Maroela Media het in Oktober ʼn fotokompetisie gehou om ons lesers se mooiste foto’s van Jakarandabome te vind.
Ons het ʼn allemintige klomp foto’s ontvang van die kenmerkende Suid-Amerikaanse bome met sy pragtige pers bloeisels wat pryk oor die hele Gauteng tot in Pelgrimsrus, Polokwane en selfs in die Paarl.
Een ding was verseker, dit was beslis nie maklik om te besluit watter foto’s verdien ʼn geskenkpak van Maroela Media nie.
Uiteindelik is daar toe tog besluit dat Luiese Margaret Biendell, Andelle Schenach, Rassie Kotze, Kelsey McIntyre en Willem Landman elkeen ʼn geskenkpak vir hul besonderse foto’s sal ontvang.
Dit was ook verbasend om te sien dat selfoonkameras deesdae glad nie meer afsteek teen die groter en bekende kanonne nie. Dit was ook interessant om te sien hoeveel inskrywings ons van fotograwe met hommeltuie ontvang het.
Tog was dit duidelik dat ondervinding en ʼn goeie oog vir iets moois (soos ʼn Jakarandaboom) vanuit interessante hoeke steeds die meeste tel as dit by ʼn uitstekende foto kom.
Vir elke leser wat aan hierdie kompetisie deelgeneem het, baie dankie dat jy jou pragtige foto’s met die span van Maroela Media en ons lesers gedeel het.
Hier is ons keuse van die tien mooiste Jakarandafoto’s:
Hierdie foto van Rassie Kotze van Glen Marais in Kempton Park het ons beoordelaars behoorlik na hulle asems laat snak. Hy het dit met ʼn Nikon D7100 op 15 November 2016 geneem in ʼn straat agter Rosebank Mall. “Ek is ʼn deeltydse fotograaf wat fokus op troue- en kortfilms, maar niks kom darem by die mooiheid van die natuur nie.”
(Argieffoto: Riaan Cronje)
Louwrens Koen het sy Canon 760D gebruik om hierdie laan Jakarandas in Cullinan te kiek. Hy is ʼn amateurfotograaf wat hoofsaaklik portrette neem, maar ook so dan en wan landskappe en natuurfotografie beoefen. “Dié Jakarandafoto was ʼn vinnige mik-en-druk, want ek het toevallig my kamera by my gehad.”
Luiese Margarete Bienedell is ʼn 18-jarige tuisskoler van Gezina in Pretoria. Sy het haar foto met ʼn LG K10 selfoonkamera geneem. “Ek is nog ʼn beginner in fotografie, maar stel baie daarin belang. Op 21 Oktober was ek vir die eerste keer saam met ʼn groep mense van ʼn fotografiegroep in Pretoria en het hierdie foto geneem.”
Wit jakarandabome in Herbert Bakerstraat, Groenkloof, Pretoria (Foto: Ossewa/WikiCommons)
André Meyer van Randburg is ʼn derdejaar BCom-rekenkundestudent aan Tukkies en beoefen fotografie as ʼn ernstige stokperdjie. “Landskapfoto’s is my gunsteling en ek is mal oor die Jakarandatyd.” Hy het hierdie foto met ʼn Canon 6D en ʼn 16-35 mm F4-lens laatmiddag op 18 Oktober op die universiteitskampus geneem. Vir meer van sy werk kan jy sy Instagram-rekening besoek.
Sonya Olivier van Erasmusrand, Pretoria het hierdie foto met haar Sony DSC-HX400V in Brooklynstraat, Menlopark op 21 Oktober geneem. “Ek is mal oor my kamera en dra hom orals saam. Ek probeer die mooi in alles raaksien. Fotografie is ‘n lekker stokperdjie en behalwe vir die kamera, het jy nie juis geld nodig om dit te beoefen nie.”
“Ek is ʼn danser en ons was besig om foto’s te neem, toe besluit ek om hierdie skoot te neem,” sê Bokang Makate van Brooklyn. Hy het die foto met sy Huawei P10 Lite-selfoonkamera geneem op 27 Oktober buite die Sonop-koshuis.
Andelle Schenach van Meyerspark in Pretoria het hierdie besonderse foto met ʼn Nikon D700 in Oktober vanjaar geneem. “Ek doen fotografie as ʼn passie en ‘n werk en geniet elke oomblik daarvan, veral al as ek met klein kinders kan werk.”
“Ek is ‘n voltydse fotograaf – 10 jaar reeds in dié bedryf. Ek doen hoofsaaklik troues, maar hou ook baie van die leefstylfotosessies met families en gesinne. Jakarandatyd is altyd my gunstelingtyd van die jaar vir ‘n paar fotosessies in die strate van Brooklyn, en hierdie jaar was nie anders nie. Hierdie mooie Scottie-hond was deel van ‘n sessie, en ek moes haar net alleen afneem!” Hierdie is Elize Mare se foto wat sy met haar Canon 6D kamera op 20 Oktober in Maraisstraat, Brooklyn in Pretoria geneem het.
ondersteun maroela media só
Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.
Besonderse foto’s. Uitstaande. Dit is bykans heeltemal onmoontlik om uitsonderings te maak. Tog wil ek dié foto van Luiese Bienedell weer nadertrek om teen die muur op te hang. Geluk Luiese, jou talent behoort regtig ontgin en geslyp te word. Die foto van Riaan Cronje is regtig baie-baie uitsonderlik. Ook aan die ander fotograwe – dankie vir julle wonderlike foto’s. Dit behoort as gróót uitdrukke uitgestal te word sodat die publiek dit kan sien en koop.
So mooi ·
Dit is wonderlik om sulke prag vroeg in die oggend te ervaar.
Franciné ·
Ek lief Luiese Margarete se foto! Baie mooi
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
Besonderse foto’s. Uitstaande.
Dit is bykans heeltemal onmoontlik om uitsonderings te maak.
Tog wil ek dié foto van Luiese Bienedell weer nadertrek om teen die muur op te hang.
Geluk Luiese, jou talent behoort regtig ontgin en geslyp te word.
Die foto van Riaan Cronje is regtig baie-baie uitsonderlik.
Ook aan die ander fotograwe – dankie vir julle wonderlike foto’s.
Dit behoort as gróót uitdrukke uitgestal te word sodat die publiek dit kan sien en koop.
Dit is wonderlik om sulke prag vroeg in die oggend te ervaar.
Ek lief Luiese Margarete se foto! Baie mooi