Helpende Hand sê dankie

René Roux van Helpende Hand. (Foto: Verskaf.)

Helpende Hand stuur dié week ’n dankie-sê-veldtog van stapel. In die gejaagdheid van die daaglikse lewe is dit so maklik om die gewone hoflikhede te vergeet. Die gewoonte om dankie te sê, verryk ongetwyfeld elke aspek van ʼn mens se lewe. Dit skep soveel geluk vir beide die gewer en die ontvanger.

Helpende Hand glo daarin om in dankbaarheid te ploeg, dan om hoop te saai, en om daarna in geloof te oes. Helpende Hand het in 2020 werklik geploeg, gesaai en geoes. Maar ons het nie al drie alleen gedoen nie. Hierdie jaar wil ons spesifiek die laaste twee maande van 2020 opsysit om net dankie te sê.

Ons wil dankie sê vir elke liewe ondersteuner, boer, vrywilliger, personeellid, skenker en donateur.

Dankie vir jou bydrae om 2 064 instansies te help, dankie dat jy gehelp het om 22 508 gesinne se nood te verlig, en dit net in die tydperk van die nasionale inperking. Dankie dat jy gehelp het om 32 ton wildsvleis in te samel vir behoeftige kleuters. Dankie dat jy aan 3 000 jong meisies sanitêre ware voorsien en daardeur seker gemaak het dat hulle skool toe kan gaan. Dankie dat jy aan 8 000 behoeftige kinders elke dag ’n bord kos gee – dit is dikwels die enigste bord kos wat hulle per dag kry. Dankie dat jy deel was van die publiek wat meer as R24,2 miljoen ingesamel het vir die Krisisfonds tydens die nasionale inperking. Dankie dat jy gehelp het om meer as R43 miljoen in te samel vir behoeftige studente om te kan gaan studeer en die kringloop van armoede finaal te verbreek.

(Grafika: Helpende Hand)

Dankie dat jy help bokse pak het, dankie dat jy ons sosialemediaplasings gedeel en gehelp het om die woord te versprei. Dankie dat jy ons Helpende Woord gelees het, dankie dat jy van jou swaarverdiende geld geskenk het aan mense wat nie het nie.

Dankie dat jy ʼn skenking gemaak het aan een van Helpende Hand se 70 Ons Winkels landwyd – dit maak ’n volhoubare verskil. Dankie dat jy seker gemaak het dat 4 000 graadeenleerlinge sy of haar skoolloopbaan met ’n gelukkige hart kan begin deur vir hulle tassies vol skryfbehoeftes te voorsien.

Dankie dat jy deelneem aan ons aksies en uitreike, dankie dat jy vir ons bid, dankie dat jy ons mense help en saam met ons staan om Suid-Afrika ’n beter plek te maak.

Dankie dat jy deel vorm van die 40 000 ondersteuners van Helpende Hand wie se hande elke dag groter is as die hande wat vra.

Psalm 147:7 sê ons moet ’n danklied sing… Ons sing vandag ’n danklied aan ons Hemelse Vader en dan aan jou. Want saam is ons sterker en saam kan ons nog baie behoeftige, kwesbare groepe van hulp voorsien.

Laastens wil Helpende Hand dankie sê dat jy saam met ons die pad sal stap om kulturele, geestelike, sosio-emosionele en fisieke armoede deur maatskaplik-gebaseerde gemeenskapsontwikkeling te verlig, te verbreek en te voorkom om sodoende ons kwesbare groepe wat kinders, bejaardes, gestremdes en gesinne insluit, te laat groei in hul gemeenskappe om só nie net ’n volhoubare verskil te maak nie, maar ’n gesonde samelewing te skep waarin ons vry, veilig en voorspoedig kan leef aan die suidpunt van Afrika.

  • Rene Roux is die adjunk-uitvoerende hoof van kommunikasie by Solidariteit Helpende Hand

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.