Hilux-wenner groet studentemotor

Bianca Southon is onlangs as die wenner van Virseker se Beter in ʼn Bakkie-kompetisie aangewys. (Foto: Verskaf)

Al prys wat Bianca Southon nog in haar lewe gewen het, was dubbelkaartjies vir ʼn konsert van The Script toe hulle in Suid-Afrika opgetree het.

Groot was haar verbasing toe sy onlangs as die wenner van Virseker se Beter in ʼn Bakkie-kompetisie aangewys is.

“Toe ek die oproep kry, het ek eers gedink Virseker bel my oor een of ander kwotasie, maar toe kry ek die goeie nuus dat ek die wenner is,” vertel Southon. “Ek het seker 50 keer gevra of dit die waarheid is, want ek was net heeltemal uit die veld geslaan.”

Southon, wat in Vredehoek, Kaapstad woon, is nou dansky Virseker en kykNET die trotse eienaar van ʼn blinknuwe Hilux Raider 2.4 GD6 4×4-model ter waarde van R609 500.

Dié 30-jarige mediese wetenskaplike wat by die Groote Schuur-hospitaal en Universiteit van Kaapstad werk, kan nou uiteindelik haar studentekarretjie wat sy al vir meer as tien jaar ry, groet.

“Die nuwe bakkie gaan ʼn groot verskil in my lewe maak, want ek het ʼn behoefte gehad aan ʼn groter en stewiger voertuig. Ek is ongelooflik dankbaar vir dié groot seëning wat oor my pad gekom het,” sê Southon.

Sy het dadelik haar kêrel, Francois, haar ouers en broer gebel om die goeie nuus met hulle te deel. Southon sê: “Hul verbasing was net so groot, en hulle het gedink ek terg hulle.”

Volgens Southon is dit haar tweede probeerslag om met die louere in ʼn Virseker-kompetisie weg te stap. Sy het verlede jaar vir Virseker se Stofopskop-kompetisie, waar ʼn Renault Duster op die spel was, ingeskryf, maar die geluk was egter nie aan haar kant nie.

Southon is opgewonde oor die avonture wat voorlê en duisende kilometers wat sy nog met haar bakkie gaan aflê.

“As ek vandag die langpad kon aandurf, sou ek koers gekies het al langs die kuslyn na die Etosha Nasionalepark in Namibië. Sjoe, dit sal ’n belewenis wees!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.