#HelpHetta-projek word ‘ousus’ vir behoeftige meisies  

Mariëtte van de Werken (streeksorganiseerder van Helpende Hand), Benette Welman (projekorganiseerder van #HelpHetta), Venessa Schoeman (redakteur van Finesse Voelgoed), Hettie Mills (lewensafrigter), Esna Colyn (uitvoerende hoof van Imbalie Beauty) en Rene Roux (adjunkhoof van Helpende Hand). (Foto: Verskaf)

Helpende Hand het met sy #HelpHetta-projek die skooljaar met ʼn holistiese benadering afgeskop om 3 000 behoeftige Afrikaanse meisies in moeilike tye by te staan.

#HelpHetta het sy jaarlikse Nasionale Gee-dag vandeesweek by Laerskool Ebenhaeser in die weste van Krugersdorp gehou waar die skool se meisies van gr. 5 tot gr. 7 met geskenkpakkies verras is. Hulle is ook met waardevolle kennis toegerus, geïnspireer en bemoedig.

Dié laerskool is een van die 109 instansies wat kwartaalliks hulp in die vorm van sanitêre ware en higiëniese produkte ontvang vir meisies wat dit nie kan bekostig nie.

“Ons jongste navorsing, wat binnekort bekendgestel gaan word, toon dat die behoefte onder ons #HelpHetta-meisies soveel verder as hul fisieke behoeftes strek. Daarom poog ons om holisties met meisies te werk en hulle ook op ʼn emosionele en geestelike vlak te ondersteun. Ons wil die meisies met inligting toerus wat hulle nêrens anders ontvang nie, sodat hulle die lewe en meisiewees met selfvertroue kan aanpak,” sê Benette Welman, Helpende Hand se #HelpHetta-projekorganiseerder.

Hettie Mills, stigter van Image Makers, lewensafrigter en eerste prinses van Mev. Tshwane 2019/2020, het met die meisies oor die uitdagings van die tienerjare gesels.

“Ek was self Hetta wat jare terug hulp nodig gehad het en dit op vreemde plekke moes kry,” sê Mills.

“Ek het semi-wees grootgeword en by my pa gebly as kind. ‘Eva’ het in gr. 8 by my kom kuier. Ek het destyds nie eens geweet wat menstruasie is nie. Ek het die middag tuisgekom en my boeglam geskrik toe ons huiswerker my roep en my vertel ek het ʼn groot meisie geword. Sy het dit ook vir my pa vertel toe hy tuis kom ná werk. Ek onthou hy het met sy kop in sy hande gaan sit en gesê hy wonder hoe ons die noodsaaklikhede by ons reeds beknopte begroting gaan inpas.”

Mills sê sy het jare later oor #HelpHetta gelees en besef hierdie meisies het meer as net sanitêre ware nodig.

“Ons meisies moet kan wees en doen en gaan sonder beperkings om hulle van die vreugde van vrouwees te beroof. Menstruasie is net ʼn siklus wat kom en gaan, dit moet ons nie terughou nie. Die bloudruk van menstruasie is om jou vroulikheid te ontwikkel; dit is nie veronderstel om jou te pootjie nie,” voeg Mills by.

Verder het Finesse Voelgoed-tydskrif se span saam met hul Doen Goed-Koala die meisies vermaak. Die Koala het saam met die meisies gedans en Venessa Schoeman, die tydskrif se redakteur, het ʼn paar feite gedeel oor hoe ʼn jong meisie haar lewe behoort te geniet.

’n Geskenk van Bio Sculpture is aan elke meisie gegee wat die dag bygewoon het. (Foto: Verskaf)

Bio Sculpture het vir elke meisie ʼn bederfpakkie met vier botteltjies naellak geskenk.

Vanjaar het die skool se seuns ook by die Gee-dag gebaat. Dwain van Rensburg, ʼn radio-aanbieder, lewensafrigter en geestelike leier, het met die seuns oor respek gepraat en hoe om hulself as ʼn ware man te gedra.

Lizann Boshoff, onderwyseres by Laerskool Ebenhaeser, sê die skool is in ʼn gedeelte van die dorp wat deur talle maatskaplike en ekonomiese uitdagings in die gesig gestaar word.

“Hier gee ons meer as net akademiese onderrig, ons ontwikkel die kind se emosionele welstand. #HelpHetta maak ʼn groot bydrae tot ons leerders se fisieke en emosionele omstandighede. Ons meisies gaan deur kundiges begelei word op hul pad na vrouwees. Ons seuns het nie almal vaderfigure nie en kan definitief baat by goeie leiding,” sê Boshoff.

Welman sê Helpende Hand kry al hoe meer versoeke van skole om hierdie soort gesprekke met kinders te hê aangesien die kwessie dikwels nie in die ouerhuis bespreek word nie.

“Ons poog om deur ons landswye vrywilligertakke soortgelyke Gee-dae by ons #HelpHetta-skole en -instansies aan te bied. Ons beman ook ’n #HelpHetta-ondersteuningsgroep op WhatsApp waar ons weekliks emosionele en geestelike onderwerpe bespreek wat deur die meisies geïdentifiseer word. #HelpHetta het nou ’n ousus vir meisies geword,” sê sy.

Die #HelpHetta-projek is in 2015 van stapel gestuur nadat navorsing getoon het dat meisies soms soveel as 52 skooldae mis omdat hul huishoudelike begroting eenvoudig nie voorsiening vir sanitêre ware kan maak nie. Die #HelpHetta-projek is deel van Helpende Hand se FroueVonds (wat opsetlik verkeerd gespel word om te beklemtoon dat alles nie altyd reg loop nie) en verskaf tans kwartaalliks sanitêre ware en higiëniese produkte aan 3 000 hulpbehoewende Afrikaanse meisies regoor Suid-Afrika.

Indien daar verdere hulp vir hierdie inisiatief is, kan ongeveer nog ʼn 1 000 meisies deur die #HelpHetta-projek ondersteun word. Die Afrikaanse sangers Monique Steyn en Demi Lee Moore is ambassadeurs van die projek.

Vir meer inligting oor #HelpHetta, of om daarby betrokke te raak, besoek www.helphetta.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elmarie ·

Baie goeie projek en dis goed dat meer as sanitêre ware hulp aangebied word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.