Helpende Hand se ‘Ons Winkels’ maak blywende impak

(Foto verskaf)

Helpende Hand se Ons Winkel-skenkingswinkels het oor die afgelope tyd ʼn baken van hoop in meer as 100 dorpe en stede landwyd geword, waar dit ʼn blywende impak gemaak het en net van krag tot krag gaan.

Dit gee studente die geleentheid om te studeer, skep werk en maak boonop maatskaplike hulp in Afrikaanse gemeenskappe beskikbaar.

“In 2009 toe die konsep met die eerste winkel ontstaan het, het ons nie gedink hierdie inisiatief sou so wyd uitbrei nie,” sê Johan Nel, uitvoerende direkteur van Helpende Hand Sake. “Ons het pas ons 116de Ons Winkel se deure oopgemaak en ons hoop om binnekort ʼn voetspoor reg oor die land te hê.”

Nel sê Helpende Hand is dankbaar dat die Ons Winkels tot dusver sulke wonderlike groei getoon het – nie net in die toename van die getal winkels nie, maar ook in die hoeveelheid gesinne wat tot dusver ondersteun kon word deur die organisasie se verskeie projekte.

Skenk vir hoop, maak ʼn verskil

(Foto verskaf deur Helpende Hand Ons Winkels)

“Ons Winkels” is ʼn sentrale punt waar die publiek tweedehandse items, waarvoor hul nie meer ʼn nut het nie, kan skenk. Alle skenkings word opreg waardeer. Van daar word ʼn prys daarvoor bepaal voor dit in die winkel uitgestal word. Die publiek kan dan dié tweedehandse items koop. “Die wins van die verkope stel ons in staat om jaarliks honderde Afrikaanse studente, wat nie noodwendig die fondse het nie, die geleentheid te gee om aan ʼn geakkrediteerde tersiêre instelling te gaan studeer. Die hulp van dié rentevrye studielenings maak dit vir hierdie jongmense moontlik om hulself te bekwaam en hulself voor te berei vir ʼn blink toekoms waarby die student en sy/haar nageslag gaan baat.”

Enigiets kan by ʼn Ons Winkel geskenk word – van meubels, boeke, linne, sporttoerusting, kombuisware, klere, elektriese toebehore of werklik enige iets anders wat in die pad staan.

Hoe kom ʼn Ons Winkel tot stand?

Elke winkeleienaar is iemand met ʼn hart vir mense wat graag ʼn verskil in sy/haar gemeenskap wil maak en ʼn blywende impak op dié mense om hulle maak. “Nog ʼn wonderlike inisiatief vanuit die winkels is die werkskepping vir die winkeleienaar en sy/haar personeel. Tans sorg die winkels vir 350 werksgeleenthede reg oor die land,” voeg Nel by.

Sodra ʼn lid van die publiek aansoek doen om ʼn Ons Winkel in sy dorp of stad te bedryf, gaan die persoon deur ʼn reeks prosedures om goedgekeur te word. Dit is vir Helpende Hand ʼn belangrike vereiste dat die potensiële winkeleienaar ingeskakel is by sy/haar gemeenskap en ook self in die gebied woon.

“As die kandidaat geskik is vir die rol, en inkoop in Helpende Hand se waardes, missie en vissie, begin die proses. Die potensiële kontrakteur moet genoegsame kapitaal hê om die winkel tot stand te bring.”

(Foto verskaf deur Helpende Hand Ons Winkels)

Eerstens moet ʼn perseel gevind word met die ideale ligging, grootte en infrastruktuur. Daarna word die winkel se interieur deur die eienaar behartig en vensterplakkers met die Ons Winkel-handelsmerk aangebring. As deel van hierdie proses woon die nuwe winkeleienaar ʼn in-diepte opleidingsessie by en word ook prakties touwys gemaak met opleiding in ʼn bestaande winkel saam met ʼn reeds ervare winkeleienaar.

Die nuwe winkeleienaar kan dan solank begin om skenkings te ontvang en bepaal self wanneer hy/sy die winkel amptelik wil open. Op die dag van die opening woon óf die Ons Winkel-hoofkantoorspan óf die areabestuurder die winkel se opening by. Dan kan die winkel sy deure oopmaak en handel dryf.

“Om op te som – enigiets wat by die huis in die pad staan kan aan Ons Winkels geskenk word. Die goedere word dan verkoop en deur Helpende Hand vir verskeie doeleindes aangewend om voorspoed in Afrikaanse gemeenskappe te verseker. Ondersteun die winkel en werkskepping deur gereeld daar vir winskopies, versteekte skatte en oudhede te gaan rondsnuffel.”

Die opbrengs stel Helpende Hand ook in staat om maatskaplike werkers in verskeie streke aan te stel en so ʼn blywende verskil te maak in die lewens van talle kinders en gesinne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.