Helpende Hand spreek tekort vir Afrikaanse tuisversorgers aan

Argieffoto: Pixabay

Julius Malema is beslis nie my gunstelingpolitikus nie. Dit is altyd merkwaardig hoe min denke hy agter so baie woorde insit. Daarom is dit vir my moeilik om te glo hoekom hy so baie steun kry. Hiermee bedoel ek nie net die EFF nie. Dis duidelik dat sy sienings in die ANC ook groot aanhang geniet. Dis waarskynlik hoekom hy so “onaantasbaar” is. Ten spyte van ernstige bewerings van erge misdade, is hy nog nie vervolg nie. Dit is waarskynlik omdat die ANC bekommerd is dat aanklagte teen hom ʼn groot reaksie tot gevolg kan hê.

Hoekom het iemand wat ooglopend soveel nonsens praat dan soveel steun? Een van die groot redes is Malema se standpunt oor arbeid. Hy sê gereeld dat Apartheid steeds voortbestaan, omdat wittes “van wieg tot graf” deur swartmense bedien word. Dis nou volgens Malema omdat wit babas deur swartmense opgepas word, jong wit kinders se kamers deur swart werkers skoongemaak word, hulle in witmense se tuine werk, swart versorgers wit oues in ouetehuise versorg, en dat swart werkers selfs witmense se grafte toegooi. Natuurlik verdraai en oordryf Malema die feite om sy politiek te pas, maar daarmee boor hy ook ʼn rou senuwee onder baie swartmense raak. Die arbeidsbedeling was nog altyd in breë terme deur witmense wat hoër posvlakke beklee gekenmerk, met baie swartmense in die onderste poste. Dit was die oorsprong van die ANC se propaganda dat witmense se welvaart op swart arbeid gebou is.

Cappuccino

Nie Malema of die ANC antwoord natuurlik ooit die vraag oor die swart armoede in ander dele van Afrika waar daar nie die gehate “wit” werksverskaffers is nie. Die grondslag van hulle argumente is so reg uit Marx se geskrifte, waarvolgens enige werkgewer ʼn krimineel is wat werkers uitbuit.

Die een punt waaroor Malema en sy ANC-geesgenote reg is, is dat die Suid-Afrikaanse werksmag redelik enig in sy soort in die wêreld is. Dit is nie algemeen dat so ʼn groot aantal lede van een rassegroep, op so ʼn groot skaal laaggeskoolde werk vir ʼn ander rassegroep doen nie. Daar is wel ander gevalle in die wêreld, maar die skaal hier by ons is uniek. Die ingeboude spanning van so ʼn arbeidsbedeling word versterk deurdat die werkers nou politieke mag oor hul werkgewers het. Dit skep ʼn toestand waar die een groep se politieke mag teenoor die ander se ekonomiese mag staan.

Dit is natuurlik so dat daar oor die algemeen goeie verhoudinge tussen die werkgewer en werknemers van verskillende rasse bestaan, maar dit verhoed nie politici om hierdie situasie uit te buit nie.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging (Foto: Reint Dykema)

“Communist”

Google gerus ʼn video “my mother was ‘n kitchen girl, my father was a garden boy, therefore I am a communist”. Dis ʼn gewilde liedjie by menige Cosatu- en SAKP-vergadering. Dit is die rede hoekom die land se arbeidsmark nog altyd deur politici as ʼn klassestelsel wat op kleur gebou is, voorgehou word. Dit het by die kommunistiese idee ingepas dat die werkersklas teen die besittersklas in opstand moet kom, hulle in ʼn rewolusie moet omverwerp en dan met ʼn “diktatorskap van die werkers” verdruk. Die resep hiervoor was nog altyd wêreldwyd eenvoudig: die werkersklas moet as meerderheid die politieke mag met demokrasie oorvat, en dan die politieke mag gebruik om die ekonomiese mag deur sosialisme te bekom. Dis hoekom die swart vakbonde voor 1994 die ware bevrydingsmag van die swartmense was, en nie die ANC se gewapende vleuel nie.

Dit is die onderliggende beweegrede vir die ANC se rassekwotas en beleid van radikale transformasie wat op die samelewing afgedwing word. Dis ook die rede agter al die sosialistiese beleidsrigtings wat die regering die afgelope jare probeer invoer.

Tuisversorgers

Salomien Cloete, een van Helpende Hand se eerste tuisversorgingstudente, sit op haar bed in haar pragtige kamer in die Siësta-aftreeoord. (Foto: Verskaf)

Die tyd van die ou “cappuccino”-werksmag is verby. Die verpolitisering van die werksmag het reeds daartoe gelei dat die Suid-Afrikaanse arbeidsverhoudinge deur die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) as die slegste van alle lande wat gemeet word, beoordeel word. Solidariteit Helpende Hand moes al talle kere tydens stakings by ouetehuise ingryp om mense te help wie se versorgers nie wou werk nie.

Die afgelope jare het daar ʼn groeiende behoefte na Afrikaanse tuisversorgers ontstaan. Baie Afrikaanse bejaardes vra na versorgers wat in hulle eie taal met hulle kan praat en hulle kan versorg. Dit is ook nie altyd prakties of bekostigbaar om in ʼn ouetehuis te gaan bly nie. Daar is aan die ander kant ook ʼn groeiende behoefte onder jonger Afrikaanse mense om versorgers te word.

Dit is hoekom Solidariteit Helpende Hand hierdie behoefte van hierdie twee kante af raakgesien het, en fondse vir jongmense wil insamel om as versorgers opgelei te word. Die eerste groep studente is reeds suksesvol in Pretoria en in Bloemfontein opgelei. Ons wil graag die volgende groep vroeg in volgende jaar laat oplei – in Port Elizabeth, Paarl, Krugersdorp en Naboomspruit.

Die opleiding kos R8 500 per versorger vir ʼn tydperk van ses maande. Dit sal regtig waardeer word as daar mense is wat bereid is om te help met die koste van die opleiding van hierdie studente. Dit verander nie net ʼn student se lewe wat nou werk kan kry nie, maar ook die van bejaardes wat nou in hul eie taal versorg kan word.

Vir meer inligting vir hoe om ʼn tuisversorgingstudent te borg of om as tuisversorgingstudent vir 2022 in te skryf, besoek gerus www.shhtuisversorging.co.za of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

melaney ·

Soos altyd, uitstekende leestof uit die pen van Flip Buys. Daar is baie afrikaanssprekendes wat smeek om werk en wie sou graag opgelei wil word om hulle medemens van hulp te wees. Ek let ook op dat daar wel huidiglik opgeleide afrikaanssprekendes IS wat hierdie tipe werk soek, maar hulle kry nie werk nie. Die “ander” burgers kry daardie werk.

piet ·

Dis nie korrek dat Malema nog nie vervolg is nie. Ek weet van minstens twee sake wat aan die gang is.

Karinb ·

Fantastiese inisiatief. Daar is groot behoefte aan Afrikaanse versorgers, mans en dames. Ek sal met julle in verbinding tree om meer inligting te bekom.
Ek wens julle sukses toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.