Helpende Hand stig tak vir gehoorgestremdes

René Roux, Helpende Hand se adjunkhoof van kommunikasie, Ansie Hoffman, tolk en voorsitter van Helpende Hand se tak vir gehoorgestremdes, en Hannes Noëth, Helpende Hand se uitvoerende direkteur. (Foto: Verskaf)

Solidariteit Helpende Hand het pas sy nasionale tak vir gehoorgestremdheid gestig. Die tak wil help om die gawes van mense met gehoorgestremdhede te benut om saam ʼn verskil te maak.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, sê hy is opgewonde oor die tak. Dit bring ʼn hele gemeenskap, wat tans buite staan, binne die Helpende Hand-familie in.

“Daar is vier kwesbare groepe waaraan Helpende Hand voortdurend hulp verleen: kinders, bejaardes, mense met gestremdhede en gesinne. Dit is belangrik vir Helpende Hand om na die holistiese welstand van die mense te kyk en op geestelike, emosionele, sosio-emosionele en kulturele vlak te probeer help.

“Die doel van die tak is om landwyd projekte vir mense met gehoorgestremdhede te skep. Ons droom groot van baie projekte, baie studiefondse, opleiding van tolke en om baie mense te help. Hierdie tak is nuut en enig in sy soort. Hierdie tak is vir ons ontsettend belangrik – as dit floreer, maak dit deure vir nog takke soos dié oop,” sê Noëth.

Helpende Hand het reeds in 2020 sy netwerk van ere-ondersteuners bekend gemaak. Hulle is mense van 90 jaar en ouer en diegene wie se gestremdhede veroorsaak dat hulle nie meer ʼn inkomste kan verdien nie. Hierdie lede kan gratis by Helpende Hand aansluit om só hulle naaste te kan help.

Ansie Hoffman is die gebaretaal-tolk en voorsitter van die nuwe nasionale tak vir gehoorgestremdheid. (Foto: Verskaf)

Die tak bestaan uit mense met gehoorgestremdhede en uit mense wat kan hoor. Ansie Hoffman is die voorsitter en Benita Nel die hoofsekretaris. Twaalf personeellede van Helpende Hand maak ook deel van die tak uit en het entoesiasties ingestem om opgelei te word om in gebaretaal te kommunikeer.

“Ek glo die tak sal met God se wil ʼn enorme sukses wees. Ek is vreeslik opgewonde en sien uit na alles wat voorlê. Ek het so ʼn groot passie en liefde vir die kultuur en mense met gehoorgestremdheid dat dit die vuur in my stook om ʼn sukses van die tak te maak,” sê Hoffman.

Sy sê die planne wat voorlê vir die nasionale tak gaan ʼn reuse-uitwerking hê op die kommunikasiestruikelblokke wat gehoorgestremde mense en diegene wat wel kan hoor, ervaar.

“Die hoofdoel is die bewusmaking van die gehoorgestremde wêreld, dié kan bereik word deur middel van werksessies, die opleiding van tolke en die onderrig van horende mense om kommunikasie te vergemaklik deur gebaretaal-opleiding. Ons bied ook gebaretaal-tolkdienste aan.

“Die nasionale tak gaan verskeie deure oopmaak vir gehoorgestremde mense en ons sien uit na die eer om die gebeurtenisse te sien plaasvind. Ek wil mense leer en inlig oor die gehoorgestremde wêreld, want niemand verstaan wat dit behels totdat hulle dit beleef nie,” voeg Hoffman by.

Gabriel Hoffman, Ansie se broer wat self gehoorgestremd is, het reeds besluit om by die tak aan te sluit.

“Dit is ʼn groot eer om te weet dat daar ʼn deur vir mense met gehoorgestremdhede oopgaan. Die grootste taak is om mense daarvan bewus te maak dat mense wat doof is, nie dom is nie. Ons kan net so hard werk en ʼn groot verskil in die gemeenskap maak. Elke mens het iets om terug te gee. Ek is ʼn boer; ek is Afrikaans, en ek het baie om te bied,” sê Gabriel.

  • Om ʼn ere-ondersteuner te word, besoek www.onstrots.co.za. Mense wat by die Nasionale Tak vir Gehoorgestremdheid teen ʼn minimale bedrag van R50 per maand wil aansluit, kan ʼn e-pos stuur aan [email protected] of besoek www.sluitaantak.co.za. Kies die opsie “Ansie Hoffman” onder “Agent”, en “Gehoorgestremdheid” onder “Tak”.

Helpende Hand-personeel saam met lede van die nuwe nasionale tak vir gehoorgestremdheid. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.