Die skatkis bevat skryfbehoeftes, pragtige Afrikaanse plakkate, legkaarte, blokkies en ’n springtou. Verder is daar ook ’n verskeidenheid handleidings in die kis. Die waarde van so ’n skatkis beloop ongeveer R4 000.

Hugo Vermeulen, hoof van die skoleondersteuningsentrum, het gesê dit is vir die organisasie van sleutelbelang dat die skool so gou moontlik weer na normaal terugkeer. “Die kinders is reeds baie ontwrig en dit is nou naby aan die eksamen. Dit is baie belangrik dat hulle nou begin voorberei vir die eksamen en hierdie skatkiste sal hulle daarmee help.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.