Hoe lyk Afrikaans in jou dorp? Hier is die wenner

Pieter Koen het die toeskouers op sy kenmerkende manier by die Dorp van die Jaar-makietie vermaak. Pieter is hier saam met die wenner van afrikaans.com se “Hoe lyk Afrikaans in jou dorp?”, Truida Genis van Hoopstad (Foto verskaf)

Truida Genis: Sy leef in Afrikaans.

Truida Genis (42) van Hoopstad is die wenner van die R10 000 in Afrikaans.com se kompetisie, “Hoe lyk Afrikaans in jou dorp?”

Truida is ongetroud en woon saam met haar grys straatkat en ’n sagmoedige groot Deense hond. Sy bedryf haar eie onderneming, maar sê sy wag in spanning dat een van die vele eiers in die entrepreneursmandjie binnekort in ’n goue eier gaan verander.

Haar passie is nog altyd haar medemens wat met vandag se lewe sukkel of bloot net ʼn hupstoot nodig het in die regte rigting. Sy het veral ʼn sagte plek in haar hart vir kinders. Truida het ’n B Prim Ed-graad.

Truida sê sy kan nie regtig iemand of iets uitsonder wat haar passie vir Afrikaans aangewakker het nie, maar sy weet net dat sy poog om nog ten volle te lééf in haar taal!

Wat is dit van Afrikaans wat haar bekoor en so passievol daaroor laat skryf?
“Ek leef met passie in my taal. Ek lag in Afrikaans, ek huil in Afrikaans en ja ek vloek ook in Afrikaans as die Bokke verloor. Dit is vir my ʼn groot uitlaatklep om in my taal te skryf en my gedagtes te laat uitborrel. Ek dink die beste beskrywing vir die gevoel, is soos daai lang, aanloklike leerbank by die sielkundiges in films – as ek skryf, maak my hart vanself oop.”

Haar gunstelingplek is haar sussie se wildsplaas buite Hoopstad teen die Vaalrivier. Hier is waar sy graag gaan kuier om net weer al haar “kop-eiers in een mandjie te kry”. Die pragtige sonsondergange met die kameeldoringbome op die agtergrond is ook eie aan haar dorp en iets wat haar baie na aan die hart lê.

Haar gunsteling- Afrikaanse woord?
“Smartvraat (omdat dit mense wat van opdraande hou so mooi saamvat).”

Truida Genis van Hoopstad, wenner van afrikaans.com se “Hoe lyk Afrikaans in jou dorp?-kompetisie (Foto verskaf)

En wat van Afrikaans is vir haar #onmisbaar?
“Met geen twyfel nie … my Afrikaans se vermoë om aan te pas. As ek dink waar Afrikaans vandaan kom tot waar Afrikaans hom vandag bevind, kan ek net stil raak en respek toon vir die taal se doelgerigte vooruitgang en suksesvolle groei ná ’n uitdagende verlede.

“Ek is sommer opgewonde oor die toekoms van my taal as ek kyk na die sukses van TV-produksies soos Kwêla en Die Boekklub, kalm musikante soos Kaleidoskoop en baanbrekers soos Karen Zoid, asook die sukses van Afrikaanse rolprente en akteurs wat kan meeding met Hollywood-sterre en -films. Om nie te praat van die webtuiste afrikaans.com se uitstekende pogings om ons taal nog vurig en hedendaags te hou deur opwindende bemarkingspogings nie.

“My pap hart word ook net nog papper as ek op Erfenisdag in Mall of Africa in Midrand rondloop en ʼn dame komplimenteer met haar eg tradisionele drag. ‘Jy lyk so mooi.’ Sy antwoord my met die grootste glimlag in ‘n gebroke aksent: ‘Baie dankie!’ Sy het my verstaan en dit waardeer. Dit was spontaan en beide se intensie was hartlik, want ons almal hoort hier.”

Truida sê sy het hoë verwagtinge vir Afrikaans, want “opgewonde Genis” droom nog in Afrikaans. Dit is moeilik vir ons jeug om positief te bly en ʼn toekoms te sien. Ek moedig almal aan om op te hou smartvrate wees en net ten volle in Afrikaans te leef.

Daar is plek vir ons almal onder hierdie een son … alles is volmaak gemaak en in ons keuseryke hande gelaat vir vooruitgang. Dis ʼn keuse … dit is jou ware geloof.

Só lyk haar inskrywing:

Tydens die tjekoorhandiging by die Kwêla Dorp van die Jaar-makietie wat op 7 Oktober in Mosselbaai gehou is. V.l.n.r.: Dirk Kotzé, uitvoerende burgemeester, Mosselbaai, wenner Truida Genis, en Ingrid Erlank, redakteur van afrikaans.com (Foto verskaf)

Hoopstad: Jy praat nog altyd my moedertaal …

Afrikaans in my dorp … Hoopstad bring my herinneringe, my wortels en waar ek myself tans weer bevind. ‘n Afrikaanse bekendheid, nie net my praattaal nie, my lag-, huil- en reistaal, wat jou terugbring waar jou siel begryp en nie noodwendig spreektaal regverdig nie. Dis ‘n harmonie van reuke van omgeploegde lande met ‘n rooigrondhorison na ‘n welverdiende somer-donderbui. ‘n Junievakansie se speel in ‘n vrag witmielies en biltong maak. Die sandsteenkerk ‘n rusplek van helde, verryk met my moeder se as en Japie Greyling se beeld. Hoërskool Hoopstad-atletiek is die plek waar sweet, pannekoek, jaffels en Deep Heat ten volle sin maak in een omgewing. Tyd snel verby en jou volwasse reis bring jou terug na Hoopstad. Met ongesegde leemtes plant jy weer wortels in, gee rivierwater en hoop vir genade van ouds. Jy bevind jouself in ‘n grootmens-gesprek wat baie sin maak in jou taal. My “taaldorp”, ek skryf vir jou ‘n hartsbrief. ‘n Huldeblyk van helde, party geval en ander aan die vet kant van die lewe. Dankie vir die reis en die vreugdes van liefde wat wag. Jy praat nog altyd my moedertaal …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lynette ·

Ek hoop daar is volgende jaar wéér so ‘n kompetisie, want dan skryf ek ook mý dorp in – Paarl, die dorp van die Afrikaanse Taal, waar Afrikaans trots tot stand gebring is deur die Afrikaanse Patriotte en die Afrikaanse Taalbeweging, waar die Afrikaanse Taal Monument trots teen die blou granietberge van “Het Peerl” uitstaan (die einste Taal Monument wat vandag 42 jaar gelede geopen is) – ek sal Hoopstad skoon onder ‘n hoop stof inskryf! Net jammer ek het nie van dié kompetisie vanjaar geweet nie ………

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.