‘Hier is my hand’

René Roux van Helpende Hand. (Foto: Verskaf.)

In ʼn wêreld wat gekenmerk word deur mense wat mekaar veroordeel, lyk dit soms of daar nêrens ʼn plek is waar mense saamwerk om mekaar te help nie. Daar is egter ʼn manier waarop ons almal kan help om hierdie situasie te verander. Dit is deur iemand jou hand te bied en hom of haar te help.

Hoe belangrik is dit om jou hand te bied om iemand te help? Dit is soms die een gebaar wat iemand se lewe kan red. Dit is soms die enigste manier om iemand se hele siening van die samelewing radikaal te verander. Soms is daardie hand wat gebied word die enigste hand wat verstaan waardeur jy gaan.

Wanneer jy jou hand bied om iemand te help, toon jy nie net dat jy omgee nie, maar ook jou toewyding aan en liefde vir ander mense. Jy wys dat jy bereid is om jou tyd, energie en liefde te gee om iemand te help.

Wanneer jy jou hand bied en iemand help, dra jy ook by tot ʼn meer liefdevolle en positiewe gemeenskap. Deur net jou hand te gee, help jy om die gemeenskap sterker te maak, mense se lewens te verryk en hulle te inspireer om die beste van hulself te gee.

By Solidariteit Helpende Hand is die hand wat ons bied soms ʼn studiegeleentheid vir ʼn jong student wat dit anders nie sou kon bekostig om te gaan studeer nie. Soms hou die hand ʼn bord kos vas, en soms, in my veld by Helpende Hand, bemagtig die hand ʼn vrou om haar plekkie in die samelewing te vind. Ons maatskaplike werkers se hande is vol liefde, empatie en volhoubare uitkomste.

Die hand wat ons uitvoerende direkteur, Hannes Noeth, bied is leiding en pastorale bediening. Soms bied ons personeel ʼn hand wat net saggies op die skouer van ʼn eensame bejaarde se skouer land om liefde oor te dra. Die hand wat aan ons behoeftige kinders gebied word, maak vir hulle ʼn voorspoedige toekoms in Suid-Afrika moontlik. Die hand wat ons uitsteek na persone met gestremdhede, dra liefde oor en maak hulle sterker om saam met ons te veg teen die onregte wat teen hulle gepleeg word.

Ons jaartema vir 2023 is “Hier’s my hand”. Dit is nie net om ʼn bestuurstafel uitgedink om die jaar se projekte te kan beplan nie; dit bevat ʼn dieper boodskap en vra van elke personeellid om ʼn keuse te maak. Ons dink graag terug aan Christa Steyn se lied “Hier’s my hand” en ons sing die lied hardop en getuig dat ons hande oop is om te dien, om volhoubare oplossings te bied deur opvoeding, opleiding, ontwikkeling en ondersteuning.

Christa Steyn (Foto: Eie werk – pierneefteater.co.za via Wikimedia Commons)

Christa Steyn sing: “En hier’s my hand. Neem my hand, my vriend, deel my lewe; deel die son, deel die lig waarvoor ons vra. Neem my hand, my vriend, deel met my daardie vrede wat elkeen van ons in ons dra”. In Helpende Hand leef ons hierdie woorde uit en steek ons hand uit en getuig dat ons wil dien en dat ons ʼn daadwerklike verskil wil en kan maak. Die lied herinner ons ook aan die krag wat mense het as ons saamstaan.

Die maatskaplike agteruitgang wat alle Afrikaners (ryk en arm, manlik en vroulik, jonk en oud) in die gesig staar, is ʼn geweldige uitdaging. Niemand gaan vir ons die maatskaplike landskap verander as ons dit nie self doen nie. Ons kan nie wag totdat ander vir ons die antwoorde gee nie; ons moet dit in ons gemeenskappe soek, want dit bestaan reeds daar.

In ons gemeenskappe moet elke kind ʼn toekomsvisie hê; elke ouer moet ʼn toekoms kan bou vir sy gesin; alle bejaardes moet hulle wysheid en hoop met die gemeenskap kan deel, en elke persoon met gestremdhede moet waardig behandel word en hulself kan uitleef.

Jy kan help om ʼn positiewe verskil in ander se lewens te maak. Hoe meer mense hul hande bied om ander te help, hoe sterker sal die goeie gesindhede en liefde in ons gemeenskappe groei. Die wenresep lê in ʼn sterk struktuur met baie helpende hande, en dit is wat Helpende Hand so besonders maak in die maatskaplike veld waarin ons in Suid-Afrika beweeg. Ons struktuur bestaan uit 13 streke, meer as 200 takke, meer as 120 Ons Winkels (skenkingswinkels), 8 Ons Sentrums vir ons kinders, maatskaplike werkers wat landswyd diens lewer en 40 000 ondersteuners. As ek aan Helpende Hand dink, sien ek hierdie strukture se hande; ek sien hoe hulle hand uitsteek na mekaar en na hulle medemens en saam, hand-vir-hand, ʼn volhoubare verskil maak.

Dit is als goed en wel om te sê: “Hier’s my hand”, maar dit gaan nie help as jy nie ook iets dóén nie. Ek nooi jou uit om Helpende Hand hierdie jaar dop te hou. Want net soos ons al die jare vantevore reeds het, gaan ons hierdie jaar weereens vorentoe tree, optree, intree en die konsep van selfdoen uitleef in ons opvoeding, opleiding, ontwikkeling en ondersteuning. Ons sê: “Hier’s my hand, ek wil help om maatskaplik gebaseerde gemeenskapsontwikkeling in ons land te bevorder deur om te sien na ons mense se holistiese welstand”.

Ons, as kinders van God, het ʼn interne begeerte om ander te help. Jy kan ook jou hand bied. Daar is soveel plekke waar jou hart en hande ʼn tuiste kan vind by Helpende Hand. Ons is ʼn familie wat saamstaan en saamwerk. Word deel van ons sterk strukture en sluit aan by jou naaste tak, daar in jou eie gemeenskap, en maak ʼn verskil daar waar jy bly. Ons nasionale projekte bied talle opsies waarby jy betrokke kan raak; ons Studietrust het jou nodig om ons jeug die land in te stuur met ʼn vooruitsig op ʼn toekoms; ons kinders, bejaardes en persone met gestremdhede in die Afrikaner-kultuurgemeenskap smag na jou hand.

Hier is my hand as mamma, vrou, vriendin, suster en bruid van God. Ek bied myself sodat die Here deur my ʼn verskil kan maak.

Waar is jou hand?

Word deel van die familie wat se hande vir niks verkeerd staan nie.

Gaan loer op ons webtuiste by www.helpendehand.co.za hoe jy jóú hand kan bied.

  • Rene Roux  is adjunk-uitvoerende hoof van kommunikasie en woordvoerder by Solidariteit Helpende Hand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.