Helpende Hand vat tekort aan tuisversorgers vas

Die studente van Bloemfontein saam met hul fasiliteerder, Magda Viviers, asook Franette en Dallein Nortje van Gratia Via. (Foto: Verskaf)

Solidariteit Helpende Hand het vandeesweek ʼn groep studente verwelkom as ʼn teenvoeter vir ʼn kritieke tekort aan tuisversorgers en om weer “eer en passie” in versorging terug te sit.

Helpende Hand se tuisversorgingskursus is die eerste van sy soort, en is vandeesweek onderskeidelik in Bloemfontein en Pretoria bekendgestel waar ʼn groep van 19 studente verwelkom is.

Hannes Noëth, Helpende Hand se uitvoerende direkteur, het Donderdag by ʼn geleentheid by Huis Janri in die Moot, Pretoria, gesê dat daar ʼn ernstige tekort aan tuisversorgers is. Dit het Helpende Hand genoop om aan studente, wat ʼn passie het om na mense om te sien, bekostigbare en goeie opleiding in dié veld te bied.

“Geskiedenis word gemaak in oomblikke soos dié. Die behoeftes van ʼn hele samelewing het tot dié monumentale gebeurtenis gelei. Die eer van die professie van versorging het dekades lank skade gelei. Wat Helpende Hand onder meer wil regkry, is om die eer en passie in die professie van versorging terug te sit,” het Noëth gesê.

Helpende Hand word die afgelope tyd oorval met versoeke van mense met ʼn behoefte aan bekostigbare tuisversorging vir bejaardes, mense met gestremdhede, kinders met spesiale behoeftes en mense wat aansterk ná operasies. Weens die uitdagings van die Covid-19-pandemie en veral ná stakings by verskeie tehuise het hierdie behoefte ontstaan.

“Daar is talle bejaardes wat dit nie kan bekostig om in tehuise te woon nie en graag by hul eie huise versorg wil word. Helpende Hand het nie met opleiding begin omdat daar ʼn oorskot in die mark is en omdat ons dink dit is bloot ʼn goeie koers om in te slaan nie.

“Ons het daarmee begin omdat daar ʼn geweldige nood is en mense eintlik daagliks na ons kantore toe bel en vra: ‘Het julle versorgers? Kan julle versorgers vir ons oplei? Waar kry mens versorgers?’ Dit het ons laat besef daar is ʼn nood wat moet aandag kry en daarom is die opleiding van versorgers vir ons meer as net ʼn projek. Dit is ʼn vervulling van ʼn behoefte wat in die samelewing al hoe groter word. Ons benodig betroubare, goedopgeleide versorgers wat regtig in liefde omgee,” het hy gesê.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het by die geleentheid gesê daar is nie ʼn edeler beroep as iemand wat vir diegene sorg wat nie meer vir hulself kan sorg nie.

“Die mense wat jou sorg benodig, het hul hele lewe lank bygedra tot die gemeenskap en vir die gemeenskap gesorg. Nou moet hulle versorg word; dit is egter nie net fisieke versorging nie, maar ook emosionele versorging. Hulle moet veilig en menswaardig voel, want tans is daar vele van hulle wat nie eens meer veilig in hul eie beddens voel nie,” het Buys gesê.

Die studente van Pretoria saam met Hannes Noëth, hul fasiliteerder, Ordino Kok, asook Franette en Dallein Nortje van Gratia Via. (Foto: Verskaf)

Helpende Hand, in samewerking met Gratia Via Akademie, bied die kursus aan. Helpende Hand het reeds 19 studente gekeur wat vir dié ses maande lange kursus gaan registreer. Tien van die studente gaan opleiding ontvang en praktiese werk in Bloemfontein by die Siësta-aftreeoord doen. Nege studente gaan in Pretoria hul opleiding ontvang en die praktiese deel van die kursus hier voltooi.

Altesaam 14 van die 19 studente het vir die kursus met die hulp van Helpende Hand se Studiefondssentrum geregistreer wat aan hulle rentevrye studielenings toegeken het.

Ná voltooiing van die kursus ontvang die studente ʼn Seta-geakkrediteerde Nasionale Sertifikaat in Tuisversorging wat studente kan benut vir krediete as hulle verpleegkunde wil gaan studeer. Studente kan ook ná voltooiing van hul studie as tuisversorgers of as versorgingshulpe in tehuise of residensiële instansies gaan werk. Helpende Hand poog om die opleiding deurlopend aan te bied en nadat die eerste groep hul kursus voltooi het, weer ʼn volgende groep in te neem.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof by Solidariteit, ondersteun die inisiatief en sê daar is talle mense in nood wat versorging nodig het. “Ons wil die kursus groter maak, want die nood is groter en ons vra dus dat mense ʼn bydrae lewer. Ons moet dit doen, want daar is mense wat versorg moet word. Ons moet die inisiatief landwyd van stapel stuur teen ʼn koste van R8 000 per versorger wat opleiding ontvang.”

Noëth, Buys, Hermann en ander afgevaardigdes van die Solidariteit Beweging het vir die pret aan verskeie versorgingspligte deelgeneem soos om ʼn bed op te maak, aartappels te skil en ʼn skinkbord vir ʼn persoon met demensie te dek. Noëth het as die wenner van die kompetisie uit die stryd getree.

Daar is ook ʼn Witstrik-seremonie gehou waartydens Helpende Hand, Gratia Via en die tuisversorgerstudente hulde gebring het aan alle gesondheidswerkers en mense wat tydens die pandemie in die voorste linies veg.

Suster Franette Nortje, akademiese hoof van Gratia Via Akademie, het gesê dit is vir hulle ʼn groot voorreg om deel van die projek te wees.

“Ons wil leerders toerus met die nodige kennis en vaardighede om na ons bejaardes en gestremdes om te sien. Dit pas so reg in die kraal van Solidariteit se Ons sal Self-veldtog.”

  • Vir navrae, meer inligting of om ʼn skenking tot die studiefonds vir tuisversorgingstudente te maak, stuur gerus ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.