Helpende Hand verdiep met geestelike ontwikkeling  

(Argieffoto)

Deur Gert Erasmus

Solidariteit Helpende Hand het die afgelope jaar in samewerking met Begrond, die Instituut vir Christelike Grondslagstudies, ʼn handleiding ontwikkel wat vanjaar deur Helpende Hand in ons gemeenskappe uitgerol gaan word. Die handleiding staan bekend as “Ons hand in Sy Hand” en die doel daarvan is om geestelike toerusting saam met maatskaplike ontwikkeling aan ons gemeenskappe te bied. Op hierdie wyse wil Helpende Hand sy vrywilligers, takke, streke en personeel geestelik toerus om gemeenskappe se voorspoed te verseker.

Almal kan pleisters plak en wonde toemaak, maar ons roeping behels veel meer. Ons wil die oorsaak van die probleem in die samelewing opspoor, analiseer, diagnoseer en raakvat sodat ons die gevolge daarvan holisties kan verlig, verbreek en voorkom.

“Ons hand in Sy Hand” is geskoei op die beginsel dat “omgee” sonder geestelike begronding en verdieping nie ware omgee is nie. Ons glo in die spreekwoordelike “driedimensionele verdieping”, naamlik verligting, verbreking en voorkoming van probleme. En dan is dit natuurlik baie belangrik dat die oplossings van probleme volhoubaar moet wees en tot selfstandigheid moet lei.

Samewerking met kerke

Ons fokus in Solidariteit Helpende Hand as Christelike, maatskaplike instelling is nie om die kerk se werk oor te neem nie, maar om op die breë gemeenskapsvlak met kerke saam te werk. Gemeenskapsontwikkeling is vir ons nommer een. Dit is ons roeping, en dit is wat ons prakties uitleef tot eer van God.

ʼn Realiteit waarmee ons elkeen gekonfronteer word, is die vraag: “Wat gaan jý doen (wat is jou roeping) in die gemeenskap waar jy woon, waar jy in die koninkryk van God geplaas is, wanneer jy Sondae by die kerkdeure uitstap?”

Ons word geroep om buite die kerkmure “kerk te wees” in ons gemeenskappe. Daarom is dit vir ons van kardinale belang dat geestelike en maatskaplike ontwikkeling hand aan hand moet gaan. Die kerk en Helpende Hand mag nie teen mekaar werk nie, maar moet juis saam werk. God is die Groot Sender, en Hy wil hê ons moet holisties fokus op ons gemeenskappe en gemeenskapsontwikkeling. Daarom fokus Helpende Hand op die ontwikkeling van volhoubare strukture wat emosionele en geestelike probleme prakties kan oplos en verbreek om gemeenskappe te versterk.

Helpende Kerke-kongres

Gert Erasmus (Foto: Verskaf)

Solidariteit Helpende Hand erken en bely dat die kerk onmisbaar is in die ontwikkeling van gemeenskappe. Ons erken en bely ook dat ons te gering en gebroke is om die groot taak daar buite alleen aan te pak. Daarom bied Helpende Hand eersdaags ʼn Helpende Kerke-kongres aan. Die tema vir vanjaar se kongres is “Gemeenskappe in geloof”.

Die doel van die kongres is om te fokus op gemeenskapsontwikkeling in samewerking met die plaaslike kerke. Prakties gesproke is Solidariteit Helpende Hand se doel met die Helpende Kerke-kongres om netwerke tussen ons as gemeenskapsinstelling en die plaaslike kerke te ontwikkel. Hierdie netwerke moet sover moontlik uitgebou en versterk word.

Die kongres vind op 23 Februarie van 08:00 tot 15:00 by Leriba Lodge in Centurion plaas. Toegang is R350 per persoon vir belangstellendes wat die kongres wil bywoon, en die bedrag sluit ʼn ligte ontbyt en middagete in. Indien meer as vier kaartjies deur dieselfde instansie op een slag aangekoop word, sal die koste slegs R300 per persoon beloop. Belangstellendes kan ook regstreeks aanlyn na die kongres kyk teen slegs R50.

Die program beloof om insiggewend te wees en gaan fokus op die kerk en kinderhuise, die kerk en bejaardes, die kerk en die jeug, die kerk en gestremdes, die kerk en pastorale kwessies, die kerk en gesinne, die kerk en gemeenskapsorganisasies en die kerk en toekomsverwagtinge.

Verteenwoordigers van die AGS, Hervormde Kerk, Gereformeerde Kerke, Doxa Deo, NG Kerk en APK gaan onder meer hul uitdagings met en positiewe ervaring van gemeenskapsontwikkeling kom deel.

Ons sien daarna uit om by die kongres meer oor “Ons hand in Sy Hand” uit te brei. Besoek gerus www.helpendekerke.co.za vir meer inligting.

  • Gert Erasmus is pas by Solidariteit Helpende Hand aangestel en werk saam met Helpende Hand se maatskaplike afdeling aan Helpende Hand se Gemeenskapsontwikkelingsprogram. Die doel met hierdie aanstelling is geestelike verdieping en ʼn holistiese benadering – om nie nét op maatskaplike ontwikkeling te fokus nie, maar ook op geestelike ontwikkeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kwikkie12 ·

Dis die antwoord! Baie dankie vir alles wat julle doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.