Helpende Hand takel graadeens se grootste leerprobleme

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Dis weer die tyd van die jaar dat voorskoolse kinders begin dink aan hulle “eendag-as-ek-groot-is”-drome en al die uitdagings wat dit gaan bied. Solidariteit Helpende Hand gaan behoeftige kinders wat volgende jaar skool toe moet gaan weer eens van ʼn tassie voorsien. Die tassie bevat items wat van hul grootste leerprobleme kan uitstryk sodat hulle nie agter raak nie.

Helpende Hand glo dat armoede uitgewis kan word deur in opleiding te belê, en dit begin reeds met die gevoel van hoop wat by gr. 1-leerlinge geskep word wanneer hulle die nodige skoolgoedjies kry. Dis ongelooflik om die kinders se opgewonde gesiggies te sien wanneer hulle die nuwe skooltassies uitpak!

Elke skooltassie sal soos gewoonlik al die nodige skryfbehoeftes bevat, maar vanjaar sal daar ʼn paar bykomende items wees. Die inhoud van die tassie moet daartoe bydra dat hulle “eendag-as-ek-groot-is”-droom ʼn werklikheid kan word. Om uit te vind wat in die skooltassie moet wees, het Helpende Hand gr. 1-onderwysers gevra.

Helpende Hand het ʼn opname gedoen by meer as 200 skole wat in 2016 tassies gaan ontvang. Dit het duidelik geword dat perseptuele en motoriese vaardighede die grootste twee leerprobleme vir gr. 1-leerlinge is. Om die motoriese vaardighede aan te help, het Helpende Hand Unifix-blokkies en ’n legkaart ingesluit. Daarby word kinders se perseptuele vaardighede verbeter deur op die witbord, ook ingesluit in die tassie, te skryf.

Soveel as 4 762 tassies word aan behoeftige graadeens geskenk en die totale waarde van die projek is nagenoeg R1,8 miljoen. Jy kan help om seker te maak dat hierdie kinders se “eendag-as-ek-groot-is”-droom ’n werklikheid word. SMS die woord “Tassie” na 38969 om R10 te skenk wat kan bydra om ʼn tassie vol skryfbehoeftes te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.