Helpende Hand-winkels behaal 60ste mylpaal in PE

V.l.n.r. is Alet Robbeson, die hoof van Ons Winkel, Johan Nel, Helpende Hand se adjunk-uitvoerende hoof van operasionele dienste en Marlene Basson, Helpende Hand se streeksorganiseerder in die Oos-Kaap en KZN-Suid. (Foto: Verskaf.)

Ons Winkels, ’n inisiatief van Solidariteit Helpende Hand, het op 11 Maart ’n mylpaal behaal toe sy 60ste welsyn- en skenkingswinkel sy deure in Port Elizabeth oopgemaak het.

Alet Robbeson, Helpende Hand se hoof van Ons Winkels, verduidelik Helpende Hand se eerste skenkingswinkel het in 2010 in Centurion oopgemaak.

“Dit het gedien as ’n plek waar die publiek ou klere en huisware wat hulle nie gebruik nie, vir liefdadigheid kon skenk. Die skenkings en verkope daarvan is weer direk in die gemeenskap ingeploeg.

“Die inisiatief was so gewild en skenkingswinkels het daarna in stede en dorpe landwyd oopgemaak. In 2016 het die verskillende skenkingswinkels ’n eenheid gevorm en onder die vaandel van Ons Winkel begin handel dryf,” het Robbeson gesê.

Die 50ste Ons Winkel het in September 2019 sy deure in Polokwane oopgemaak. Sedertdien is daar gewoeker, en die 60ste Ons Winkel het so pas op 11 Maart in Port Elizabeth oopgemaak, kort nadat die 59ste winkel op 9 Maart óók in Port Elizabeth oopgemaak het.

Hanlie Grobler is die eienaar van die Ons Winkel in Algoapark. Die winkel is geleë op die hoek van Kamdeboo- en Mulberrystraat, en Bennie Scholtz is die eienaar van die 60ste winkel by Sesde Laan 14 in Walmer.

Volgens Robbeson mag dit Helpende Hand dalk 10 jaar geneem het om dié mylpaal te behaal, maar met die ondersteuning van die gemeenskap en “uitmuntende eienaars wat ’n verskil maak daar buite” sien haar span kans om nog talle winkels oop te maak.

“Ons is trots om 60 winkels onder die Ons Winkel-vaandel te hê wat die voetspoor van ons hartsaak na buite dra en dit soveel beter maak. Elke winkel is vir ons soos ’n hawe in elke dorp. Ons vra inwoners om betrokke te raak in die gemeenskap, soos wat ons is,” sê Robbeson.

Enige iets kan by Helpende Hand se Ons Winkel afgegee word. (Foto: Verskaf.)

Enigiets kan by die Ons Winkels afgegee word – van klere, meubels, oudhede, kombuisware, beddegoed, gordyne, speelgoed, skoene en sporttoerusting tot tegnologiese ware of enigiets anders wat in die pad staan.

Ons Winkels neem hierdie goedere en omskep dit in geld wat, onder meer, vir Helpende Hand se Studiefonds benut word. Die Studiefonds bied rentevrye studielenings aan studente wat kwalifiseer om verder te gaan studeer, maar nie die nodige fondse het om dit te doen nie. Die opbrengste word ook aangewend vir verskeie ander projekte van Helpende Hand wat poog om armoede te verlig, te verbreek en te voorkom. Ons Winkels dien ook as werkskepping vir die persone wat die winkel bestuur en vir personeel wat in die winkels werk.

Wat kan die winkels vir die publiek doen?

“Met die skenkings wat Ons Winkels ontvang, help ons waar die ander nie sien nie. Wees gerus en vertrou ons met jou skenking dat dit wel die regte saak ondersteun. Stap bloot net by jou naaste winkel in en koop of skenk iets. Dit is die ideale manier om van oorbodige goedere ontslae te raak en te weet dit gaan deur Helpende Hand se gevestigde strukture reg aangewend word om ’n verskil in die gemeenskap te maak,” sê Robbeson.

  • Klik op die skakel om jou naaste Ons Winkel op te spoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.