Helpende Hand se Tassie-projek gaan matriek toe

Die sesjarige Jayden Botha (Foto: Helpende Hand)

Talle van die hulpbehoewende graadeens wat twaalf jaar gelede van die eerstes was wat ’n volgepakte skooltassie van die Solidariteit Helpende Hand ontvang het, is vanjaar in matriek.

Drie van dié matrikulante was Vrydag saam met bekendes soos die voormalige Springbokrugbyspeler Bakkies Botha en Ivan Roux, van Die Kontrak-faam, by die Nederduits-Gereformeerde Kerk in Booysens om die laaste van die 5 000 skooltassies aan graadeens van Laerskool Genl. Nicolaas Smit uit te deel. Die tassies is met die hulp van Solidariteit Helpende Hand se motorfietsklub na die kerk gebring. Die res van die 5 000 tassies is vroeër vanjaar by 182 skole landswyd aan behoeftige graadeens uitgedeel.

Hannes Noëth, besturende direkteur van Helpende Hand, het tydens die geleentheid gesê altesaam R1,9 miljoen is in 2018 ingesamel om te sorg dat die 5 000 hulpbehoewende graadeens vanjaar met ’n ten volle toegeruste skooltassie hul skoolloopbaan kan begin.

“Altesaam 44 810 tassies is oor die afgelope 12 jaar uitgedeel sedert die projek in 2007 van stapel gestuur is en nagenoeg R15 miljoen is reeds spandeer om graadeens oor nege provinsie gerat te kry vir skool,” het Noëth gesê.

Van die bekendes wat deur die jare ambassadeurs van dié projek van Helpende Hand was, sluit in Lindie Strydom, Bakkies Botha, Sorina Erasmus (die Flooze), Buffelsfontein Baardolie se Meyer le Roux, Carike Keuzenkamp, Chris Chameleon, Pieter Rossouw, Gerhard Steyn, Bobby van Jaarsveld, Springbok-afrigter Rassie Erasmus, 7de Laan se Chris Vorster, Verna Vels, Mel Botes, Shaleen Surtie-Richards, Steve Hofmeyr, Riana Nel en nou ook Ivan Roux.

Ivan Roux (Foto: Helpende Hand)

“Om graadeens toe te rus met al die skryfbehoeftes wat hulle benodig, is vir my ’n groot voorreg,” het Roux verduidelik. “Ek het ook minderbevoorreg groot geword. Ek het nie altyd die nodige skryfbehoeftes gehad nie. Ons het nie vir Helpende Hand in daai tyd gehad om ons te help met tasse en skryfbehoeftes nie. Ek weet hoe dit voel om langs ’n maatjie te sit wat alles het en jy moet dit by hom leen. Jy gaan huis toe en kan sien jou ma voel sleg omdat hulle nie kan help nie. Ek weet dit is hartseer, maar ek is bly dat ons saam met Helpende Hand en die gemeenskap kan werk om ’n verskil te maak.”

Die Tassie-projek het in 2007 begin toe Chris Sealie, die hoof van Laerskool Genl. Nicolaas Smit, en Mariana Kriel, Helpende Hand se streeksorganiseerder van Gauteng-Noord, hande gevat het om vir behoeftige kinders die nodige gereedskap te gee om hul skoolloopbaan aan te pak op ’n gelyke vlak met hul skoolmaats wat meer bevoorreg is. Altesaam 1 800 tassies is in daardie stadium landwyd uitgedeel, waarna die getal jaarliks meer geword het.

Willem Benade (17), ’n leerlingsraadslid van Hoërskool Tuine wat in 2007 een van die graadeens was wat by Laerskool Genl. Nicolaas Smit ’n tassie ontvang het, het tydens die geleentheid vir die nuwe graadeens gesê om hul tassies te waardeer en hard te leer op skool om groot hoogtes te bereik.

“Die tassie wat ek ontvang het toe ek klein was, het vir my deure oopgemaak en my van liefdadigheidswerk geleer. Vandag probeer ek graag om ander mense te help waar ek kan. Ek en my tweelingboetie Dries, het ’n passie vir liefdadigheidswerk as gevolg van die Tassie-projek,” het Willem bygevoeg.

Die inhoud van die skooltassies sluit onder meer die volgende in: ʼn boekie met Bybelstories, uitdraaikryte, ʼn legkaart, inkleurpotlode, grys potlode, ʼn liniaal, ʼn skerpmaker, ʼn skêr, ʼn uitveër, gom, pennesakkies en penne. Die waarde van die tassie met sy inhoud is ongeveer R380.

(Foto: Helpende Hand)

Noëth het gesê die Skooltassieprojek is een van die liefdadigheidsorganisasie se “malste projekte” wat tans bedryf word. “Uit ʼn sakeoogpunt maak dit regtig finansieel nie sin om so baie geld op een projek te bestee nie,” het Noëth gesê. “Die druk is soms groot om die projek te stop en die R1,9 miljoen vir iets anders aan te wend. Mense vra ook hoekom ons nie goedkoper tasse vir die graadeens opmaak nie, maar ons wil seker maak elke kind kry net die beste wat hy of sy verdien, net soos hul maatjies wat meer bevoorreg is. Niemand mag uitstaan nie.”

Noëth het benadruk alhoewel die druk bestaan om die projek te staak, gaan dit nie gebeur nie. “Ons sal net harder werk om die geld in te samel, want ons weet dit is nodig om armoede te help verlig en bied dit die volgende generasie die geleentheid om vorentoe te gaan – toegerus met ʼn skooltas en gewapen met die woord van God in die vorm van ’n boekie vol Bybelstories. Ons wil volgende jaar nog meer graadeens help,” het Noëth bygevoeg.

Mense wat die projek wil ondersteun, kan die woord TASSIE per SMS na 38969 stuur teen R10 elk. Of besoek helpendehand.co.za/skooltassie om ʼn skenking te maak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Baie bly ·

Dit is sulke goeie nuus. Baie dankie aan almal wat die pragtige kinders help. Julle is wonderlik….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.