Helpende Hand skakel (goedkoper) lig aan by ouetehuise

Die sangeres Elme Churr het die bejaardes vermaak met die bekendstelling van dié projek. (Foto: Verskaf.)

Solidariteit Helpende Hand het pas sy Skyn-projek van stapel gestuur wat gaan poog om gloeilampe by ouetehuise landwyd met LED-ligte te vervang en die tehuise te help om krag te spaar.

Benette Welman, Helpende Hand se projekorganiseerder vir bejaardes, verduidelik die Skyn-projek het die lig gesien na aanleiding van navorsing wat in 2019 onder behoeftige bejaardes en ouetehuise gedoen is.

In hierdie navorsing het Helpende Hand, onder meer, bevind dat munisipale rekeninge vir 87% van die tehuise hul tweede of derde grootste uitgawe is. Hierdie tehuise sny eerste op hul instandhoudingsbegroting om bejaardes te versorg en hul elektriese toestelle soos ligte, geisers, yskaste en stowe is glad nie energiedoeltreffend nie.

“Suid-Afrika beleef groot uitdagings wat elektrisiteitsvoorsiening betref en dit is ons almal se verantwoordelikheid om elektrisiteit so slim en spaarsamig moontlik te gebruik,” sê Welman.

“Om hierdie redes het Helpende Hand besluit om in te gryp en ons bejaardes en gestremdes te ondersteun deur tehuise in staat te stel om die begroting tot hul beskikking eerder te gebruik vir die versorging van inwoners as vir munisipale rekenings.”

(Foto: Verskaf.)

Sy sê die eerste stap gaan wees om die bestaande ligte in die tehuise met die hulp van Afrison, ʼn plaaslike vervaardiger van hoëgehalte, energiebesparende LED-ligte, te vervang.

“Die projek verseker groot besparings in elektrisiteit wat ten voordeel van die omgewing strek en ook elektrisiteitstekorte in Suid-Afrika teenwerk. Bowendien werk dit alles in die tehuise se guns,” voeg sy by.

Welman sê by die gemiddelde tehuis behels uitgawes aan ligte nagenoeg 25% van die tehuis se kragverbruik.

“LED-ligte is energiedoeltreffend en gebruikers spaar maklik tussen 50 en 90% op die ligtegedeelte van hul elektrisiteitsrekening. LED-ligte het ʼn baie langer leeftyd as dié wat nog van ou tegnologie gebruik maak. Dit bevat geen giftige elemente nie en is ook herstelbaar, wat dit dus ekovriendelik maak.”

Die eerste tehuis wat by die Skyn-projek gaan baat, is Ons Hoop op Modimolle (Nylstroom). Die projek se bekendstellingsfunksie is verlede week by dié tehuis gehou waartydens Hannes Noëth, Helpende Hand se uitvoerende direkteur, die inwoners oor die projek toegespreek en die sangeres Elme Churr die bejaardes vermaak het. Die proses gaan sowat ʼn week duur, waarna een tehuis op ’n slag aangepak gaan word.

(Foto: Verskaf.)

As voldoende fondse betyds ingesamel word, hoop Helpende Hand om in April te begin om die ligte te vervang.

“Om al die ligte van die Ons Hoop-tehuis te vervang, sal tot ’n 59%-besparing op elektrisiteitsverbruik vir beligting lei. Die tehuis sal dus duisende rande bespaar op hul elektrisiteitsrekening. Terselfdertyd sal die gehalte van die ligte baie beter wees as wat dit tans is. Die ligte het ʼn vyfjaarwaarborg,” sê Welman.

Sy sê daar is redelike hoë koste verbonde aan so ʼn projek en Helpende Hand kan dit nie sonder die publiek se hulp aanpak nie.

“Jy kan letterlik die lig in iemand se lewe wees, maar meer nog, deur die projek laat jy nie net die donkerte vir een persoon verdwyn nie, maar vir ʼn hele tehuis en ʼn groter gemeenskap,” sluit sy af.

Besoek www.skynprojek.co.za vir meer inligting oor hoe om die lig in ’n bejaarde se lewe te wees, of SMS die woord SKYN na 45763 om jou steun aan die projek toe te sê. SMS’e kos R2.

Hier volg ʼn video oor die projek:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.