Hier is Maroela se Superma!

Het jou ma supersoniese gehoor om te weet wanneer die kinders met kattekwaad besig is? Het sy oë agter haar kop wat kan sien wat op die agtersitplek van die motor gebeur? Is sy so besig om altyd haar gesin en ander mense te help dat jy soms wonder of sy dalk meer as twee arms het? Is haar liefde só onvoorwaardelik dat jy soms wonder of haar hart so groot soos ʼn passasierskip is? Dís wat Maroela Media wou weet in ʼn baie spesiale Moedersdagkompetisie vanjaar.

Die inskrywings het ingestroom en ons moes omtrent kopkrap om uiteindelik die wenner uit dié klomp ma’s te kies. Daar was inspirerende verhale van ma’s wat, ondanks talle uitdagings en siekte, steeds sterk bly staan, steeds hul kinders en ander eerste stel en steeds ʼn groot inspirasie bly. Dis ma’s wat beskryf word as “ʼn hart van goud”, “ʼn ma duisend”, “ʼn ystervrou” en selfs ʼn ma “met ʼn cape van engelvlerke”.

 

Marietjie Bothma en haar gesin (foto verskaf)

Wenner

Uit al dié inskrywings het die 14-jarige Unicka se boodskap uitgestaan en haar ma, Marietjie Bothma van Schweizer-Reneke in Noordwes, is as die wenner van die Superma-kompetisie aangewys. Só skryf Unicka:

My mamma is baie baie cool!
Sy werk baie hard vir ons en sy sal haar lewe vir ons drie dogters opoffer.
Sy is baie vrygewig, Desember 2017 het my mamma mense op die pad gekry wat ʼn trok as ʼn huis gehad het en sy het laat hulle die hele Kersfees saam met ons laat deurbring. Hulle was omtrent nege mense sy het vir hulle elkeen ʼn geskenk gekoop.
En ek dink sy is super: sy werk elke dag hard in die polisie (lt.kol.) en sy sal eers ander help voor sy aan haarself dink … haar polisiestasie is nie verniet 3de beste in die land nie! Sy maak baie lekker kos, sy gee sulke lekker drukkies.
NA AL MY MAMMA SE HARTSEER STAAN SY NOG STEEDS VAS: ek het kanker gehad toe ek een jaar oud was (2005) en my mamma staan nog steeds.
My pappa is dood in 2006 en sy staan nog steeds (Sy’s darem weer getroud met die beste man ooit)
Albei my sussies kry epilepsie en my mamma staan nog steeds
EK DINK NIE ENIGE MAMMA SOU DIT KON DOEN NIE
#ekDinkSomsSyIsSUPERWOMAN

Prys: Marietjie wen ʼn fotosessie vir haar en haar gesin ter waarde van R3 000 by ʼn professionele fotograaf.

 

Natashja Jooste en haar twee seuns (foto verskaf)

Tweedepryswenner:

Die 14-jarige JT Wessels van Secunda in Mpumalanga het sy ma, Natasjha Jooste ingeskryf en Natasjha wen die tweede prys in dié spesiale kompetisie. Só skryf JT:

My ma is ʼn superhero en haar superpower is “die Oog”. My boetie is ses en ekke veertien en my sussie een. En my ma se power werk op ons almal. Sy laai ons af in die oggend en as ons raserig is of met mekaar fight dan wys sy “die Oog”. My boetie van ses is baie stout en haar oog werk tot op hom; die oog maak jou lyf lam en jou ore warm. Sy kan baie goed in een dag doen: sy kan kos maak, skoon maak en wasgoed was en by my krieket wees en ons almal betyds by die skool optel; sy kan alles doen op een slag terwyl sy my sussie vashou en dan het sy tyd om te baklei oor my skoolskoene nie gepolish is nie. Sy is baie streng, maar ek kan haar enige ietsie vra en ek weet sy sal dit doen, partykeer doen sy almal se huiswerk en bêre my pa se skoene. En sy kan dit alles doen en haar superpower gebruik. My ma verdien al die pryse in die wêreld en ʼn goue medalje as sy na my boetie kan kyk en hulle al twee lewe nog. Liewe koerant, ek het die beste mamma met die meeste geduld van al die mammas wat ek ken en sy het die bangste oog.

Prys: Natasjha wen ʼn baie spesiale gebedskussing en ʼn pakkie boeke met Christelike leesstof.

 

Marjean Rabe saam met Mijon en Maike (foto verskaf)

Derdepryswenner:

Eluan Rabe van Pretoria in Gauteng het sy vrou, Marjean Rabe, ingeskryf en sy wen die derde prys in dié kompetisie. Só skryf Eluan:

My vrou, ma van twee pragtige dogtertjies, is deur en deur ‘n superma. Tydens haar eerste swangerskap was sy bitter siek en het tog die lewe geskenk aan ‘n pragtige gesonde dogtertjie. Mijon was 3 maande oud toe ons inderhaas van Botswana na RSA moes jaag met galstene – deur dit alles het sy Mijon omvou met liefde. Tydens haar tweede swangerskap was sy nog sieker, maar het ten alle tye gesorg dat pappa en Mijon versorg word. Maike is gebore, nadat mamma vier keer tydens die swangerskap opgeneem was in die hospitaal. Maike was 3 maande oud toe mamma weer moes ingaan teater toe om ʼn vergroeisel op haar baarmoeder te laat uitsny. Mamma het geen rustyd gehad nie, want Mijon en Maike verg al mamma se aandag en liefde – mamma het nie een keer gekla nie. Maike is op 8 maande opgeneem met die RS-virus en mamma slaap elke aand bitter min saam met Maike in die hospitaal, sonder om te kla oor enige iets. Mamma Zaan, soos Mijon haar noem, gee liefde en alles wat nodig is aan ons twee liefies, sonder perke, wyl sy nog aandag gee aan haar loopbaan as werwingspesialis … en aan haar man. My vrou en ons dogtertjies se mamma is ‘n SUPER MA! Ons yster vrou!

Prys: Marjean wen ʼn pakkie boeke en CD’s met Christelike inhoud.

Baie geluk aan al dié ma’s en baie dankie vir al die mammas wat regter supervroue is – ons wens ons kon julle almal beloon!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SNEL ·

So baie superma’s daar buite. Pragtige briewe. Die wenbrief het mens eintlik n knop in die keel gegee…sy staan nog steeds. So baie hartseer in hierdie gebroke wêreld en mense wat net voort moet veg, maar ja, ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Lieflike briefie en jou ma kan trots wees op so oulike dogter, glo jy is n steunpilaar vir jou superma.

Linda ·

Baie Geluk aan die wenners, maar 97% van ons is in eie reg ook n Super Mamma !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.