Hoe lojaal is jou lojaliteitsprogram?

Verbruikers het dikwels meer kaarte vir lojaliteitsprogramme as wat hulle plek in hul beursies het. Maar is dit die moeite en geld werd om hierdie kaarte te gebruik? En word jy beskerm teen uitbuiting wanneer jy lid is van ʼn lojaliteitsprogram? Ina Opperman verduidelik hoe die Wet op Verbruikersbeskerming jou beskerm.
Sy gee ook raad oor lojaliteisprogramme om te sien of dit regtig die moeite werd is.

Wat sê die Wet op Verbruikersbeskerming?

Artikel 1 van die Wet bepaal ʼn lojaliteitskema is ʼn skema wat verbruikers krediete of belonings aanbied vir ʼn transaksie, terwyl artikel 35 dit duidelik maak dat lojaliteitskrediete of belonings so goed soos geld is wanneer jy dit aanbied as betaling vir goedere of dienste. Niemand mag krediete of belonings aanbied vir deelname aan ʼn lojaliteitskema as hulle nie beplan om die aanbod te vervul of dit op ʼn ander manier te bied nie.

Die Wet vereis dat die aanbod om deel te neem aan die lojaliteitskema duidelik moet aandui wat die aard van die program , krediet of beloning is en wat jy moet doen om deel te neem en die voordele te ontvang. Dit moet ook die besonderhede gee van wie jy kan kontak om toegang te kry tot die program, krediete of belonings, asook die datum, plek en tyd.

Die maatskappy wat die program aanbied en die verskaffers wat deel is daarvan, moet verseker die goedere of dienste is beskikbaar om aan ʼn billike aanvraag te voldoen en mag nie die vermoë om die goedere of dienste te verskaf, beperk nie. Die maatskappy en verskaffer moet voldoende krediete aanvaar as betaling en mag nie van jou verwag om goedere of dienste van laer gehalte te aanvaar nie.

Hulle mag ook nie eis dat jy betaal vir die administrasie,prosessering en hantering van die transaksie as jy betaal om deel te wees nie en mag nie eis dat jy ander goedere of dienste koop wat met die transaksie verband hou nie.

Die verskaffer mag egter die beskikbaarheid beperk indien jy ten minste 20 dae voor die beperking in werking tree, daarvan ingelig word, maar dit kan nie vir meer as 90 dae van die jaar geld nie, sodat verskaffers nie voordele kan bied wat nooit eintlik beskikbaar is nie. Indien ʼn verskaffer nie die goedere of dienste kan lewer nie, kan hy reël dat ʼn ander verskaffer ʼn redelike hoeveelheid binne ʼn billike tydperk aanbied, of jy dit aanvaar of nie.

Banke

Beloningsprogramme het ʼn algemene manier vir banke geword om waarde te voeg by hul aanbieding sodat dit meer mededinginend kan wees. Banke belowe verskeie voordele, soos 15 persent van jou geld terug as jy jou bankkaart gebruik om petrol in te gooi, maar kyk jy na die voorwaardes is dit soveel moeite om die volle voordeel te ontvang, dat mens wonder of dit die moeite werd is. Jy moet gewoonlik ledegeld betaal om aan een van hierdie programme deel te neem en jy moet maar besluit of die geld die voordeel werd is. Onthou ook dat net besteding wat ‘kwalifiseer’ tel vir die voordeel en dus sal transaksies soos OTM-onttrekkings nie tel nie. Dit is beter om te kyk na bankkoste om voordeel te trek uit waar jy bank.

Winkels

Verskeie winkels het lojaliteitsprogramme, maar hulle is almal so verskillend dat mens hulle moeilik met mekaar kan vergelyk. Wanneer jy gereeld by ʼn bepaalde winkel koop, sal dit dalk jou moeite loon om te kyk wat die lojaliteitsprogram wat beskikbaar is alles bied en wat jy moet doen om daarvoor te kwalifiseer.

Winkelprogramme gee jou gewoonlik sowat 10 sent vir elke rand wat jy bestee, wat beteken jy moet R1 bestee vir elke 10 000 punte en jy kan gewoonlik net 10 000 per transaksie gebruik. Verskeie transaksies word ook uitgesluit. As jy baie transaksies doen, soos om weekliks kruideniersware te koop, kan dit jou dalk baat om jou kaartjie te gebruik, maar as jy die winkel een keer per maand besoek, sal jy dalk nie soveel voordeel daaruit trek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek gebruik my lojaliteitskaarte of koop bv op ‘n sekere dag van die week by ‘n bepaalde winkel om voordeel te trek uit dieverskillende stelses. Baie winkels bied afslag op ‘n sekere dag en dan koop ek ook op ‘n koopkaart (rekening) van ‘n sekere groep waarvoor ek ingeteken het om sodoende TWEE afslagte te bekom. Ek klink baie vaag maar doen maar navraag.

E.K. ·

Vir my werk net Clicks, DisChem, PicknPay (AS ek wel die dag by hul moet koop omdat ek iets benodig en hul toevallig die naaste winkel is) en dan Woolies waarby ek geld kan skenk aan een of ander welsynorganisasie van my keuse. DisChem is die lekkerste want sonder moeite kan jy enige tyd van jou punte sommer by die betaalpunt gebruik. Jy hoef nie eers by ‘n masjien vooraf (PnP) te gaan “swipe” nie. Meeste ander is geldmaakfoefies, veral die banke s’n glo ek. Te veel voorwaaardes en dinge voor mens dit kan gebruik dan stel ek nie belang nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.