Hennie van ‘Afskaal’: ‘Ek wou dit doen vir my kinders’

Hennie van der Walt, voor en na sy gewigsverlies van altesaam 53 kg. (Foto’s: Verskaf)

Vir Hennie van der Walt was daar twee groot motiverings om aan te hou gewig verloor nadat hy sy doelwit-gewig bereik het in die kykNET-program Afskaal: sy kinders, Heinrich (6) en Esmé (3) en om weer vryelik saam met hulle te kan beweeg en speel.

Só vertel die 31-jarige pa van twee van Randfontein wat tot dusver altesaam 53 kg afgeskud het oor sy gewigsverliesreis.

“Ek het in 2018 ʼn ligte hartaanval gehad. Ek moes chroniese medikasie gebruik vir hoëbloeddruk. Ek kon nie meer saam met my kinders op die mat rondkruip of buite speel nie, en as ons kamp het die sweet my afgetap wanneer ek die karavaan moes opslaan,” vertel Van der Walt.

“Ek het besef ek moet daadwerklik ʼn plan maak met my gesondheid en ek is glad nie spyt nie.”

Hennie vertel hy handhaaf nou ‘n gesonder, meer aktiewe leefstyl. (Foto: Verskaf)

Voor sy gewigsverliesreis het hy die skaal op 150 kg laat kreun. Nou weeg hy 96 kg en “het nog nooit so goed gevoel nie”.

“My bloeddruk is nou onder beheer en ek gebruik glad nie meer enige chroniese medikasie nie,” vertel hy trots.

Sy gesin het stelselmatig hul eetgewoontes ook aangepas en nou leef die hele gesin gesonder. Van der Walt vertel sy vrou, Karen, het self ʼn paar kilogram afgeskud sedert hy sy leefstyl drasties verander het.

“Ons hele gesin is baie meer aktief. In die middae na skool kan die kinders nie wag om op hulle fietse te spring nie. En dan draf of stap ek en Karen agterna. Die kinders se opgewondenheid om buite te wees, motiveer ons.”

Van der Walt voeg by dat hy nie sy reis sien as ʼn dieet nie, maar eerder as ʼn leefstylverandering.

“Ek sny suiker en stysel uit en beplan my porsies vir die dag. Dit is belangrik dat ʼn mens gebalanseerd moet eet. Mense wat ook wil gewig verloor en nie weet waar om te begin nie, kan begin deur klein veranderinge te maak soos om suiker of stysel uit te sny. Baie mense kan ʼn groot kopskuif maak en alles gelyktydig uitsny en ander kan nie.”

Hy gee toe dat stysel sy ondergang is. “Ons probeer ons inkopies reg doen, sodat ons nie onsself kan uitlok met pakke skyfies of ʼn brood in die kas nie.”

Hennie en sy vrou, Karen, en hul twee kinders, Heinrich en Esmé. (Foto: Verskaf)

Van der Walt voeg by dat hy dit baie geniet het om deel te neem aan Afskaal. Die program is aangebied deur Elana Afrika-Bredenkamp.

“Die ziplining was veral ʼn groot hoogtepunt – dit was só lekker om weer die hoogtevrees in die oë te kyk en die adrenalien in my are te voel.”

Dit was egter ʼn persoonlike uitdaging om homself deur sy eie oë op televisie te sien. “Ek het geskrik toe ek myself sien. Ek het met oogklappe deur die lewe gegaan wat my gesondheid betref. My familie en vriende het my gedra en die komplimente wat ek kry motiveer my. Baie mense sê ek moet versigtig wees dat ek nie net vel en been raak nie, maar ek is baie tevrede met waar ek nou is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Zetti ·

Sjoe Hennie jy lyk goed. Dis awesome, wonder hoe lyk die ander deelnemers nou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.