Henriette Armstrong se diep spore onthou

Die FAK en ander organisasies het op Henriette Armstrong se 160ste verjaardag kranse by haar graf in die Rebeccastraat-begraafplaas gelê. Agter 
v.l.n.r. is Graeme Peplar, Barry Müller, Marietjie van der Spuy en Johan Jansen van Vuuren, projekbestuurder van die FAK. In die middel v.l.n.r. is Karien Snyman, Petra Luus, Maureen Miller, Charlotte Drotsky en Katrien Botha en voor is Quentin Meyer.

Verskeie organisasies het Maandag hulde gebring aan Henriette Armstrong deur op haar 160ste verjaardag kranse by haar graf in die Rebeccastraat-begraafplaas in Pretoria gaan lê.

Armstrong was een van die stigterslede van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF). Sy was boonop ook een van die organiseerders van ʼn protesoptog vir vroue teen die Tweede Wêreldoorlog in 1944.

Lede van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), die SAVF, die Voortrekkermonument, die Erfenisstigting en die Dameskring het hulde aan Armstrong gebring.

Graeme Peplar, president van die SAVF, het ook ’n Vrouefederasie-roos by haar graf geplant en Barry Müller, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in Gauteng, het ’n spekboom namens die FAK daar geplant.

“Ons sê dankie vir die diep spore wat Armstrong getrap het. Dankie vir die FAK wat hierdie inisiatief gereël het en dat julle en ander organisasies ons kultuur en geskiedenis bewaar en ons aandag daarop vestig,” het Peplar gesê.

Op 22 Junie 1944 het daar byna 10 000 vroue na die Uniegebou in Pretoria gestap om beswaar teen die Tweede Wêreldoorlog aan te teken.

Armstrong het die bewoording vir dié protesoptog opgestel. Die optog is binne vyf dae gereël en het vroue die kans gegee om hul stem in verset teen die oorlog te laat hoor.

Die Ossewa-brandwag, met dr. Hans van Rensburg as hoofleier, het ʼn belangrike rol in die reëlings gespeel.

Sowat 6 000 vroue het van Kerkplein na die Uniegebou gestap. Langs die pad het nóg vroue by hulle aangesluit.

Die “bejaarde volksmoeders” het die versoekskrif aan genl. Jan Smuts se adjunk, minister JH Hofmeyr, oorhandig. Dié dokument het Smuts egter glad nie beïndruk nie en hy het dit afgemaak as “partypolitieke propaganda”.

Armstrong se hande het vir niks verkeerd gestaan nie.

Toe die Anglo-Boereoorlog in 1899 uitgebreek het, het sy as verpleegster by genl. Piet Joubert se kommando aangesluit. Sy het sewe reise met gewondes van Ladysmith in KwaZulu-Natal na Pretoria onderneem.

Met die Britse oorname van Pretoria op 5 Junie 1900 het sy na dié stad teruggekeer en ’n groep vrywillige verpleegsters wat in die Irene-konsentrasiekamp sou werk, georganiseer.

Sy het van April tot Oktober 1901 in die kamp deurgebring. In dié maande het sy dagboek gehou van haar wedervaringe. Armstrong was ook in dié tydperk bevriend met offisiere van die Britse besettingsmag en het inligting wat hulle vir haar gegee het deur kaptein JJ Naudé aan die Boereleiers in die veld oorgedra.

In 1904, nadat die oorlog tot ʼn einde gekom het, het sy ʼn stigterslid van die SAVF geword.

ʼn Jaar later het sy die deure van Armstrong-Berning-sentrum, ʼn reddingshuis vir ongehude moeders, oopgemaak.

In 1911 het sy die SAVF oorreed om die verwaarloosde kinderkerkhof by Irene op te knap en elke Goeie Vrydag ’n gedenkdiens en kranslegging daar te hou. Sy was ook ’n stigter van die Langlaagte-weeshuis vir oorlogsweeskinders.

Tydens die rebellie in 1914 was sy op ʼn hulpkomitee wat die rebellie-gevangenes van voedsel voorsien het. Twee jaar later het sy hand bygesit met die organisasie van ʼn vroueoptog wat amnestie vir rebellie-gevangenes bepleit het.

In dieselfde jaar was sy betrokke by die stigting van die Vroue-Nasionale Party waarvan sy ʼn hoofbestuurslid was.

Sy het hierdie einste party tydens die stigting van die Bond van Afrikaanse Moeders, een van die eerste opleidingsentrums vir vroedvroue in die land, in 1919 verteenwoordig.

In 1939 het Armstrong ʼn beroerte gekry en was sy genoodsaak om by ʼn familielid te gaan bly tot en met haar dood op 17 Oktober 1944. Sy is op 82 dood.

Sy is langs haar ma in die Ou Begraafplaas in Rebeccastraat, Pretoria, ter ruste gelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Groen Ghoen ·

Wat ‘n wonderlike voorbeeld van wat een mens met vasberadenheid kan uitrig! Kom ons eer haar nalatenskap en “doen dit self.”

Elna ·

Ons eie ryk geskiedenis! Opgeskryf en nie net opgemaak en saamgeflaans nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.