Helpende Hand wil weer bejaardes help om te hoor

Bokkie en Erens van der Zandt kan nou weer gemaklik gesels met hul nuwe gehoorstukke wat hulle verlede jaar ontvang het. (Foto: Verskaf)

Bokkie en Erens van der Zandt kan nou weer gemaklik gesels met hul nuwe gehoorstukke wat hulle verlede jaar ontvang het. (Foto: Verskaf)

Sedert 2015 het Solidariteit Helpende Hand in samewerking met Impact Hearing al sowat 138 bejaardes gehelp met gehoorstukke ter waarde van nagenoeg R2,3 miljoen en vanjaar sal nog 20 bejaardes se lewensgehalte verbeter word deur dié inisiatief.

“Gehoorverlies is ʼn algemene probleem en bykans die helfte van alle persone bo 75 sukkel met gehoorverlies,” het Benette Rautenbach, projekorganiseerder by Helpende Hand, luidens ʼn mediaverklaring gesê.

“Dit het ʼn dramatiese gevolg op die lewe van ʼn bejaarde en dra dikwels by tot eensaamheid. Dié probleem kan egter maklik met ʼn gehoorapparaat aangespreek word, maar gehoorapparate is duur en talle bejaardes het net nie die nodige geld om dit te kan bekostig nie.”

Volgens Rautenbach het ʼn onlangse studie wat deur Helpende Hand gedoen is, bevind dat medikasie en dié eenvoudige mediese apparaat van die grootste behoeftes onder bejaardes is.

“Die studie het getoon dat slegs 27% van bejaardes ʼn pensioen buiten die maandelikse SASSA-toelaag ontvang en ʼn skokkende 57% van dié bejaardes beskik nie oor ʼn mediese fonds nie,” het Rautenbach bygevoeg.

Sy verduidelik dat gehoorverlies veroorsaak dat bejaardes nie meer goed kan reageer op waarskuwings, telefone wat lui, deurklokkies en selfs ook rookalarms nie.

Bokkie sit haar gehoorapparaat in haar oor. (Foto: Verskaf)

Bokkie sit haar gehoorapparaat in haar oor. (Foto: Verskaf)

“ʼn Eenvoudige uitstappie na iets so algemeen soos ʼn winkel, word vir hulle ʼn nagmerrie, aangesien hulle onder meer nie met die winkel se personeel kan kommunikeer nie. Hulle kan ook nie meer lekker gesels met familie en vriende nie, wat hulle baie geïsoleerd en eensaam laat voel. Ouderdomsverwante gehoorverlies vind meestal in beide ore plaas, wat veroorsaak dat bejaardes dit nie eens altyd besef dat hulle stelselmatig al hoe minder kan hoor nie,” het Rautenbach gesê.

“Ons wil hierdie mediese nood wat so algemeen by bejaardes voorkom, help verlig en sal daarom weer met Impact Hearing se hulp vir 20 bejaardes gehoorstukke wil verskaf vir albei ore. Impact Hearing behartig die toetsing en passing in Gauteng,” het Rautenbach gesê.

Rautenbach het gesê vanjaar help die Instituut vir Gehoor ook met die insameling van tweedehandse gehoorapparate wat dan aan behoeftige kandidate geskenk gaan word.

Vir meer inligting, of om aansoek te doen, of om ’n tweedehandse gehoorapparate te skenk, e-pos Rautenbach by [email protected]. Die bejaarde kandidate moet in die Gauteng-omgewing wees, of self reël om daar te kom.

Lees die vorige berig oor tannie Bokkie en oom Erns van der Zandt van Heidelberg in Gauteng hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Monica ·

Dankie Helpende Hand om die publiek bewus te maak om ou gehoorstukke te skenk.. Ek was destyd te skaam om n tannie te vra of ek nie haar oorlede man se gehoorstuk kan “erf” nie. Dit doen wondere alhoewel jou gehoor nog steeds nie 100% met n gehoorstuk is nie.

charmaine ·

Waar kan die oumensies gaan is dit by Impact Hearing of Insituur vir gehoor?

Dankie

willem Botha ·

Ek is baie bly daar is nog organisasies wat mense help in nood doen so voort.

wilma ·

charmaine
Sien die laaste paragraaf vir e-posadres waar aansoek om hulp gedoen kan word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.