Helpende Hand se water les dors en voed die siel

Die etiket van Helpende Hand se waterbotteltjies. Foto: Verskaf.

Solidariteit Helpende Hand is opgewonde om bekend te maak dat hy van vandag af die suiwerste natuurlike mineraalwater uit die hartjie van die Magaliesberg aan die publiek beskikbaar stel vir verbruik. Nie net is die water spotgoedkoop nie, die opbrengs daarvan word ook aangewend om Helpende Hand se verskeie projekte en studiefondse te versterk.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, en ’n span afgevaardigdes het onlangs tot die bron van die spruit in die Groothoekkloof van die Magaliesberg naby Brits gestap en die pad van die water gevolg tot waar dit onder streng kriteria van die SABS by die Oude Tonge Boerdery gefiltreer, osoniseer en gebottel word. Die eindproduk is die varsste, skoonste en heerlikste mineraalwater wat nie jou beursie gaan stroop nie.

Wat die pryse betref: 500 ml-botteltjies kos tans slegs R6,50, 1,5 l-bottels kos R10 en 5 l-bottels gaan jou slegs R17 uit die sak jaag. Die suiwer vloeistof bevat ’n gesonde mengelmoes van noodsaaklike minerale wat strek van magnesium, sulfaat, natrium, nitraat, kalsium en yster.

Die bekendstelling van Helpende Water volg kort op die hakke van Helpende Hand se voedsame StopHonger-stafies en Helpende Hand glo dat die water net so ’n wegholsukses soos die stafies sal wees. Die stafies is tans in drie heerlike geure beskikbaar – piesang en karamel; sonneblom- en pampoensaad; en veselperske, pynappel en klapper. Die stafies kos R20 elk (posgeld uitgesluit) en is aanlyn beskikbaar by www.stophonger.co.za. (Om ’n agent te word en die stafies in jou gemeenskap te verkoop, stuur ’n e-pos na [email protected]. ’n Agent maak 40% inkomste op sy aanvanklike belegging. Let wel, dis slegs agente vir die verkoop van die stafies, nie die water nie.)

Die bron van Helpende Hand se eie gebottelde fonteinwater. Foto: Verskaf.

“Met Helpende Water betree Helpende Hand weer ’n nuwe fase. Die bedoeling van Helpende Hand is tweevoudig – ons verskaf ’n produk wat ’n huishouding in elk geval aankoop en met die ondersteuning en aankoop van ons water, ondersteun die publiek ook Helpende Hand se verskeie welsynsprojekte. Dit is vir Helpende Hand nog altyd die doel om ons projekte op kommersiële vlak sterker te maak,” sê Noëth.

“Dit is belangrik dat die publiek verstaan dat Helpende Hand ons ondersteuners die geleentheid bied om hierdie gesonde gebottelde fonteinwater goedkoop aan te skaf soos hulle in elk geval vir hul huishouding sou doen, maar met die wete dat hulle met hul aankope ’n verskil maak en bydra in Helpende Hand se doel om armoede te verlig, te verbreek en te voorkom.

“Daarom moedig ons almal aan om die projek te ondersteun en water by die afsetpunte te koop. Met Helpende Water probeer Helpende Hand ’n volgende tree gee in die volhoubaarheid van ons welsynsprojekte,” sluit Noëth af.

Die water is tans net by sekere Ons Winkels in Gauteng, Mpumalanga en Noordwes beskikbaar. Daar word egter nog opsies ondersoek om dit verder uit te brei. Besoek nou jou Ons Winkel in Witbank, Centurion, Pretoria-Wes, Pretoria-Noord, Sinoville, Brits, Rustenburg en Moot-Oos. Kliek hier vir die winkels se adresse. Die StopHonger-stafies is ook by dié winkels beskikbaar.

Vir meer inligting of om water te bestel, stuur ’n e-pos aan David Deysel na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.