Helpende Hand vereer eerste groep tuisversorgers

Hannes Noëth, Helpende Hand se uitvoerende direkteur, spreek die tuisversorgers toe. (Foto: Reint Dykema)

Solidariteit Helpende Hand het Saterdag sy eerste groep vroue wat as geakkrediteerde tuisversorgers opgelei is, vereer.

Altesaam 17 studente het vanjaar Helpende Hand se tuisversorgingsopleidingsprogram in Bloemfontein en Pretoria suksesvol voltooi en hul eksamens geslaag. Dié tuisversorgingskursus is die eerste van sy soort en is in Maart vanjaar bekendgestel.

“Helpende Hand wil graag die studente vir hierdie wonderlike prestasie, asook hul deursettingsvermoë gedurende die ses maande wat hulle die opleiding voltooi het, vereer,” het Hannes Noëth, Helpende Hand se uitvoerende direkteur, by die geleentheid in Pretoria gesê.

Volgens Noëth het daar oor die afgelope paar jaar ʼn groeiende behoefte aan Afrikaanse tuisversorgers ontstaan, vandaar het die tuisversorgingsopleidingsprogram tot verwesenliking gekom.

“Baie Afrikaanse bejaardes vra na versorgers wat in hulle eie taal met hulle kan praat en hulle kan versorg. Dit is enersyds nie altyd prakties of bekostigbaar om in ʼn ouetehuis te gaan bly nie, en andersyds is daar ook ʼn groeiende behoefte onder jonger Afrikaanse mense om versorgers te word.

“ʼn Mens besef eers die waarde van die professie wat ons vandag vereer die dag wat jy dit nodig het. ʼn Mens het ʼn versorger nodig wanneer gewone dinge nie meer gewoon is nie – van badkamer toe gaan tot eet. Vandag kry julle erkenning vir dit wat deel van julle roeping is, en ons is trots om te sê dat julle dienste reeds hoog in aanvraag is. Die sertifikaat is nie net ʼn stuk papier nie – dit is geakkrediteer, goed vir julle menswees, en dit is bowenal deel van julle roeping,” het hy gesê.

Die groep van 17 studente wat vereer is saam met die betrokkenes wat die tuisversorgingskursus moontlik gemaak het. (Foto: Reint Dykema)

Die volgende groep studente kan nou vir die volgende kursus wat in Februarie afskop, aansoek doen. Die opleiding sal volgende in jaar Pretoria, Bloemfontein, Naboomspruit, Krugersdorp, Port Elizabeth en die Paarl aangebied word.

Daar is ʼn beperkte aantal rentevrye studielenings wat aan die hand van bepaalde kriteria toegeken word, beskikbaar. Kandidate sal ʼn streng keuringsproses ondergaan om hiervoor te kwalifiseer.

Die publiek word ook aangemoedig om ʼn tuisversorgingstudent te borg.

“Deur een student vir die kursus te borg voorsien die publiek iemand van ʼn tersiêre kwalifikasie en ʼn werk. ʼn Mens weet ook ʼn bejaarde of gestremde persoon kan teen ʼn bekostigbare prys in Afrikaans deur ʼn goed opgeleide persoon versorg word, en ʼn gesin het ook gemoedsrus omdat hulle weet dat hul geliefde goed versorg word.”

Besoek www.shhtuisversorging.co.za of stuur ʼn e-pos na [email protected] om aansoek te doen as ʼn tuisversorgingstudent of om ʼn student te borg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vrijburger

Puik idee, en baie geluk jong dames.

Hendrik

Baie goed en ons sal hulle in ons selfbeheer gemeenskap verwelkom

Suzette

Welgedaan!!! Baie trots op julle.

SJM

Welgedaan julle.