‘Het van Verlangekraal’ nou op RSG

Ansu Visser vertolk die rol van Het Heiberg, en Sally Campher vertolk die kameerol van Het se ma, Ragel. (Foto: Verskaf)

Johan Bekker se verhaal Het van Verlangekraal wat handel oor ʼn opstandige skoolmeisie wat in moeilike omstandighede grootword en talle probleme by die skool ervaar, word nou op RSG uitgesaai.

Het Heiberg (vertolk deur Ansu Visser) is een van nege kinders en die gesin leef in haglike omstandighede. By die skool is sy gedurig in die moeilikheid, maar die sorgsame Meneer du Plessis (met Pietie Beyers in die rol) en sy vrou, Mart (gespeel deur Estelle Terblanche), ontferm hulle oor haar.

Andre Stoltz kan gehoor word in die rol van die skoolhoof, Meneer Erlank, en Het se skoolmaats word vertolk deur onder andere Izel Bezuidenhout, Donovan Pietersen, Mari Molefe van Heerden en Lelia Etsebeth. Sally Campher, wat in 1985 die rol van Het gespeel het, vertolk die kameerol van Het se ma, Ragel.

Dié radiovervolgverhaal bestaan uit 40 episodes en is verwerk deur Leon van Nierop, wat ook die boek in 1985 vir televisie aangepas en aangebied het.

Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama, het van die begin af saam met Van Nierop gewerk om die radiovervolgverhaal te laat realiseer. Later het Ina Strydom ook betrokke geraak, raad gegee en gehelp om die projek af te handel.

Van Nierop sê tong in die kies dit was “een e-pos te veel” wat hom laat besluit het om weer lewe in dié verhaal te blaas.

“Die televisiereeks het destyds soveel opskudding veroorsaak en mense het die afgelope 30 jaar aanhoudend vir my gevra of ek dit nie weer wil opneem nie,” vertel hy in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Die vraag was egter in watter medium dit aangebied kon word, aangesien dit reeds vir televisie en die silwerdoek aangepas is.

Het van Verlangekraal is in 1963 in ʼn rolprent omskep en uitgereik met die titel Gee my jou hand. Dit is deur die Christelike Afrikaanse Rolprentfotografiese Organisasie (Carfo) vervaardig en Hannelie Swanepoel, Theunis Botha en Bettie Theron het die hoofrolle vertolk.

Vandaar die besluit om dit dié keer vir radio te verwerk.

“Ek het gedink dit sou ʼn maklike proses wees, maar dit het my drie maande geneem om ʼn boek op te spoor sodat ek die teks kon skryf.”

Die Nasionale Afrikaanse Letterkunde Museum en Navorsingsentrum (NALN) het eindelik tot Van Nierop se redding gekom met ʼn eksemplaar uit die museum se tweedehandse boekwinkel.

Van Nierop sê die verwerking was een van die moeilikstes wat hy nog aangepak het omdat hy slegs ʼn beperkte getal akteurs per episode kon gebruik en dialoog en karakters moes skep om die verhaal suksesvol vir die radio te kan aanbied.

Akteurs in die RSG-ateljee tydens die opname van ‘Het van Verlangekraal’. (Foto: Verskaf)

Het van Verlangekraal is een van die meer as 20 tekste wat Van Nierop al verwerk het, maar weliswaar ʼn verhaal wat hom besonder na aan die hart lê.

“Ek identifiseer in ʼn geringe mate met Het, omdat ek ook op skool daardie kind was van wie niemand regtig iets verwag het nie. Ek het ook ʼn onderwyser soos Meneer du Plessis gehad wat altyd vir my gesê het, ‘Jy gaan nog ver vorder’. Niemand anders het dit geglo nie, ook nie my skoolmaats nie.”

Het van Verlangekraal word weekmiddae om 14:45 op RSG uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Lillian

Ai, ek wens ek kon dit luister …

Psyggie

Ek wens ons kon die televisieweergawe weer sien.
Kan Kyknet nie vir ons ‘n plan maak nie?

Chantel

Ek geniet dit elke middag. Uitstekend