Helpende Hand wil mense die kans gee om weer te kan hoor

gehoor-gehoorapparte

Helpende Hand het sedert 2015 al sowat 138 bejaardes gehelp met gehoorstukke ter waarde van R2,3 miljoen. Foto: Hrf.se

Solidariteit Helpende Hand wil saam met Impact Hearing vanjaar weer 25 bejaardes se lewensgehalte verbeter deur hulle van gehoorapparate te voorsien.

Gehoorverlies is ʼn algemene probleem en omtrent die helfte van alle persone bo 75 sukkel met gehoorverlies. Dit het ʼn dramatiese gevolg op die lewe van ʼn bejaarde en dra dikwels by tot eensaamheid.

Boonop is gehoorapparate dikwels duur en het bejaardes net nie die nodige geld om dit te kan bekostig nie.

“Tydens ’n onlangse studie wat deur Helpende Hand gedoen is, is daar bevind dat medikasie en mediese apparaat dié grootste behoefte onder bejaardes is. Die oorsake daarvan verskil, maar moontlike redes kan wees die feit dat slegs 27% van bejaardes pensioen buiten die maandelikse SASSA-toelaag ontvang en dat ’n skokkende 57% van bejaardes nie oor ’n mediese fonds beskik nie,” het Bette Rautenbach, projekorganiseerder by Helpende Hand, gesê.

Volgens Rautenbach veroorsaak gehoorverlies dat bejaardes nie meer goed kan reageer op waarskuwings, telefone wat lui, deurklokkies asook rookalarms nie. “Hulle kan ook nie meer lekker gesels met familie en vriende nie, wat hulle baie geïsoleerd en eensaam laat voel. Ouderdomsverwante gehoorverlies vind ook meestal in beide ore plaas, wat veroorsaak dat bejaardes dit nie eens altyd besef dat hulle stelselmatig al hoe minder kan hoor nie,” het Rautenbach gesê.

Die mees algemene oorsaak van ouderdomsverwante gehoorverlies is die verandering in die binne-oor, wat gepaard gaan met veroudering. Dit word ook veroorsaak deur die langtermyn-blootstelling aan harde klanke, wat die sensoriese haarselle in ʼn mens se oor beskadig. Die haarselle het nie die vermoë om hulself te herstel nie. Algemene siektetoestande soos hoë bloeddruk en diabetes, wat dikwels by bejaardes voorkom, kan ook bydra tot gehoorverlies.

“Ons wil hierdie mediese nood wat so algemeen by bejaardes voorkom, help verlig en sal daarom weer met Impact Hearing se hulp vir 25 bejaardes twee gehoorstukke elk wil verskaf,” het Rautenbach gesê.

Die organisasie het sedert 2015 al sowat 138 bejaardes gehelp met gehoorstukke ter waarde van R2,3 miljoen.

  • Vir meer inligting, of om aansoek te doen, kontak Benette Rautenbach deur ’n e-pos te stuur na [email protected]. Aansoeke om deel te wees van hierdie projek moet Rautenbach voor Maandag 30 April bereik.

Om te kan hoor is waarlik ’n geskenk en ’n vreugde. Maroela Media het hierdie video in Oktober 2015 oor Helpende Hand se projek geplaas:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rozane Paul ·

En dis waarom ek n deel van my 10des aan solidariteit skenk op n maandlikse basis…dis lekker om te sien waar my geld gaan…wel gedaan SHHD vir uitstekende werk

Maria ·

sjoe my oe rek met verbaasing! Ek self het gehoor probleem “verstaan goed” so wonderlik so iemand soos Benette Rautenbach Solidariteit helpnde hand wat omgee
Net net gelees arems mense Mag Here julle werkende baie nog baie SEEN!
Baie dankie x

E.K. die eerste ·

Aandag Solidariteit – dis SO maklik om net iets te skenk dmv ‘n sms. Kan julle asb so iets organiseer- almal kan nie R100e skenk maar as klomp mense weer ‘n sms stuur wat ‘n skenking van bv R10/R20 aan die projek skenk, sal julle vinnig klomp mense kan help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.