Hier is Maroela se Somerbruid 2023!

Uitsig (Olifants River Lodge deur Dream Hotels and Resorts)

Dis ʼn groot voorreg om die liefde van jou lewe te ontmoet – en ʼn groter voorreg as julle trou aan mekaar kan beloof. Dis natuurlik heerlik om daarna, net julle twee, ʼn bietjie weg te breek vir ʼn wittebrood.

Met Maroela en Dream Hotels and Resorts se Bruid van die jaar-kompetisie is dit heerlik om ʼn tweede wittebrood weg te gee aan ons Somerbruid.

Maroela Media gaan met elke seisoen ʼn seisoenebruid aankondig en aan die einde van die jaar gaan ons lesers ook die geleentheid kry om die Bruid van die Jaar aan te wys.

Paartjies wat tussen Desember 2022 en Februarie 2023 getrou het, het vir die Somerbruid in aanmerking gekom. Uit honderde inskrywings moes ʼn beoordelaarspaneel behoorlik kopkrap en ons lesers kon uit die die top-10 Somerbruide hul gunsteling aanwys. Die Somerbruid dring ook uiteindelik deur na die finale ronde as Maroela se Bruid van die Jaar.

Ons Somerbruid

Marilize Janse van Rensburg

Baie geluk aan Marilize Janse van Rensburg wat op ʼn plaas buite Standerton woon, wat verreweg die meeste stemme in dié kompetisie gekry het! Marilize het ʼn dansskool in Standerton en boer met skape. Haar man Stefan is al die derde geslag op die plaas en boer met beeste, skape en braaikuikens. Hulle plant ook mielies en sojabone.

Marilize en Stefan het selfs nog voor hulle troue al ʼn paar sakke sout saam opgeëet.

Ná sewe jaar se wag kon Marilize uiteindelik die jawoord gee nadat Gizmo die huiskat amper met die verloofring om sy nek deur die “kitty door” wou ontsnap. Gelukkig het Stefan hom raakgeduik voor hy met die verloofring kon verdwyn.

Die paartjie het ʼn troudatum gereël vir 28 Maart 2020 en al die reëlings het glad verloop, totdat afsonderingsregulasies op 23 Maart 2020 ingestel is. Die troue kon nie meer voortgaan nie, en alles moes uitgestel word.

Stefan wou egter seker maak hy is getroud voor hy 30 jaar oud is.

“Op 6 Mei 2020 het ons saam in ʼn trekker gery en besluit Covid-19 gaan ons nie onder kry nie,” vertel Marilize. “Op 10 Mei 2020, op Stefan se 30ste verjaarsdag, is ons aan huis getroud. Slegs my skoonouers en ons dominee was teenwoordig.”

Hulle het ʼn tweede troudatum vasgestel vir 31 Oktober 2021. “Al die verskaffers was reeds betaal, en hulle was ons goedgesind om die datums aan te skuif.”

Dié datum het egter ook nie gerealiseer nie, want ʼn klein pienkvoet was op pad!

“Liewe Jesus het ʼn nuwe toevoeging tot ons familie gegee en Louwrens, ons fris bulletjie, is op 20 Januarie 2022 gebore.”

Die egpaar het vir ʼn derde keer probeer en die datum vir 4 Februarie 2023 gereël.

Die bruid moes darem in haar rok pas van drie jaar terug wat nog nooit gedra was nie!

“Die troureëlings het glad verloop. Ons sprokiestroue was in die mooie NG Kerk te Frankfort en by die trouvenue Siesta net buite Frankfort. Die trounaweek het uiteindelik aangebreek en alles het vlot verloop tot 3 Februarie 2023. Weens ʼn groot storm het ons familiebraai die Vrydagaand uiteindelik geëindig waar almal in ʼn gastekamer op die beddens gesit en eet het!”

Die groot dag 4 Februarie 2023 het aangebreek, en almal kon nie wag om saam met al die vriende en familie te kuier nie. Alles was op tyd en het goed verloop.

Al 100 gaste het teen 15:30 in die kerk sit en wag vir die bruid se aankoms – maar sy is laat. Die nuus word aan die bruidegom oorgedra dat daar ʼn probleem met die bruid se rok is…  en wat ʼn probleem was dit nie!

“Ek het aan my sussie gesê alles is nou gedoen, en sy kan net die ritssluiter van my rok optrek, dan is ons gereed om te ry. My woorde was skaars koud toe staan sy met die ritssluiter in haar hand en ek besef my rok is glad nie toe nie! ʼn Volle 20 cm-opening waarin al my gaste tydens die diens sal vaskyk … Netso ontaard die kalmte in die kamer in ʼn paniekerige chaos.”

Die hoofstrooijonker is genader om te kyk of hy dalk die ritssluiter kan herstel, maar dit is sonder sukses. “Hy maak nogal die aanmerking dat hy dele van sy skoonsussie sien wat hy nog nooit van tevore gesien het nie.”

Marilize sê nes in Aspoestertjie het die goeie fee, haar skoonma, opgedaag. “Sy het ʼn naald en garing gevra om dié naaldwerkprojek te kan bemeester. My buurvrou het gehelp en sy het my van bo tot onder toe in die rok in vasgewerk. Só is die rok eksieperfeksie en 20 minute laat, maar die bruid het by die kerk aangekom!”

Marilize sê sy was in die bevoorregte posisie dat haar twee pa’s haar in die kerk in gebring het. “Eerste my stiefpa, wat my aan my pa oorgee, en hy wat my weer oorgee aan Stefan.”

Die dominee het dit onder hulle aandag gebring dat daar, vanaf 10 Mei 2020 – ons plaastroue aan huis – tot en met 4 Februarie 2023, ʼn volle 1 000 dae verloop het.”

Voor die onthaal is die troufoto’s op die familieplaas net buite Frankfort geneem waar Stefan se oupa as kind grootgeword het.

Marilize en Stefan Janse van Rensburg

“Ons het so lekker saam met ons vriende en familie op die onthaal gekuier. Ons het al so lank uitgesien na hierdie dag. Dit was vir my ʼn baie spesiale oomblik toe ons die dansbaan kon open, aangesien dit die eerste keer in drie jaar was wat ek en my man weer kon dans. Hy het ʼn groot rugoperasie gehad en moes weer van vooraf leer loop.

ʼn Verdere uitdaging was die Sondagoggend om tweeuur om die bruid uit haar rok te kry. “Stefan moes by een van sy vriende ʼn knipmes gaan leen het om sy bruid uit haar rok te kry!”

Marilize sê hulle het uit hierdie ervaring met ʼn troue van niks en ʼn troue met alles weereens besef dat die troue met al die blomme en kos nie belangrik is nie, maar wel jou liefde en omgee vir mekaar.

“Die drie jaar wat verloop het, het ons huwelik net sterker gemaak.”

Wat wen die Somerbruid?

Marilize en Stefan twee nagte vir twee persone wat deel by die Olifants River Lodge (insluitend ontbyt) in die Middelburg-omgewing in Mpumalanga met die komplimente van Dream Hotels and Resorts.

Baie geluk!

Maroela se Bruid van die Jaar-kompetisie

Dream Hotels & Resorts het seker gemaak daar is groot pryse, ter waarde van byna R60 000, op die spel. Ons gaan elke seisoen ʼn seisoenebruid aankondig en aan die einde van die jaar gaan ons lesers die geleentheid kry om die Bruid van die Jaar aan te wys

Ons gaan deur die loop van die jaar ook ʼn Herfsbruid (troues in Maart – Mei 2023), Winterbruid (troues in Junie – Augustus 2023) en Lentebruid (September – November 2023) aanwys. Hou dus Maroela dop as jy wil seker maak jy skryf vir dié opwindende kompetisie in!

Jy staan met die stemmery vir elke seisoenebruid telkens kans om ʼn wonderlike prys te wen – bly dus ingeskakel!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.