#HelpHetta pak fisieke en geestelike nood aan

#HelpHetta-versending word verpak by Kerk Sonder Mure in Centurion. (Foto: Verskaf.)

Die #HelpHetta-projek van Solidariteit Helpende Hand het verlede week sy nasionale pakdag gehad, waar daar vir bykans 3 000 skoolgaande meisies Hetta-pakkies met sanitêre ware en persoonlikehigiëne-produkte verpak is.

Die pakkies is op Vrydag 5 Junie versprei. Dit is die tweede van vier versendings wat jaarliks plaasvind.

“Hierdie versending van #HelpHetta is vir ons besonder spesiaal omdat daar ook ’n Bybel van die Gideons in elke Hetta-pakkie verpak is,” sê Benette Welman, projekorganiseerder van die projek.

Die #HelpHetta-projek beoog om skoolgaande meisies se fisieke nood te verlig deur sanitêre ware en produkte vir persoonlike higiëne op ’n kwartaallikse grondslag na bykans 3 000 meisies landwyd te versprei. Verder poog dié projek om meisies ook emosioneel en geestelik te ondersteun.

Welman sê die tweede versending van 2020 moes reeds vroeg in April plaasgevind het, maar weens die Covid-19-pandemie moes dit uitgestel word tot die eerste week in Junie.

Sy verduidelik dat skole as kontakpunt gebruik word waardeur die Hetta-pakkies die meisies bereik, en die organisasie het geen ander keuse gehad as om te wag totdat skole weer heropen nie.

“Dit is baie hartseer om te dink dat die bykans 3 000 meisies vir langer as twee maande sonder hierdie noodsaaklike produkte moes klaarkom. Dis vernederend.”

Welman vertel dat hulle met hierdie versending van #HelpHetta net weereens die krag beleef het van organisasies wat saamstaan om in ’n krisistyd nie net in ’n fisieke nood te voorsien nie, maar ook ’n geestelike nood te help verlig.

“Kerk Sonder Mure in Centurion het sy terrein beskikbaar gestel vir die nasionale pakdag en ons ook in aanraking met die Gideons gebring, sodat ons vir elke meisie ’n Bybel in haar Hetta-pakkie kon sit.”

Die Gideons is ’n internasionale Bybelverspreidingsorganisasie wat Bybels in hospitale, gastehuise, hotelle, dokterspreekkamers en ook by skole versprei.

Van links is Hezel Fourie (Gideons Hennopslaer), Benette Welman (projekorganiseerder #HelpHetta) en Hannes van Aswegen (Kerk Sonder Mure, Centurion). (Foto: Verskaf.)

Hezel Fourie, sekretaresse van die Gideons se Hennopslaer, vertel dat hulle weens die staat van inperking nie die gewone verspreidings kon doen nie.

“Ons het by Kerk Sonder Mure gehoor van #HelpHetta en besluit om hande te vat met hierdie wonderlike omgeeprojek. Sodoende kan ons steeds skoolgaande kinders bereik, net op ’n ander manier. Ons glo en weet, geen inperkingsmaatreël keer die Woord van God nie – mag elke meisie wat ’n Bybel ontvang, geseënd wees en mag dit haar lewe verryk!”

Die #HelpHetta-projek is reeds in 2015 gestig toe navorsing getoon het dat meisies tot vyf skooldae per maand misloop weens ’n tekort aan sanitêre produkte. Verder is daar bevind dat 10% van alle skoolgaande meisies nie toegang het tot sanitêre ware nie. Navorsing in 2019 het die getal van vyf skooldae wat misgeloop word, bevestig, asook aangetoon dat die persentasie van meisies wat nie sanitêre ware kan bekostig nie tot 13% gestyg het.

Welman voorspel dat die behoefte selfs groter sal wees ná die afsonderingstydperk verby is.

“Ons is dankbaar dat die tydskrif Finesse in hierdie bitter uitdagende tyd 10% van die kaartjieverkope vir hul Vroue wat glo- aanlyn geleentheid aan die #HelpHetta-projek kon skenk. Baie ander vrouebyeenkomste wat die #HelpHetta-projek gewoonlik ondersteun, moes gekanselleer word weens die landwye afsondering. Ons bly egter hoopvol dat ons te midde van die omstandighede enduit in 2020 steeds 2 738 meisies van ’n Hetta-pakkie sal kan voorsien,” voeg Welman by.

“Meisiewees kan maklik wees! Dit is die #HelpHetta-projek se leuse en dis ons wens vir elke meisie – om elke dag in staat te wees om skool toe te gaan en sport of ander aktiwiteite te beoefen; om hul volle potensiaal te bereik, ondanks omstandighede wat dreig om hulle terug te hou.”

Hetta-pakkies gereed om na skole versend te word. (Foto: Verskaf.)

Die #HelpHetta-projek het in 2019 ingeskakel by die FroueVonds* wat deur Solidariteit Helpende Hand gestig is.

Welman sê dat die FroueVonds* hulle in staat stel om beurse en studielenings vir sommige van die Hetta-meisies beskikbaar te stel. Só word hulle bemagtig om ’n toekoms vir hulself te skep ná afloop van hul skoolloopbaan.

Om ’n bydrae te maak tot die #HelpHetta-projek of die FroueVonds*, besoek gerus hul webwerf by www.helphetta.co.za of www.frouevonds.co.za.

* FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.